‘Plaasjapie’ se Dian is pa; ‘Ons dien ʼn lewendige God’

Klein Amili Maia is vabdeesweek gebore. (Foto: Facebook/Dian Louw)

“Dit is die ongelooflikste gevoel om so klein volmaakte wonderwerkie vas te hou! Ons dien werklik ʼn lewendige God.”

Só het Dian Louw, wenner van die eerste aflewering van die kykNET-reeks Plaasjapie, Dinsdag in ʼn Facebook-plasing oor die koms van hom en vroulief Michelle se eerste pienkvoet, ʼn babadogtertjie genaamd Amili Maia, geskryf.

“Amili Maia is gesond, en Michelle sterk goed aan – sy is werklik ʼn vrou duisend en ek sien uit om te sien hoe sy in haar ‘mamma’-rol ingroei – na aan Jesus se hart,” hy saam met ʼn pragfoto van klein Amili se babavoetjie gedeel.

Dian het in 2022 bewys dat strategie belangriker as spiere is en ook stereotipes help afbreek in sy reis om as die eerste wenner van dié kykNET-werklikheidsreeks gekroon te word.

Die voormalige onderwyser en voltydse kunstenaar van Pretoria het ná 21 uitmergelende dae op ʼn plaas in die Swartland aan die Weskus met die Plaasjapie-titel én R1 miljoen se prysgeld weggestap.

Hy het voorheen aan Maroela Media gesê dat hy en Michelle ná ʼn Bybeltoer in Griekeland op die voetspore van Paulus vir hul sesde huweliksherdenking in Maart verlede jaar, besluit het hulle wil graag hulle gesin uitbrei.

Ná ʼn Bybeltoer in Griekeland het Dian en Michelle besluit hulle wil graag hulle gesin uitbrei. (Foto verskaf)

“ʼn Baba is altyd ʼn wonderwerk en ʼn verrassing, maar dit was beslis deel van ons beplanning. ʼn Mens voel ʼn bietjie skuldig dat dit so maklik vir ons gebeur het, maar ons is dankbaar.”

Ouerskap is ook nie heeltemal so vreemd vir Dian en Michelle nie. Albei is geregistreerde pleegouers by wie kinders voorheen in pleegsorg geplaas is.

Dian was die eerste wenner van ‘Plaasjapie’ in 2022. (Foto: Verskaf)

Met hul eie spruit het die paartjie ook gekies om nie vooraf uit te vind wat hul eersteling se geslag is nie, en volgens Dian het hulle eerder net “gehoop op ʼn gesonde babatjie”.

“Dankie vir elke boodskap, ons waardeer elkeen so baie. Ek sal nog by elke boodskappie uitkom, maar vir nou is my prioriteit my gesin,” het die nuwe pa sy Facebook-inskrywing afgesluit.

  • Die tweede seisoen van Plaasjapiebegin op Donderdag 18 April om 20:00 op kykNET. Kyk hier hoe vanjaar se 16 nuwe plaasjapies lyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lettie ·

Baie geluk. Mag sy vir julle tot groot seën wees. Wonderbaar so volmaak: die toontjies en naels. Net God kan dit vermag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.