ANC vat Johannesburg

Vrydag se buitengewone raadsvergadering. (Foto: Stad Johannesburg)

Dr. Mpho Phalatse, DA-burgemeester van Johannesburg, is Vrydag in ʼn mosie van wantroue as burgemeester van Johannesburg uitgestem.

Die ANC se Dada Morero is kort daarna tydens ’n buitengewone raadsvergadering in haar plek tot burgemeester verkies.

’n Totaal van 139 uit 145 raadslede het gestem om die mosie te aanvaar.

Dit volg ure nadat Phalatse haar vergeefs tot die hooggeregshof gewend het in ’n poging om dié raadsvergadering as onwettig te verklaar.

Phalatse het die aand voor die mosie ’n dringende interdik by die Johannesburgse hooggeregshof ingedien om die raadsvergadering onwettig te verklaar.

Dr. Mpho Phalatse (Foto: Facebook)

Phalatse sê in ’n verklaring sy het Donderdag laataand hofstukke op die nuutverkose speaker, Colleen Makhubele, en lede van die programmeringskomitee beteken om die sitting van die buitengewone raadsvergadering te stuit.

Die raadsvergadering is belê kort nadat die Patriotic Alliance (PA) Woensdag saam met die ANC gestem het en Makhubele tot speaker van die Johannesburgse metroraad verkies is.

Phalatse het aangevoer dat die sitting oorhaastig en onreëlmatig belê is. Die hooggeregshof het eindelik nie hiermee saamgestem nie.

“Die speaker het Donderdag om 13:09 gevra dat ʼn sitting van die programmeringskomitee op dieselfde dag om 16:00 plaasvind, al was daar geen verduideliking vir die uiterste dringendheid vir die belê van so ʼn vergadering nie,” het sy gesê.

Die speaker het die raad boonop Donderdag om 13:25 in kennis gestel dat ʼn buitengewone raadsvergadering Vrydag om 10:00 sou plaasvind. “Dit is minder as 20 uur kennis,” het Phalatse daarop gewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Henry ·

Wanneer gaan die mense wakker word en besef die anc misluk ooral

Mariana ·

Magsbeheptheid en geldhonger, nou kan daar weer verder korrupsie plaasvind.

Alex ·

Alles gaan oor politiek. Daarom is daar geen diens lewering nie

Kobus ·

ANC duidelik onderduims. Hulle het nou die bus gevang, wonder wat gaan nou gebeur.

Jaco ·

Selfs zanu-pf in Zimbabwe is nie so kleinlik nie. Die opposisie MDC word daar toegelaat om plaaslike rade te beheer. Hulle mag net nie ‘n algemene verkiesing vir die land se parlement wen nie.
Die MDC is al selfs toegelaat om Harare se stadsraad te beheer. Hulle het, net nadat hulle in beheer gekom het van Harare se stadsraad, dadelik nuwe luukse motors vir al die raadslede gekoop….

Christo ·

Pleks die klomp politikuste vir ‘n slag saam span om die land beter te maak nou steek hulle mekaar in die rug om elke draai en hoek.

Fran ·

Die ANC stel nie belang om die mense te dien nie. Mag-en geldhonger.

Watsenaam ·

Jy’s reg, wat het enige-een in die laaste paar jaar GEDOEN behalwe om twak te praat?

henndrik ·

Daar is duidelik mense wat reken hulle kry nie genoeg geskep nie

Kokerboom ·

En die stad en sy inwoners ly onder die alewige politieke woer woer spelery. Geen hoop vir toekoms

Chris dupreez ·

Die DA moet nie nou kom huil nie, hulle en die IVP het buite stemming gebly, en nou is die burgermeester uitgestem. Te laat vir trane. As jy in n koalisie is kyk na jou koalisie vennote.

groenboer ·

Hierdie tipe chaos is kenmerkend van koalisieregerings regoor die wêreld, dikwels selfs in Europa. Ons moet dit maar gewoond raak, en intussen doen wat ons kan om onsself en ons gemeenskappe so staatsbestand as moontlik te maak. Wat ons in Johannesburg sien, is ook die nasionale regering se voorland.

Manie ·

Korrek, dis reeds aan die gang, na die hond vreet hond klaar is en daar niks meer oor is nie, volg totale anargie. Dis dalk vinniger op die horison as wat ons dink.

Manie ·

Dis nou politieke onstabiliteit in die metro’s op sy beste.

@n0Niem77 ·

Dis hoe die ANC / EFF gaan maak selfs na die 2024 verkiesing. Hulle sal maar op dieslfde wyse getakel moet word! Hardhandig! Demokraties is net n skans vir die spul kaders om hul vuilspel te regverdig. n Kultuur van leuns. Niks sal verander as jy nie n gewete het nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.