Pieter laat rekord in Peru spat

Argieffoto van Pieter Coetzé . (Foto: Anton Geyser/Gallo Images).

Terwyl die meeste 18-jariges wonder waar hulle ’n afspraak vir hul bestuurderslisensie kan maak, laat Pieter Coetzé rekords in die swembad spat.

Die jong Pretorianer het amok by Fina se Junior Wêreldkampioenskap in Peru gemaak toe hy die swemskouspel se 100 m-rugslagrekord na 52,95 sekondes verbeter het.

In die proses het hy sommer die Suid-Afrikaanse én Afrika-rekord in die einste item aansienlik beter laat lyk. Christopher Reid se vorige rekord was 53,12 sekondes.

Coetzé geniet ongetwyfeld ’n goue jaar.

By die Statebondspele in Birmingham het hy ’n rits medaljes losgeswem en hy het veral met sy merkwaardige eindpogings beïndruk.

Die kersie op die koek was natuurlik sy briljante vertoning in die 100 m-rugslagitem toe hy met alle mag vorentoe gestrek het om die goue medalje voor Brodie Williams se neus weg te gryp.

In die 200 m-rugslagitem het hy vriend en vyand verras om van ’n sesde plek na die bronsmedaljewenner oor die finale 50 m te vorder.

“Ek het beslis dinge ’n bietjie te laat gelos, maar ek is baie tevrede met my medalje en ’n persoonlike beste tyd,” het hy in ’n destydse onderhoud met die TeamSA-webblad gesê.

Coetzé het ná afloop van die Birmingham-skouspel aangedui dat sy fokus nou vierkant na die komende Olimpiese Spele in Frankryk verskuif.

“Ek en Rocco Meiring (afrigter) sal kyk wat ons kan doen om met die Olimpiese goue medalje in 2024 huiswaarts te keer.”

Tans lyk dit of die voorbereidingsmikpunte in Peru beslis volgens plan verloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.