Phalatse weier om aftog te blaas

Dr. Mpho Phalatse (Foto: Facebook)

Dr. Mpho Phalatse gaan sake nie daar laat nadat sy Vrydag in ʼn haastige mosie van wantroue as burgemeester van Johannesburg uitgestem is nie.

Phalatse sê nou sy wil haar so gou moontlik na die hof wend “om die korrupte kliek wat die mag in Johannesburg onregmatig oorgeneem het te ontwortel en aan inwoners hul wettige en regmatige regering te herstel”.

Die ANC se Dada Morero is Vrydag tydens ’n buitengewone raadsvergadering in Phalatse se plek tot burgemeester verkies nadat Phalatse haar vergeefs tot die hooggeregshof gewend het in ’n poging om dié raadsvergadering as onwettig te verklaar.

’n Totaal van 139 van 145 raadslede het eindelik gestem om die mosie van wantroue in Phalatse te aanvaar wat daartoe gelei het dat die Stad Johannesburg in die ANC se hande beland het.

“Ons erken nie en verwerp die besluite van daardie onwettige vergadering,” sê die voormalige DA-burgemeester nou.

Phalatse stel dit ook duidelik dat daar hoegenaamd geen wig tussen haar en haar party is nie.

“Daar is geen verwydering tussen my en die DA-leierskap nie. Trouens, ons is verenig in ons strewe om Vrydag se onwettige daad ongedaan te maak en die Johannesburg se veelparty-regering te herstel.”

Maroela Media het vroeër berig Vrydag se raadsvergadering is belê kort nadat die Patriotic Alliance (PA) Woensdag saam met die ANC gestem het en Colleen Makhubele tot speaker van die Johannesburgse metroraad verkies is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.