Plaaslike pluimveebedryf geskok oor invoerkorting

(Argieffoto)

Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa) sê daar is geen rasionale argument dat ʼn korting op ingevoerde ontbeende hoender en hoender aan die been ingestel word nie – veral nie omdat daar geen tekort aan pluimveevleis oor die feestyd was nie.

“Daar is geen tekort aan die verskaffing van hoender in die land nie,” sê Sapa.

“Die bedryf het met sukses braaikuikens ingevoer om enige gaping in die aanbod aan te vul en saam met die bedryf se talle produksiegebeurlikheidsplanne en beskikbare hoendervoorrade, is enige tekort aan hoender afgeweer.”

Sapa sê hy is geskok oor die regering se besluit om hierdie korting in te stel. Die stap gaan glo die prys van hoender vir verbruikers in bedwang hou, veral vir arm huishoudings.

Die vereniging voer egter aan dat dit skadelike gevolge vir die plaaslike bedryf en uiteindelik vir verbruikers kan inhou.

“Die inwerkingstelling van ʼn korting en enige permitte wat daarvolgens uitgereik is, sal die mees skadelike optrede wees vir ʼn pluimveebedryf wat reeds op sy knieë is.”

Volgens die vereniging is die Suid-Afrikaanse pluimveebedryf ʼn strategiese nasionale bate ter waarde van R60 miljard. Dit is boonop die tweede grootste landbousektor in die land, en die grootste bron van werk.

“Vir elke werksgeleentheid wat in die pluimveebedryf geskep word, word nog ʼn werk regdeur die waardeketting geskep,” sê die vereniging.

“Die implementering van kortings werk bloot teen die handelsmaatreëls wat ingevolge die pluimveesektormeesterplan ingestel is, en waarvolgens die plaaslike bedryf massiewe beleggings in produksievermoë gemaak het. Dit sal slegs dien om verdere werksgeleenthede in gevaar te stel, terwyl Suid-Afrika se voedselsekerheid bedreig kan word.”

Die bedryf het die afgelope paar maande gesukkel om kop bo water te hou weens ʼn massiewe uitbreking van voëlgriep in Suid-Afrika. Hoewel daar in ʼn stadium effense tekorte aan eiers in sommige dele van die land ondervind is, hou Sapa vol dat die bedryf nog altyd hoendertekorte kon bestuur.

Sapa het dit boonop tydens gesprekke met die minister van handel, nywerheid en mededinging, Ebrahim Patel, duidelik gemaak hoe enige tekorte afgeweer sou word.

“Ons sal ontsteld wees as die regering enigsins aansoeke oorweeg, om nie eens te praat van permitte vir pluimvee-invoere ingevolge die kortings goed te keur nie. Hierdie stap sal een ​​van die min landboubedrywe wat wêreldwyd mededingend is, opoffer.”

Die vereniging voer aan dat die Suid-Afrikaanse mark nie pluimvee-invoere nodig het om enige potensiële tekort aan hoender te voorkom nie.

“Ons het al bewys dat die plaaslike bedryf wel tasbare gebeurlikheidsplanne in plek het. Die bewys is in die verskaffing van plaaslik geproduseerde hoender aan die Suid-Afrikaanse mark, sonder enige tekorte.”

Die regering het onlangs protokolle vir inenting teen voëlgriep gepubliseer en Sapa sê die bedryf sal voortgaan om positief met die betrokke owerhede te skakel met die doel om braaikuikens in te ent.

“Dit sal ook enige moontlike tekorte verhoed en die korting sal bloot ʼn nie-gebeurtenis word en hopelik nie ʼn instrument vir gewetenlose invoerders om te misbruik nie.”

Die Vereniging van Vleisinvoerders en -uitvoerders (Amie) het vroeër die korting verwelkom en gesê dit is goeie nuus vir verbruikers, wat tans die swaarste deur aksynsbelasting geraak word.

Amie het verlede jaar ʼn voorlegging aan die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (Itac) gedoen, waarin hy gevra het dat ʼn korting op ingevoerde hoender ingestel word. Aksynsbelasting op ingevoerde hoender beloop tans 62% vir bevrore hoender aan die been, en 42% vir ontbeende hoenderstukke.

Amie het gesê hy hoop die departement erken die belang van die stap vir verbruikers en dat hy die proses glad laat verloop om “ontslae te raak van enige burokratiese rompslomp” wanneer invoerders aansoeke indien.

Sapa is egter bekommerd dat die kortings ʼn manier gaan word waarmee nie net verbruikers nie, maar ook die plaaslike bedryf uitgebuit kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jannie ·

Ons kry swaar. Hoender en eiers het vrek duur geword. Die man op straat wat leef van hand na mond verwelkom hierdie besluit. Dankie!

Witbaard ·

Ek stem ek saam met Jannie, alhoewel ek ook weet dat die produsent nie noodwendig die voordeel getrek het uit die duur hoender nie. Iemand het voordeel getrek ten koste van die verbruiker.

Casper ·

Gaan hoender en eiers teen laer pryse aan die publiek aangebied word,ek glo nie.

Nommer 7 ·

Dink net hoeveel ons vir hoender sal betaal indien die volle 65% invoerbelasting afgeskaf word. Ek hoop dit is die beging van die vermindering van invoerbelasting op alle voedsel invoere. Ons betaal al baie lank te veel vir plaaslike geproduseerde voedsel, dit sluit Geral vrugte in!

FBS ·

Produsente moenie kla nie. Julle kla met n witbrood onder die arm. Julle het nie julle pryse laag gehou nie, inteendeel het julle jul pryse die hoogte ingeskiet. Ons selarisse het nie opgegaan nie.

Marous ·

Sit jul produk op die rak vir dieselfde prys . Julle kan nie want die inset koste is te hoog. Die verbruiker kan nie jul prys bekostig nie. Dis die waarheid.

Windlawaai ·

Daar is sekerlik baie te sê oor die korting aan beide kante van die spektrum. Maar as die voos geslaande verbruiker ietwat van blaaskans kry is dit wonderlik.
Net, die verbruiker gaan nie groot voordeel trek nie. Die kettingwinkels sal nie nou hulle prys verlaag nie. Nooit nie, as dit pap reën moet jy skep, reken hulle.
5kg IQF is selfs nou tot R40 duurder as voor die Kersseisoen.

Christian J M ·

So ander lande kan die hoender laat groot en vet word, hom afslag, skoon maak, vries en halfpad om die wereld verskeep goedkoper as wat Jonas en kie dit hier kan doen — Absoluut pateties !!!!!!!!!!!!!!!
Wie wil die regering beskerm ????

Miskruier ·

In Frankryk is vragmotors met ingevoerde kos gestop en die kos vermors. Net nog n geval van n regering wat nie sy boere koester nie. Die een wat die koskas beheer, beheer die bevolking.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.