Lede van Kaapstad-polisie se honde-eenheid het Dinsdagaand reageer op ʼn klagte oor ʼn onaangename reuk by ʼn huis in Rondebosch-Oos en het ondersoek ingestel.
“Beamptes het omstreeks 21:30 die huis in Vyfdelaan genader waar daar ʼn sterk reuk en die reuk van wierook was,” het sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, gesê. “Hulle het op die perseel op ʼn onwettige perlemoenprosesseringsfasiliteit afgekom.”
In ʼn kamer langs die kombuis was daar verskeie houers vol perlemoen met kastrolle en oondplate wat aan ʼn gassilinder verbind is. In ʼn ander vertrek in die huis was rakke waarop perlemoen uitgedroog word. In nog twee kamers was daar sakke en kratte vol uitgedroogde perlemoen. Wierook is in die huis gebrand, vermoedelik om die reuk te verbloem.
Nog toerusting, soos gassilinders, droograkke, vrieskaste, ʼn skaal en sakke sout is in buitegeboue op die perseel gevind.
“Twee mans, onderskeidelik 21 en 37 jaar oud, is in hegtenis geneem. Daar is beslag gelê op perlemoen met ʼn geraamde straatwaarde van R8 miljoen,” het Rwexana bygevoeg. Die mans sal na verwagting Donderdag in die Athlone-landdroshof verskyn.
Hier is n gemors aan die gang. Dit moet onder die aandag van Groen bewaring kom. Daagliks word ooglopend aan die kus geplunder en iewers maak stropers geld. Mense wat die stropery aan die lig moet bring word 10 teen 1 betaal.
Moes hulle honde inroep?
Waarom? mense het die reuk dan van die straat geruik?????