Plaasveiligheid is ‘gedeelde verantwoordelikheid’

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Hoewel boere in Suid-Afrika self verantwoordelikheid vir hul veiligheid op plase moet neem, meen kenners dat samewerking in gemeenskappe deurslaggewend is in die skep van ʼn veiliger omgewing. Maatskaplike bewusmaking is ook belangrik en kan ʼn goeie dryfveer vir beleidsverandering wees.

Maroela Media het vandeesweek met verskeie kenners en navorsers in die landboubedryf gesels oor hoe veiligheid op plase verbeter kan word. Dit kom ná ʼn rits plaasmoorde- en aanvalle in Suid-Afrika die afgelope maand, met drie boere wat die afgelope week in Mpumalanga vermoor is, en ‘n boer wat Vrydag in Limpopo vermoor is.

Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van Vrystaat Landbou, sê die begin van Oktober kenmerk altyd die aanloop tot die opkomende feesseisoen, wat ʼn verhoogde risiko van misdaad op plase en kleinhoewes inhou.

Buys sê boere moet hul veiligheidsnetwerk krities evalueer en seker maak dat hulle doeltreffende, werkende kommunikasiekanale in plek het, veiligheid in en om die huis opskerp, goeie verhoudings met werkers of bewoners op plase en doeltreffende toegangsbeheer handhaaf. Hulle moet ook betrokke wees in hul geografiese gebied en deel wees van gebeurlikheid- en veiligheidsplanne of -stelsels in die omgewing.

“Indien enige van dié afdelings tekortskiet, moet daar daadwerklike aandag daaraan gegee word.”

Kobus Visser, Agri SA se direkteur van landelike veiligheid, sê hoewel beveiligingsmaatreëls uiters belangrik is, dit nie ʼn waarborg is dat ʼn aanval nie sal plaasvind of uitgevoer word nie. Dit kan wel vir slagoffers tyd koop of as afskrikmiddels vir aanvallers dien.

“Veiligheidsmaatreëls kan die aanval vertraag of aan slagoffers die geleentheid gee om alarm te maak of hulp oor tweerigtingradio’s te ontbied. Ek dink die belangrikste is dat boere moet inskakel by hul plaaslike georganiseerde landboustrukture en deel word van dié strukture se veiligheidsinisiatiewe.”

Hy meen boere se eerste hulp kom van hul bure af, aangesien plase dikwels afgeleë en ver uitmekaar is.

“Daar kan dus nie effektief op die polisie staatgemaak word nie, behalwe as jy baie naby die polisie woon. Dis ook goed as daar ʼn sekerheidsmaatskappy in die omgewing is wat tydens noodgevalle ontbied kan word.”

Beurtkrag knou veiligheid

Visser sê dat aanhoudende beurtkrag tans pogings om veiligheid te bevorder, in die wiele ry.

“Die netwerke is nie betroubaar nie omdat selfoontorings se battery afloop, en boonop word batterye nie meer so gereeld vervang nie omdat dit gesteel word. In baie gevalle kan jy dus nie jou selfoon gebruik om alarm te maak of iemand te bel nie.”

Visser meen om dié rede is alternatiewe kommunikasiekanale uiters belangrik – onder meer ʼn goeie radionetwerk wat jou met jou bure, plaaswag, die polisie en sekerheidsmaatskappye verbind.

“Selfs nog beter as die radionetwerk is ʼn noodknopfasiliteit wat jy net kan druk om hulp te ontbied – veral as jy nie tyd het om oor die radio te praat nie.”

Om van boere te verwag om nooit gedurende die aand buite te gaan nie, is ook nie prakties nie, aangesien plaasbedrywighede dit dikwels vereis. Waar dít nie vermy kan word nie, sê Visser is dit wys om jou sekerheidsmaatskappy of betroubare plaaswerkers in kennis te stel en te versoek dat hulle moontlik saam met jou gaan sodat daar ʼn mate van ondersteuning is.

Dit is egter nie altyd moontlik nie, en dus moet boere ten alle tye uiters paraat wees en weet wat in hul omgewing aangaan.

Verkryging van intelligensie belangrik

Terence Corrigan, projekbestuurder by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), sê daar moet ook onderskei word tussen opportunistiese aanvalle, en beplande aanvalle.

Wat beplande aanvalle betref is die beste verdediging die invordering van intelligensie.

“Ideaal gesproke is dit iets wat ʼn mens sou wou hê die polisie moet doen, maar selfs wanneer ʼn mens van probleme soos korrupsie in die polisie kan wegkom, is daar net nie genoeg polisiehulpbronne nie.

“Dis dan belangrik dat mense van die gemeenskapnetwerk in landelike gebiede gebruik maak om nodige inligting en ondersteuning te bekom.”

Corrigan sê ʼn belangrike bron van inligting is dikwels ook plaaswerkers, en dus is goeie verhoudings tussen boere, plaaswerkers en die hele boerderygemeenskap in geheel baie belangrik.

Hy benadruk dat baie min bewyse – in teenstelling met uitlatings deur polisieminister Bheki Cele – daarop dui dat gewelddadige plaasaanvalle dikwels uit arbeidsgeskille op plase spruit.

“Die waarheid is dat ons steeds min weet van die motiewe agter plasaanvalle. Dit is onverantwoordelik van Cele om aan te voer dat plaasaanvalle uit wraak is.”

Krag in maatskaplike bewusmaking

Hermann Pretorius, kommunikasiedirekteur by die IRV, sê ʼn mens moet ook nie die rol onderskat wat gekoördineerde politieke druk en maatskaplike bewusmaking kan speel om eindelik beleidsverandering teweeg te bring nie – onder meer die prioritisering van plaasmoorde en -aanvalle op regeringsvlak.

Pretorius gebruik die voorbeeld van renosterstropery en sê dat die maatskaplike bewusmaking wat op ʼn groot skaal oor dié kwessie gekweek is, ʼn reuseverskil gemaak het in natuurbewaringsinisiatiewe om renosterstropery te bekamp.

So moet daar ook vir die beskerming en bewaring van die rolspelers in die landbousektor bepleit word.

Pretorius sê dat selfs kruideniersware-kettingwinkels maatskaplike bewusmaking vir die beskerming van hul produsente kan bevorder, by wie hulle baie van hul produkte aankoop.

ʼn Voorbeeld hiervan is boere wat plakkers op hul produkte plaas wat lees “ʼn Trotse boer, wat lief is vir Suid-Afrika, het hierdie produk vir jou moontlik gemaak’, sê Pretorius.

“Boere kan mense met wie hulle ekonomiese bande het, uitdaag en sê ‘dis in julle belang dat die regering optree om ons ernstig op te neem’.”

Hy meen boere het in dié opsig ʼn hef in die hand om druk toe te pas op diegene wat van ’n gesonde boerderygemeenskap afhanklik is, sodat maatskaplike bewusmaking kan plaasvind.

“As mense oortuig kon word om om te gee oor renosters deur ʼn bepaalde boodskap oor en oor te herhaal en kettingwinkels hul verbruikers ten gunste van daai boodskap inlig, kan dit ook met die boerderygemeenskap gedoen word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

Dit is vir ons almal lekker om vry te voel en tot in die einder te kyk, maar as boere wil oorleef sal hul veiligheidsheinings om hul woonhuise oprig met waarskuwingstelsels, soos in stede. Om in jou huis verras te word deur misdadigers; jou naaste in bloed te groet is veel erger as ‘n paar stewige ysters om jou blomtuin. Onthou: Jy kan altyd ook net op jou honde se lojaliteit staatmaak.

Marshall ·

So we have “kenners” advising on the low grade civil war being waged against the Caucasian population on farms. These “kenners” are unaware of the basics of conflict strategies, especially that one cannot win a conflict with a DEFENSIVE STRATEGY. I would suggest that these “kenners” are not in fact suitably qualified. The correctness of this assertion is born out by the FACT that the torture and slaughter of innocents CONTINUES YEAR AFTER YEAR and in fact, is escalating. Real experts deliver results not failure.

KatjieDeKat ·

A country’s agricultural sector is to be considered critical infrastructure just as much as hospitals, water+power supply systems, police stations, fire stations etc. In my opinion the murder of farmers amounts to terrorism, sabotage, sedition, TREASON, GENOCIDE. Until farm murderers are hung in public, this will not stop. Ideally it should be televised and have a headline stating: “For the literal survival of the nation”. Because in actual fact, farm murderers Are going to ultimately be responsible for a national famine. The deaths of hundreds of thousands, possibly millions of innocent citizen, brought about by their fellow countrymen. If That is not Genocide, what is??

quartus ·

Sover ek kan sien het die pogings om renosterstropey te stop of te beperk nou nie juis gewerk sodat jy dit sal agterkom nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.