Parlement-brand: ʼn Jaar later

(Foto: RODGER BOSCH/AFP)

Daar sal later die week meer inligting bekendgemaak word oor die herbou van die parlement nadat dit presies ʼn jaar gelede tydens ʼn vernietigende brand ernstig beskadig is.

Die herbouprogram, die tydraamwerk en moontlike koste daaraan verbonde, sal na verwagting die week tydens ʼn mediakonferensie bekendgemaak word.

Enoch Godongwana, minister van finansies, het in Oktober verlede jaar bekendgemaak dat nagenoeg R2 miljard begroot is om die parlement te herbou en dat ʼn verdere R118 miljoen bewillig is vir tussentydse hervestigingskoste en om vir die bouwerk voor te berei.

Zandile Christmas Mafe word daarvan beskuldig dat hy die verwoestende brand by die parlementêre kompleks gestig het. (Foto: Gianluigi Guercia/AFP)

Daar is ook in Oktober bekendgemaak dat die parlement nou sy eie ondersoek na die veiligheidskendings gaan doen wat tot die brand gelei het. Die parlement se adjunksekretaris, Baby Tyawa, is voorkomend geskors hangende die ondersoek.

Groot skade is onder meer aan die Ou Raadsaal en die gebou wat die Nasionale Vergadering huisves aangerig toe daar op 2 en 3 Januarie verlede jaar ’n groot brand by die parlementêre kompleks in Kaapstad uitgebreek het. Verskeie vergadersale, komiteevertrekke en byna 500 kantore is verwoes.

Maroela Media het vroeër verlede jaar berig herstelwerk aan geboue wat tydens die brand beskadig is, gaan minstens drie jaar neem om af te handel.

Zandile Christmas Mafe is kort ná die brande aangekeer en staan tereg op aanklag van huisbraak met die doel om ʼn brand te stig, brandstigting, terrorisme en diefstal. Die saak teen hom duur steeds voort en hy moet einde van die maand weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Samuel ·

Die herstelwerk aan parlementsgebou sal so lank moontlik sloer. Geen erns by ANC om die skade te herstel nie. Baie praat. Absolutely NoConsequences

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.