Perlemoensmokkelaar sterf toe hy van polisie wou vlug

(Foto: Verskaf)

’n Perlemoenstroper is dood toe hy van die polisie probeer weghardloop en voor die sleepwa van ’n verbygaande vragmotor beland het.

Twee van sy vermeende makkers is in hegtenis geneem.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê Cookhouse se hoofwegpolisie was Sondag laataand op patrollie op die N10 toe twee voertuie hulle aandag getrek het: ’n Audi Q5 en ’n Chevrolet Spark. Die polisiebeamptes het die voertuie probeer voorkeer, maar die insittendes het weggejaag.

Die Audi Q5 is eindelik net buite Cookhouse voorgekeer.

In hierdie stadium het die bestuurder van die voertuig uitgespring en teen die sleepwa van ʼn verbygaande vragmotor vasgehardloop.

Hy is op die toneel dood.

Twee ander verdagtes is op die toneel in hegtenis geneem nadat 43 sakke (4 785 eenhede) perlemoen met ’n geraamde straatwaarde van R3,8 miljoen in die voertuig gevind is.

Die Chevrolet Spark is later verlate op die Cradock-pad gevind.

(Foto: Verskaf)

Naidu sê die twee verdagtes wat in hegtenis geneem is, sal na verwagting binnekort in die landdroshof op Somerset-Oos verskyn op aanklagte van die onwettige besit en vervoer van perlemoen.

’n Saak van strafbare manslag word ondersoek wat die ongeluk op die N10 betref.

Genl.maj. Zolani Xawuka, bevelvoerder van die Sarah Baartman-polisiëringsgebied, sê perlemoensmokkelary is ’n groot bekommernis.

Xawuka het Cookhouse se hoofwegpatrollie geloof vir hul waaksaamheid en intuïsie om die voertuie agterna te sit.

“Perlemoenstropery kan ʼn beduidende negatiewe uitwerking op dié bedreigde spesies hê; pogings om die betrokkenes vas te trek is van kardinale belang. Deur perlemoenstropers aan te keer, handhaaf ons amptenare nie net die wet nie, maar stuur hulle ook ʼn streng boodskap dat onwettige bedrywighede soos hierdie nie geduld sal word nie.”

(Foto: Verskaf)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johan ·

Daar word nie genoeg gedoen om hulle te stop nie. Waar is die kingpins hulle wat die opdrag gee moet ook aan die pen ry.

Hendrik ·

Dit is baie duidelik dat hd strooptogte wat in ure moet gebeur tog baie sigbaar moet wees. Waar is die toesighoudende liggaam wat hier verantwoordelik is. Vind hd stropery in vaste areas plaas of teen die hele kus so volop? Wat van kamaras in bepaalde areas? Wat gebeur met gestroopte perlemoen. Word dit slegs weggegooi om te verrot of is daar iewers n finansiele bate?

Philip ·

Ai ek hoop die leepwa is oraait nadat die skelm daarin vasgehardloop het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.