Plaasmoorde: ‘Stilbly, ontken en niksdoen moet stop!’

Lede van AfriForum voor die Uniegebou waar die memorandum aan ‘n verteenwoordiger oorhandig is

Die regering se ontkenning van, stilte oor en niksdoen aan plaasmoorde moet end kry, sê AfriForum in ’n memorandum wat vandag aan pres. Cyril Ramaphosa in Pretoria oorhandig is.

Die memorandum is deur ‘n verteenwoordiger by die Uniegebou in ontvangs geneem. In dié memorandum stel die burgerregteorganisasie die feite rakende die werklikheid van plaasmoorde, wys op die regering se “dwase ontkenning” van die krisis en stel AfriForum se eie oplossing vir landelike veiligheid deur middel van gemeenskapveiligheidstrukture uiteen.

Die oorhandiging van die memorandum volg volgens Jacques Broodryk, woordvoerder vir AfriForum se gemeenskapveiligheidsafdeling, in reaksie op die regering se jare lange en deurlopende versuim om sy plig na te kom ten opsigte van die beskerming van Suid-Afrikaanse burgers – en die plaasgemeenskap in die besonder – teen gruwelike aanvalle en haatspraak.

‘n Foto van die memorandum wat oorhandig is

“Die feit dat die regering bloot hande gevou sit en toekyk hoe misdadigers verwoesting saai onder die landelike gemeenskap en sommige politici plaasmoorde ontken of selfs aanmoedig, noop gemeenskappe nou om hulself te organiseer en ’n groter rol in hul eie veiligheid te speel. Dit is juis wat AfriForum deur sy nasionale netwerk van veiligheidstrukture reeds met sukses doen.”

Benewens politici se blatante ontkenning van plaasmoorde weier die regering steeds om dit tot ’n prioriteitsmisdaad te verklaar, ondanks oorweldigende bewyse en argumente wat sodanige klassifikasie regverdig, meen Broodryk.

“Daarbenewens hits toonaangewende politici en hul ondersteuners steeds geweld teen minderhede, veral teen boere, aan. Vanaf 29 Julie, toe die EFF-leier, Julius Malema, die dreunsang ‘Kill the Boer’ in die FNB-stadion voor 90 000 ondersteuners gesing het, tot 11 Oktober, was daar reeds 68 plaasaanvalle waarin tien moorde gepleeg is. In een aanval is ’n egpaar van KwaZulu-Natal ernstig aangerand, terwyl hul aanvallers geskree het ‘Kill the Boer! Kill the farmer!’.”

In die memorandum wys AfriForum die president ook op sy uitlatings in 2018 dat daar “geen moorde op boere of wit boere in Suid-Afrika is nie” en dat hy nog nie die uitlatings teruggetrek of daarvoor om verskoning gevra het nie. Malema het in 2020 dieselfde uitlatings gemaak.

“Afgesien van hierdie voorbeelde van blatante ontkenning, weier die regering tot vandag toe om plaasmoorde as prioriteitsmisdade te klassifiseer, ondanks die oorweldigende bewyse en argumente wat so ’n klassifikasie legitimeer,” lui die memorandum.

Gemeenskapveiligheidstrukture gryp self in

AfriForum wys in die memorandum daarop dat hy tans meer as 168 buurt- en plaaswagte landwyd het met min of meer 11 000 goed opgeleide vrywilligers.

“Ons sal verseker dat ’n toenemende aantal boere en burgerlikes toegerus word met die vaardighede en toerusting wat nodig is om alles te doen wat nodig is om hulself en hul gesinne te verdedig teen die misdadigers wat hul lewe bedreig – veral in landelike gebiede.”

’n Onlangse AfriForum-studie het bevind uit die 1 402 plaasaanvalle en plaasmoordvoorvalle wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) tussen 2019 en 2022 aangeteken het, was daar tot dusver slegs in 66 gevalle skuldigbevindings. AfriForum benadruk dit dat die swak vervolgingsyfer toegeskryf kan word aan onder meer swak ondersoekwerk en die regering se skynbare onwilligheid om die probleme in landelike veiligheid te takel.

Volgens Broodryk verhoog AfriForum tans stelselmatig die hoeveelheid hulpbronne wat toegewys word vir buurt- en plaaswagte se opleiding en toerusting aansienlik, want die onwelkome politieke omgewing wat onder Ramaphosa voortgesit word, vereis dit.

“In ’n politieke omgewing wat gekenmerk word deur ontkenning, gebrek aan optrede en selfs aanhitsing tot plaasmoorde en -aanvalle, sê AfriForum die stryd aan om gemeenskappe toe te rus om doeltreffend te reageer en sodoende medeverantwoordelikheid vir hul veiligheid te neem. Wanneer ’n regering nie sy plig nakom om sy burgers te beveilig nie, maak dit die opkoms van weerbare, gemeenskapsgebaseerde veiligheidstrukture onvermydelik én noodsaaklik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

vuurvliegie ·

Die Boere moet net vir 6 maande saamstaan en GEEN voedsel produseer nie en die regering se oe sal oopgaan. Probeer dit net een keer en sien self.

Sobymykoolkop ·

Sal nie help nie want hulle dink hulle kry dit by P+P en checkers

Nommer 7 ·

Aangesien 50% van alle SA landbou produkte uitgevoer word, en ingevoerde voedsel goedkoper ingevoer kan word, sal u voorstel ongelukkig geen duit verskil maak nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Boere het rekeninge wat betaal moet word. En lastige bankbestuurders.

Madz ·

Daar gaan weer ontken word…want AS die voorstel goedgekeur word (want dit sal virseker WERK) gaan die regering net weereens op hul swakhede gewys word. Onder andere…..

Petra ·

Ek stem, ons mense word uitgemoor maar Mnr Ramaphosa is bekommerd oor Hamas en Israel botsings!

Samuel ·

Net so. Die President kan nie moord en doodslag in sy eie land stop sit nie.

M ·

Op skool was hy defintief “Aandag-afleibaar” Onbelangrike “dingetjies” trek sy aandag af van ernstige sake waaraan hy, ter lande, moet aandag gee.

George ·

Om papierwerk aftelewer help niks, cyril en kie kyk die nommer en gee mekaar n klophou vir n job well done.

57 Chevy ·

Ek verstaan jou frustrasie ons almal voel so. Net regverdig om kridiet te gee waar dit toekom . Ek en jy lewer net kommentaar of kritiek op MM dis die maklike deel. Afriforum gaan oor in aksie ….n beleefte dankie doen geen skade nie .

Samuel ·

En Afriforum weet die president en Kie lees nie eens die memorandum nie. Hulle gewetens is ook gesus.

Jacobus ·

Probeer is seker die beste geweer. Asof hy hom daaraan gaan steur, hy se dan daar bestaan nie so iets soos plaasmoorde nie.

57 Chevy ·

Dankie Afriforum ons wadeur baie wat julle doen ! Ou cr gan nou eers met sy cic in die rooi hoedjie vergader om te hoor hoe hy op die memorandum moet reageer .

Jannie van Niekerk ·

Die president en sy gevolg sal aanhou stilbly want hulle keur plaasaanvalle en moorde goed.

Andre ·

…hou net ingedagte dat Ramaphosa destyds vertel het van die padda in die pot met water! Ons is nou amper waar die water kook!
Ons is die padda,ingeval jy wonder!

Republikein in die Wes Kaap ·

Dit sou beter wees om netjiese pakke te dra as uniforms. Verkeede boodskappe word dalk uitgedra. Die ANC sal baie te sê hê.

Papsak ·

Ja ek stem boere staan op staan saam moet niks produseer nie Ramaphosa is meer bekommerd oor ander lande se oorlog as oor sy eie land se boere en mense hy wil daar gaan help maar hy wil niks vir SA doen nie hoe korrupt kan jy kry

Wit Leeu ·

Ag asseblief ! Hy gaan dit ontken en net mooi niks doen nie. Julle mors julle tyd Ariforum !!!!!

Shakespeare ·

VUURVLIEGIE, dit wat jy voorstel is onmoontlik. Vra my, ek was 30 jaar lank ‘n groot besproeiings boer.

Danie ·

Ou Ramaja se eintlik nooit iets wat op niks uitloop.Wat verwag julle van n groot niks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.