Pensioene is ‘heilige geld’

Solidariteit waarsku dat hy nie gaan toelaat dat sogenaamde pensioenkaping plaasvind nie. (Argieffoto: pixabay)

Solidariteit het die uitsprake rakende pensioenfondse en voorgeskrewe bates van die minister van finansies, Tito Mboweni, en sy eweknie by die departement van openbare ondernemings, Gordhan Pravin, ten sterkste veroordeel.

Albei minister het vroeër aangedui dat hulle te vinde is vir ʼn plan waar pensioengeld gebruik word om sukkelende staatsinstellings te befonds. Mboweni het selfs voorgestel dat private pensioene ook gebruik moet word en nie net die staatspensioenfonds nie.

“Sulke uitsprake van ʼn regeringsamptenaar is net roekeloos. Dit veroorsaak paniek onder alle werkers wat nie gaan toekyk hoe hulle spaargeld in wanbestuurde staatsinstellings gegooi word nie. Daar is geen verantwoordbaarheid nie en die maklike opsie is nou pensioene, ” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, Vrydag gesê.

“Pensioengeld is heilige geld: Dit is ʼn leeftyd se spaargeld. As jy hierdie geld plunder, steel jy iemand se oudag. Dit is moreel verkeerd en ons sal dit met alles in ons beveg.”

Die vakverbond Cosatu het aanvanklik voorgestel dat die staatspensioenfonds gebruik word om Eskom se skuldlas te verlig. Solidariteit sê Mboweni se voorstel dat alle pensioene, eerder as net die staatspensioenfonds, hiervoor gebruik moet word, is niks anders as voorgeskrewe bates soos destyds deur die apartheidsregering toegepas nie.

Dirk Hermann. (Foto: Reint Dykema)

“Indien die regering wil hê pensioenfondse moet in staatsinstellings belê, is die oplossing eenvoudig: Maak staatsinstellings aantreklike beleggings. Dan sal mense toustaan om te belê en hoef jy hulle nie met wetgewing te dwing nie,” sê Hermann.

“Alhoewel pensioenkaping ʼn groot bekommernis is, was daar nog niks tasbaar van die regering nie. Daar word net roekelose uitsprake gemaak, maar dit word nooit aan enige plan verbind nie. Dit dui op ʼn regering wat desperaat hoop ons hou op weerstand bied dat hulle kan toeslaan.

“Ons durf nie gaan lê nie. Ongelukkig vir hulle is Solidariteit vlugvoetig in ons strategie om pensioenkaping te bestry. Ons het onsself vierkantig tussen die regering en jou spaargeld geposisioneer en ons gaan nêrens nie,” sê Hermann.

Solidariteit hou Dinsdag ʼn blitsseminaar waar ʼn bespreking sal wees oor wat die regering mag doen en hoe so ʼn plan gestuit kan word.

“Ons kan nie toelaat dat die ANC ons toekoms steel om vir hulle verlede te betaal nie. Ons kan ook nie toelaat dat Suid-Afrika die pad van Zimbabwe stap solank ons bestaan nie,” sê Hermann.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Onnie ·

Mooi so Dirk Herman en baie baie dankie! Weet iemand dalk waar Dirk uithang? Ek sal graag vir dai man n Bell’s wil koop!!!

Nie Verbaas ·

Solidariteit het ons volle ondersteuning. Ek sal nie verantwoordelik gehou word om wanbestuur en plunderaars se skuld te help delg nie.

Nell ·

Die spul is geld-bedot en hulle gulsigheid kan net eenvoudig nie versadig word nie. Die spul sal eers ophou die die dag as daar NIKS in Suid Afrika oor is om te plunder nie.

Johanncb ·

Hopelik sal Solidariteit die nodige regstappe neem om die Staat van ALLE pensioene weg te hou!

Johan Venter ·

Eersten sal mens die ANC regering in godsdiens moet onderrig en daarna aan hulle verduidelik wat heilig beteken.

Johan Venter ·

Moreel verkeerd, soos apartheid ook moreel verkeerd was?

FM ·

Hou julle gulsige hande van verantwoordelike mense se pensioen af!!!!!!! Daar is die oorgrote meerderheid waarvoor die (staat) sorg. Hierdie mense het voorsiening gemaak. LOS UIT!!!!!!!

Annakapat ·

Ons het vandag ‘n skrywe ontvang van NFMW dat die geld wat hulle wil vat net onopgeeiste pensioene is ter waarde van R42 biljoen. Blykbaar nie van toepassing op aktiewe pensioenfonds lede nie… Maar kan mens dit glo?

Strandloper ·

Mooi so Solidariteit dit is n riem onder die hart om te weet julle staan op vir ons regte.

Cherokee ·

Nou wag ek vir die Pravin Gordhan-aanhangers. Daar is van ons mede-kommentators wat die stroopsoetste komplimente aan hom uitgedeel het en selfs al baniere geswaai het vir hom as president. Elke keer het ek julle vertel hy is bloot net ‘n lid van die anc uit Umkhonto we Sizwe se jare. Afrikaanse komplimente vir Gordhan het opgedroog en ek het so skewe glimlag daaroor.

Johan Venter ·

Vir klomp jaar al sou ek dit waardeer het as die FinMIn, wanneer hy die begroting lewer, dit met erns benader terwyl hy dit aflees, minder grappig wees as hy die verhoogde syfers aankondig, vir ons wat dit vir oorlewing bevrees laat, plaas dat sy lyftaal dieselfde ingesteldheid weerspieël as ek wat voor die TV sit en hoogs bekommerd is oor hoe ek en die familie met ‘n huppel in die stap en met dieselfde vreugde waarmee hy dit spitsvondig aangekondig het, die volgende jaar gaan oorleef.

Die empatie?

En dan raak hy na dit tyd sulke wyshede kwyt soos per hierdie artikel. Dis asof iemand die dolk wat hy in my gesteek het, so ‘n ekstra draai gee.

Lizzy ·

Baie dankie, dat julle moeite doen om ons pensioen geld te beskerm. Het vir 38 jaar lank skool gehou. Geniet my pensioen. Sien werlik nie kans om weer van voor af te begin nie. Is dankbaar vir wat julle doen. Waardeer.

Stof ·

Ouma Hannie het ons altyd aangemoedig om ‘n trommeltjie onder die bed te hou.
Kort na die eerste elektroniese bankdienste ingestel is, is sy oorlede. Haar trommeltjie, was sterk genoeg om nie net haar laaste paar lewensjare te dek nie, maar ook haar laaste groet se kostes.
Viva trommeltjie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.