Parlementêre staf, tapisserie spring vlamme vry

Die ampstaf is sonder enige skade uit sy veilige bergplek gehaal. (Foto: parliament.gov.za)

Hoewel die omvang van die brandskade aan die parlementêre kompleks in Kaapstad enorm is, heers daar dankbaarheid dat die ampstaf van die Nasionale Vergadering nie in die voorval beskadig is nie.

Die museum, wat talle waardevolle kunswerke asook die Keiskamma-tapisserie op die grondverdieping van die Ou Raadsaalgebou huisves, is ook ongeskonde.

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn brand Sondag by die parlement uitgebreek en skade ter waarde van honderde miljoene rande aangerig het.

Die staf ʼn “belangrike simbool”

“Die ampstaf is sonder enige skade uit sy veilige bergplek gehaal. Dié staf is ʼn belangrike simbool wat die gesag en sitting van die Nasionale Vergadering bevestig. Die stafdraer dra die ampstaf in die kamer in en kondig die aankoms van die speaker van die Nasionale Vergadering aan.

“Dit dui daarop dat die huis formeel in sitting is en dat sy verrigtinge amptelik is. Die staf is ontwerp om die geskiedenis, tradisies en diverse kultuur en tale van Suid-Afrika te weerspieël. Die ontwerp vier ook die land se natuurskoon, plant- en dierelewe en ryk minerale hulpbronne,” het die parlement Woensdag in ʼn verklaring gesê.

Die nuwe staf wat sedert 2004 gebruik word, is 1,1 m lank en weeg 9,8 kg. Aan die kop van die staf is ʼn trom van 18 karaat goud wat met springbokvel bedek is. Bo-op die trom is ʼn goue boek wat die voorrede tot die Grondwet bevat.

Afbeeldings van Suid-Afrikaners wat met hul daaglikse sake doenig is, pryk ook op die trom – waaronder ʼn mynwerker, argitek, onderwyser, dokter, bouer, sokkerspeler, ʼn vrou met ʼn baba op haar rug, een wat ʼn trekker bestuur en ʼn huiswerker. Dansende San-figure word op die goue nek van die staf uitgebeeld.

Die skag is van aluminium gemaak en ingelê met kersie- en bokshout. Die bokant van die skag word omring deur ʼn band van 18 karaat goud met ses swart en ses wit halfkaraatdiamante daarin.

Kralewerk van die Suid-Afrikaanse vlag verskyn ook op die staf.

“Die speaker is dankbaar dat die staf gered kon word aangesien die herskepping daarvan baie moeilik sou gewees het.”

Die Keiskamma-tapisserie

Groot brandskade is aan die palementêre kompleks aangerig. (Foto: Stad Kaapstad)

Die Keiskamma-tapisserie vertel ʼn Suid-Afrikaanse storie – in kralewerk, velle en borduurwerk – vanuit die perspektief van gewone mense.

Dit is 112 m lank en 70 m hoog.

Vroue van die Keiskamma-kunsprojek, ʼn gemeenskapsinisiatief en niewinsgewende organisasie in Hamburg aan die oewer van die Keiskammarivier in die Ngqushwa-streek van die Oos-Kaap, het hierdie kunswerk gemaak.

“Dit is ʼn kragtige simbool van ons Volksraad. Dit demonstreer ons ondersteuning vir vrouebemagtiging en plaaslike inisiatiewe.” Die tapisserie is in 2006 op Internasionale Vrouedag, 8 Maart, onthul.

Verrigtinge gaan voort 

Intussen het die parlement aangekondig dat die staats- en begrotingsrede asook ander programme volgens beplanning sal voortgaan. Verdere besonderhede oor waar en hoe hierdie gebeure sal plaasvind, sal binnekort bekendgemaak word.

Die brand blyk in dié stadium heeltemal in bedwang te wees en geen verdere voorvalle is Woensdag aangemeld nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

Al wat vir die ANC van belang is, is items wat ná 1994 in die parlement beland het. Die ou kunsskatte wat nie verbrand het nie, sal tydens die ondersoek ea vinnig voete kry. Die parlementêre staf is ‘n vreemde konkoksie wat mag en oorname verteenwoordig… nie ontwikkeling en samehorigheid nie. Net die Mount Nelson-hotel se glorie sal naastenby goed genoeg wees vir dié bedorwe groep se tydelike parlement wat seker ook miljarde kan beloop totdat die nuwe goue troonkamers gereed is oor 5 jaar.

Tanniepetoors ·

Kan iemand vir Blade Nzimande die betekenis van die ontwerp van die ampstaf gaan verduidelik asseblief. Die San het nie uit die see verrys nie en man op die trekker het sekerlik nie vir die ANC gewerk nie.

Di ·

Ek is verbaas dat hierdie goed nie al lankal “verdwyn” het nie. Sekere mense sal mos enige iets smous vir geld. Heg GEEN waarde aan enige iets nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.