Permitte bekom om droogtehulp by boere af te laai

(Foto verskaf deur Boere Droogtehulp SA NPC)

Die droogtehulporganisasie, Boere Droogtehulp SA NPC, het permitte bekom om tydens die afsonderingsperiode, as gevolg van die Covid-19-pandemie, steeds voer na Kenhardt in die Noord-Kaap te vervoer.

Die organisasie sou op 27 Maart met sowat 60 trokke en 25 bakkies met sleepwaens voer, kos, water en ander benodigde in Kenhardt aflaai om verligting te bring aan die boere wat ná agt jaar steeds in droogte boer. “Ons moes ongelukkig die aflewering uitstel weens die afsonderingstydperk,” het die organisasie in ʼn verklaring gesê.

“Die droogte is in dié stadium ‘n groter kopseer vir ons boere as wat die virus is. Die boere sukkel om te oorleef en vee vrek daagliks. Boere Droogtehulp SA NPC het dit dus goedgedink om steeds met die aflewering voort te gaan, maar net op ‘n wettige manier en so veilig as moontlik vir almal betrokke.”

Die organisasie het die nodige permitte bekom en Saterdag die eerste twee vragmotors gelaai. “Die twee vragmotors is reeds op pad na Kenhardt en laai Sondag die voer af. Ons sal volgende week nog drie vragmotors laai. Ons sal voortgaan tot al die voer, wat ons met die groot konvooi wou aflewer, in Kenhardt afgelewer is.”

Die organisasie gaan ook die hospitaal in die omgewing bystaan met die nodige mediese toerusting.

“Boere Droogtehulp SA NPC help tans ook die Dierebeskermingsvereniging, die publiek wat voedseltekorte het, ouetehuise en ander organisasies.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

en more vat daardie selfde regering wat die permitte gegee het, daardie boere se plase af as deel van onteiening sonder vergoeding…

Eerlik ·

Dis wonderlike nuus!! Ja, Jaco, al ooit gewonder hoekom die staat nie droogte hulp verleen aan daardie boere nie, hulle verwag dat daardie boere gaan opgee en net vrywilliglik sal oorhandig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.