‘Plaasjapie’ se Dian gaan pa word

Dian en Michelle Louw het Maroela Media gesels oor die reis na ouerskap. Die twee is tans by ‘n uitstalling van sy kuns in Potchefstroom by Aardklop. (Foto verskaf)

Dian Louw, die wenner van die realiteitsreeks Plaasjapie en sy vrou, Michelle, verwag hulle eerste pienkvoet.

Die paartjie wil ook nie weet wat die geslag van hul eersteling is nie, maar die babakamer is darem al uitgeverf op die aandrang van sy ma, Sonja, bieg hy.

“Moenie my verkeerd verstaan nie, ons is net so nuuskierig, maar ons hoop eintlik net op ʼn gesonde babatjie,” het Dian gesê, wat tans in Potchefstroom by die Aardklop-kunstefees met ʼn uitstalling is.

Ouerskap is ook nie heeltemal so vreemd vir die 31-jarige kunstenaar van Pretoria en sy 29-jarige vrou nie. Dian en Michelle is albei geregistreerde pleegouers wat al pleegsorg aan kinders verskaf het.

“Ek en Michelle het vir mekaar gesê ons moet mooi dink oor wat ons vir ons baba aanskaf, veral as dit dalk net vir ses maande gebruik gaan word.”

Die twee, wat onderwysers was by ʼn minderbevoorregte skooltjie en sendingwerk in Madagaskar gedoen het, het gesien dat kinders eintlik net liefde nodig het en daarom wil hulle eerder daarop fokus, as op aardse goed.

Ná ʼn Bybeltoer in Griekeland op die voetspore van Paulus vir hul sesde huweliksherdenking in Maart verlede jaar, het Dian en Michelle besluit hulle wil graag hulle gesin uitbrei.

“ʼn Baba is altyd ʼn wonderwerk en ʼn verrassing, maar dit was beslis deel van ons beplanning. ʼn Mens voel ʼn bietjie skuldig dat dit so maklik vir ons gebeur het, maar ons is dankbaar.”

Dian en Michelle Louw het onlangs aangekondig hulle verwag hul eerste pienkvoet. (Foto verskaf)

Op die vraag of hulle graag nog kinders wil hê, antwoord Dian sommer vinnig ja.

“Michelle weet dit ook: ons gaan baie kinders hê, van ons eie, maar ons sal nog kinders wil aanneem ook.

“Ons het albei gedink ons is genees van kinders, maar net as jy dink dit is die geval, kom daar nog ʼn besonderse kind oor jou pad.”

Dian sê die jaar ná hy titel van Plaasjapie gewen het, was dit ʼn warrelwind van hoogtepunt op hoogtepunt. Presies 12 maande nadat hy die realiteitsreeks gewen het, hou hy ook nou die opening van sy eerste solo-uitstalling op Saterdag 7 Oktober.

“Ek kies deurentyd waarop ek fokus en ek besluit om op die positiewe te fokus. Ek weet dit is die goed en die sleg wat help om ʼn mens standvastig te maak, maar jy kan altyd kies waarop jy wil fokus.”

Dian sê hy het vanjaar met sy gesondheid gesukkel en met gordelroos gestoei.

Sy ouma wat juis ook die inspirasies vir sy deelname aan Plaasjapie was en vir hom die inskrywingsvorm vir die reeks gebring het, se gesondheid het in so mate einde verlede jaar verswak dat sy hom nooit die reeks sien wen het nie.

Ná ʼn Bybeltoer in Griekeland het Dian en Michelle besluit hulle wil graag hulle gesin uitbrei. (Foto verskaf)

“Maar ʼn mens moet sterk bly staan vir die mense om jou,” sê hy oor sy positiewe uitkyk op die lewe. Hy besef ook deeglik watter verantwoordelikheid hy het, want mense kyk op na hom.

“Ek wil vir mense wys die lewe is moeilik, maar die lewe is ook lekker, en jy kan altyd leer uit jou uitdagings.”

Nou, ʼn jaar na Plaasjapie op televisie verskyn het, wonder ʼn mens wat staan ná die tyd vir Dian nog uit van die reeks?

“Ek het in die reeks besef net hoe belangrik mense en verhoudings is. Ek het eers gedink jou werk en jou beeld op sosiale media is belangrik, maar as jy in die aand op die plaas in die skuur lê, gestroop van alles wat bekend is, en tegnologie, is dit jou mense waarna jy verlang.

“Terug na die spel in die realiteit kon ek nie wag om saam met Michelle te wees nie en my ouers te bel nie. Ek het daar geleer ʼn mens moet elke oomblik saam met jou mense geniet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Shakespeare ·

Ongelooflike opwindende nuus. Enige mens se nuus brokkie droom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.