Partye vra raad voor konvensie

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto’s: Twitter)

Die ses partye wat belangstelling toon in ’n sogenaamde pakt-regering ná volgende jaar se verkiesing, nader nou leiers oor ’n breë spektrum om voorstelle in te dien in aanloop tot hul nasionale konvensie.

Die DA, VF Plus, IVP, ActionSA, die United Independent Movement (UIM) en die Spectrum National Party (SNP) bied volgende week saam ʼn nasionale konvensie aan waartydens die moontlikheid van ʼn pakt-regering bespreek sal word.

Dié partye het briewe aan burgerlike organisasies oor ʼn breë spektrum gestuur waarin die organisasies uitgenooi word om skriftelike voorstelle rakende die proses in te dien en waarin die partye bevestig dat hulle van voorneme is om ná die nasionale konvensie met die organisasies in verbinding te tree vir verdere gesprek oor die aangeleentheid.

Die organisasies se skriftelike insette sal waarskynlik “aan die begin” van die konvensie bespreek word.

Die partye het Maandag in ’n gesamentlike verklaring gesê hul leiers gee erkenning aan die deurslaggewende rol wat die burgerlike samelewing speel te midde van die regering se mislukking.

“Dit word eweneens besef dat beduidende politieke verandering in ons land nog nooit uit die geledere van politieke partye alleen ontstaan het nie, maar slegs deur ’n breër deursnit van die samelewing wat saamwerk om verandering te weeg te bring.

“Die politieke verandering wat Suid-Afrika nodig het, sal ’n vennootskap met NRO’s, dinkskrums, georganiseerde arbeid, die sakewêreld, geloofsgebaseerde organisasies en vele ander nodig hê.”

Maroela Media het vroeër berig opposisiepartye en politieke kenners is dit eens dat daar tans geen enkele politieke party is wat die ANC op sy eie kan onttroon nie.

Sommige het egter hul bedenkinge uitgespreek of ’n pakt-regering kan werk aangesien koalisies van nature baie ingewikkeld is en daar tans ook geen konkrete wetgewing rakende koalisies bestaan nie.

John Steenhuisen, leier van die DA, het egter vroeër gesê die voorgestelde Moonshot-pakt bied opposisiepartye die heel beste kans om die ANC te ontsetel, die EFF uit mag te hou en ’n meerderheid van 50% plus 1 te behaal om ’n stabiele nuwe regering tot stand te bring.

Kommer bestaan egter dat die kleiner partye in die pakt oor die vermoë beskik om die pakt te destabiliseer, aangesien die groter partye nie alleen ’n 50%‑meerderheid sal kan verseker nie.

Al die kwessies sal na verwagting volgende week op die konvensie bespreek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

André ·

Dit mag dalk werk. Maar hierdie partye moet ‘n aksie plan hê teen die ANC se vuil spel. Vir een; die “mosie van wantroue” moet verander sodat dit nie as ‘n wapen deur die ANC en trawante gebruik kan word nie, maar wel wanneer daar ‘n onbevoegde persoon in ‘n pos is. Dus kan die “mosie van wantroue” nie sonder bewyse geroep word nie

Jaco ·

Voordat almal nou te onthou net die volgende: die regerende ZANU-PF in Zimbabwe het al die opposisie-MDC toegelaat om ‘n plaaslike regerings oor te neem. Selfs Harare was op ‘n stadium onder MDC-beheer (terloops, die MDC het toe dadelik nuwe motors vir al die raadslede gekoop). Maar toe die MDC die nasionale verkiesing in 2008 gewen het, het ZANU-PF die weermag en polisie ingestuur en eenvoudig geweier om regering aan die MDC oor te gee. Dieselfde gaan in SA gebeur as dié”pakt” die 2014-verkiesing sou wen. Die ANC en die EFF sal saamstaan en die weermag en polisie instuur om te keer dat dié “pakt” die regering oorneem.

Johan ·

Bedoel seker 2024 verkiesing en nie 2014 nie. Nietemin, jy het n punt beet, maar op hierdie stadium is dit ons beste (dalk enigste) opsie om van die huidige onbevoegde bewind ontslae te raak. Ongelukkig is die amptelike opposisie nie sterk genoeg om alleen die anc uit te skop nie. Volgende jaar gaan n interessante verkiesing wees!

Chris ·

Dit klink na ‘n baie goeie idee wat die potensiaal het om te werk. Die grootste bydraende faktore wat die droom kan laat skipbreuk lei is,
1. Gierigheid
2. Eie gewin
3. Magsbeheptheid
4. Ego’s.
Om ‘n party/alliansie/bende te stig om die huidige regime te onttroon is hulle klaar op die verloor pad. Jy stig nie net ‘n teenvoeter vir die huidige nie, jy stig ‘n organisasie met ‘n alternatief/oplossing vir die huidige. Dit help nie jy hamer en skree oor die totale mislukking van die struikrowers nie. Nie al die mense in die land is onnosel nie. Kom met ‘n werkbare alternatief na die kieser toe. En stel mense aan wat kundig is.

piet ·

Hulle het te min stemme, sal dit maak nie. Selfs al kry die ANC minder as 50%, sal die ANC met die EFF saamwerk.

Wakkerslaper ·

Hierdie is vir my as ‘n Belydende Christen wat nog altyd VF-Plus (‘n Christelike party) gestem het, wêrklik ‘n groot probleem…. God se Woord gee duidelik opdrag dat Gelowiges nie in dieselfde jeuk as die ongelowiges mag trek nie. So hoe nou gemaak? Eerder God se opdrag uitvoer en buite stemming bly?

Republikein in die Wes Kaap ·

Dit is ‘n gebedsaak. Jy moet eerder buite stemming bly. Om saam met ander gelowe te werk sal nie vir jou werk nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Corne Mulder en Leon Schreiber het gister op Pretoria FM gedebateer. Die DA beskou die EFF as die grootste vyand denkbaar. Die VF Plus reken die EFF is geen gevaar. Die DA weier om met die PA en Clayton Mackenzie saam te werk. Die VF Plus beskou die PA as ‘n belangrike vennoot. Die Moonshot Pak is gedoem.

annie ·

Die belaglikste twak wat die DA probeer wat glo Steenhuisen is ‘n briljante leier, hyself meer as almal. Die ANC wag vir die sirkus. Groot tweespalt of meer, sal juis die ANC bevoordeel. Kyk maar. Dis ongelooflik dat Afrikaners so dom kan wees om saam te speel. Ons kort ‘n nuwe party.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.