Perde veilig maar beeste, skape nié

Groot kommer heers oor die tekort aan entstof teen Afrika-perdesiekte. (Argieffoto: StockSnap)

Hoewel perde-eienaars nou kan asemhaal nadat entstof teen Afrika-perdesiekte weer beskikbaar gestel is, staar ʼn krisis steeds ander veeboere in die gesig.

Suid-Afrika se landbousektor ondervind steeds ʼn tekort aan diere-entstowwe vir siektes soos slenkdalkoors en bloutong. Verskeie organisasies en politieke partye soek al geruime tyd oplossings vir die entstofkrisis.

“Druk wat gewone Suid-Afrikaners op die regering oor die kwessie geplaas het, het gehelp dat ons ʼn klein stryd in die groter oorlog gewen het,” sê Gideon Joubert, ʼn direkteur by die organisasie DearSA.

Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) het in Mei aangedui dat hy die entstof kan vervaardig en lewer aan maatskappye vir herverkoop aan perde-eienaars – net betyds vir die inentingstydperk in Junie.

Volgens Joubert het die skaarsheid van die entstowwe ʼn uiters negatiewe uitwerking – nie net op die welstand van diere en die verspreiding van siektes nie, maar ook op die land se voedselketting en voedselsekerheid.

Volgens die DA het rooivleisboere vrektes van 50% onder hul skaapkuddes aangemeld weens die onbeskikbaarheid van die bloutong-entstof. Boonop is slangkenners bekommerd oor ʼn tekort aan polivalente slangteengif, wat vertragings van minstens ses maande se teengifvoorraad veroorsaak.

Die polivalente teengif word deur Suid-Afrikaanse entstofprodusente (SAVP) vervaardig. Die voortgesette produksie-agterstand by SAVP het gelei tot tekorte aan teengif by gesondheidsfasiliteite, asook by veeartse. Die probleem word deur beurtkrag vererger.

“Die ontwikkeling van al hierdie entstowwe en teengif is deur die Suid-Afrikaanse belastingbetaler betaal, so dit behoort openbare eiendom te wees.”

Volgens Joubert kan bekwame en gewillige private vervaardigers die ramp wat die land in die gesig staar, oplos en hulle moet lisensies en permitte kry om belangrike entstowwe in te voer of te vervaardig.

“Die nasionale regering moet die struikelblokke verwyder wat private vervaardigers betref. Anders sal die gevolge van die entstofkrisis ʼn regstreekse uitwerking op ons landbou-ekonomie en die land se voedselsekerheid hê.”

DearSA het ʼn aanlyn veldtog begin waar Suid-Afrikaners standpunt oor die krisis kan inneem. Die DA het ook verlede maand ʼn petisie van stapel gestuur oor die probleem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Di ·

DIT is die gevolge van ‘n onbevoegde Regering wat alles en almal wil beheer. Ons land het verval in riool status vandat die spul alles beheer

Amelia ·

As ons net die belasting geld kan terughou of betaal aan iemand wat nie korup is nie

Di ·

Dink ons almal vra dieselfde vraag. Huidiglik is daar nie ‘n uitweg totdat die spul letterlik uit die stoele gelig word nie.

Impact ·

Ag ons is so in ons peetjie in, so ‘n onbevoegde regering met vet gesmeerde staatslui in duur motors en huise…………….

Ann ·

Ag flippet. Hulle het gekry ja, maar nie genoeg vir die aanvraag nie! Dis wèèr uit voorraad! So wag ons maar weer …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.