Peperduur en vrotsig gebou – dís hoekom paaie uitmekaar val

(Argieffoto: GroundUp)

Suid-Afrika se paaie val uitmekaar en die skuld hiervoor kan nie op e-tol gepak word nie, maar moet voor die deur van die regering se versuim om dit in stand te hou, gelê word.

Wayne Duvenhage, hoof van die drukgroep Outa, het teruggekap na die minister van vervoer wat vroeër gewaarsku het daar is nie meer geld om die land se paaie in stand te hou nie. Fikile Mbalula voer aan dat geld wat nodig is om paaie in stand te hou, gebruik moes word om skuld te diens wat opgebou is weens die mislukte e-tol-projek.

Duvenage sê Mbalula is “fundamenteel verkeerd” en dat sy verduideliking vir Suid-Afrika se “skokkende en verslegtende padtoestande misleidend en ongegrond is”.

Die tesourie het die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) die afgelope ses jaar sowat R14 miljard gegee om op te maak vir die skuldbriewe van die Gautengse hoofwegverbeteringsprojek, sê Outa. Sanral het sedert 2010 ook groot bedrae geld van die tesourie gekry vir paaie waar tolgeld nie gehef word nie.

Dit het van R5,7 miljard in 2010 tot R17,3 miljard verlede jaar toegeneem, onder meer omdat Sanral verskeie belangrike paaie oorgeneem het wat die provinsiale owerhede nie kon bestuur en in stand hou nie.

“Die werklike kwessie van ons verslegtende padnetwerk hou nie verband met nasionale en tolpaaie wat Sanral in stand hou nie. Ons probleem is op provinsiale‑ en plaaslikeregeringsvlak, waar die tesourie se toewysings en die geld wat munisipaliteite invorder nie behoorlik bestee of bestuur word wanneer streek- en munisipale paaie gebou en in stand gehou word nie,” sê Duvenage.

“In baie gevalle, indien nie die meeste nie, is padbouwerk en instandhoudingsprojekte op plaaslike‑ en provinsialeregeringvlak heeltemal te duur en gaan dit gepaard met vrotsige werkstandaarde deur kontrakteurs wat nie behoorlik bestuur word nie.”

Talle slaggate in ‘n pad op Frankfort in die Vrystaat. (Foto: AfriForum)

Jane Cowley, ʼn DA-lid van die provinsiale wetgewer in die Oos-Kaap, het dié stelling vroeër ook gemaak en sê ʼn tender van R98,5 miljoen is toegeken vir bouwerk aan ʼn pad van 6,7 km lank.

Die provinsiale standaard vir die opgradering van bestaande landelike paaie is rofweg R11,6 miljoen per kilometer, veel hoër as die nasionale standaard, sê Cowley. Interne padopgraderingswerk is gewoonlik veel goedkoper en beloop gemiddeld tussen R5 miljoen en R6 miljoen per kilometer.

By die Enoch Mgijima- plaaslike munisipaliteit blyk dit hierdie bedrag beloop klaarblyklik ʼn goeie R14,7 miljoen per kilometer.

Dit is nie ʼn verrassing nie, sê Cowley, want hierdie is dieselfde munisipaliteit wat R15 miljoen opgedok het vir die Lesseyton-sportstadion wat bestaan uit ʼn rowwe grasveld, ʼn paar lyne kalk, stukkende rugbypale en ʼn kleedkamer sonder elektrisiteit of spoeltoilette.

Die Kouga-munisipaliteit – wat onder DA-beheer val – bestee sowat R3 miljoen per kilometer aan paaie. “Dit is belaglik. Belastingbetalers verdien om te weet hoe hulle swaarverdiende geld gemors word en diegene verantwoordelik daarvoor moet aanspreeklik gehou word,” sê Cowley.

Outa sê die probleem is ʼn gebrek aan leierskap, deursigtigheid en verantwoordbaarheid op provinsiale en plaaslike vlak en dit moet hoofsaaklik die skuld kry vir die land se verslegtende padnetwerk.

“Robuuste en deursigtige verkrygingspraktyke en betekenisvolle oorsig van vakmanskap skiet te kort.

“Kaderontplooiing en onbevoegdheid het bygedra tot die probleem van gebrekkige finansiële dissipline en aanspreeklikheid,” sê Duvenage.

Hy waarsku dat talle teerpaaie na grondpaaie omgeskakel gaan word as Mbalula nie iets daaraan doen nie. LUR’e moet verantwoordelik gehou word en geld wat vir padinfrastruktuur toegewys is, moet behoorlik bestee word.

Duvenage sê die ernstige probleem met slaggate en sogenaamde beurtpaaie sal aanhou om die land te teister en ʼn al hoe groter las word tot swak presterende amptenare en kontrakteurs die trekpas kry of hul werk begin doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Ansie ·

BEE is een van die grootste oorsake van geldtekort en swak werk. Tenders word nie toegeken aan maatskappye wat die kennis en ondervinding het om die werk te doen nie, maar aan maatskappye wat goeie BEE-punte en/of vriende in hoë plekke het. Bevoegdheid en finansiële doeltreffendheid tel geen punte nie.

AW ·

Ja Nee, dit weet meeste mense !!

Werklik onaanvaarbaar, maar nou ja, dis nou maar die Werklikheid in SA.

Kobus ·

Fikile Mbalula , jy verstaan nie jou eie portefeuelje nie. Tolgeld het niks met paaie instandhouding te doen nie. Nou pas jy die beginsel van “rob Paul to pay Peter” Jou groot geraas maak jou blykbaar ‘n hero ,maar jy het beslis nie in idee wie en wat moet vir wat betaal nie. Taxi operateurs staan nou ook bakhand. Hulle gaan hulle sin kry want solank jy almal wat wil plunder paai is julle stemme veilig.

Samuel ·

Die tenderpreneurs is almal kaders en het nie die nodige kundigheid nie. Baantjies vir boeties.

Nettie ·

Die mense wat op die paaie werk het geen ondervinding van paaie teer nie.

Chantel ·

Absoluut waar. As mens net kyk hoe dit herlê word, spreek dit vanself.

Swerwer ·

Mooi! En wie moet ons bedank! Die Regerende Party! ANC
Hul vat ‘n land met oorvloed van melk en heunig, ongelukkig
verbrand hul dit deur moord, misdaad, vernietiging, leuns en diefstal.
Val hard en wend alle pogings aan om die laaste drupel heuning gou
te lek voor totale ineensorting.

Madz ·

Gee vir ons “besoekers van SA” ons eie stukkie land en ons sal SELF sorg…. Aangesien ons nie hier hoort nie volgens MALema…

Pietertjie ·

Die foto by die berig wys nie slaggate nie. Dit wys totale disintegrasie van die pad-struktuur.

Nommer 7 ·

BEE padbouers wat net “over the shouder” opleiding gehad het.

PieterJ ·

Te danke aan die anc het ek so verhard, ek geen nie meer ‘n duit om vir my medemens nie. Ek moet te veel baklei en sukkel om na my eie gesin en ons toekoms om te sien.

Martin ·

BEE is niks anders as omgekeerde rassisme nie, almal weet dit maar niemand het die vrymoedigheid om dit te sê nie! Ek word gedwing om oorsee in die buiteland te werk – nie vir die geld nie maar om kos op die tafel te sit en om my Eskom rekening te betaal waarvan ek soms in die donker moet sit omdat my regering nie ruggraat het nie en net omgee vir sekere mense… Ek het my voertuig onlangs beskadig omdat ek deur ‘n gat in die middel van ‘n teerpad gery het, dit het my duisende Rande se skade beloop wat ek moes self die skade betaal uit my eie sak. Ons regering moet asb wakker skrik want hulle woorde kom nie by hulle dade uit nie “Our government is rolling out a labour intensive road construction and maintenance programme”. Toe word hulle koffie koud.

Johan ·

Goeie voorbeeld van swak gehalte en beplanning is die R75 tussen Port Elizabeth en Uitenhage. Skaars twee jaar terug geopen en robots buite werking, reëlings afgery en vol brsndplekke waar die mense tyres gebrand het

Johann ·

My nominasie vir DIE HOOF ANC NAR! Fikielie! Onbesonne onbevoeg en lieg homself uit elke hoek in n sirkel uit. Nog nie EEN departement waar hy die main konyn was of selfs net n handhie in die til.en vreet krippe gehad het, het herstel van sy patetiesgeid nie.

annie ·

Maar daar is geld vir sy geliefde spoorweë. Die twee afdelings is te veel vir ons voormalige sportbaas. Die twee soorte vervoerbane is uiters verwarrend. Een klomp vervoermiddels ry op spore en die ander maak spore. Dalk moet die oompie ook maar spore maak… Hy aspireer juis vir die pos as adjunk-Cyril. Gaan oefen, Sir.

Boer ·

Is daar nie geld by een van die 10 belasting heffings op die petrol prys veronderstel om die paaie instand te hou nie?

Gerhard ·

Hoeveel rand per liter brandstof betaal ons aan belasting wat gebruik moet word vir instandhouding van ons paaie. Gaan werk bietjie uit wat se geld praat ons van hier per dag…

Paaie in Mpumalanga word tot in die fondasie beskadig deur oorlaaide vragmotors en dan ook groot getalle vragmotors op paaie wat nooit vir die verkeer gebou is nie.

Al hoe om dit reg te maak is om van voor oor te bou wat nie gaan gebeur nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.