Plaaswerkers sterf glo weens hitteuitputting

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Spencer Pugh/Unsplash)

Sewe plaaswerkers is verlede week in die omgewing van Kakamas in die Noord-Kaap dood, moontlik as gevolg van hitteuitputting.

Vyf van die werkers is Donderdag dood, terwyl nog twee die volgende dag dood is.

Wiaan van Rensburg, voorsitter van Agri Noord-Kaap se arbeidsportefeulje, sê die sterftes het nie net op een plaas gebeur nie, maar op verskeie plase in die gebied.

“Hoë temperature word gewoonlik gedurende hierdie tyd van die jaar in daardie deel van die Noord-Kaap ervaar, maar die uiterste temperature het langer as gewoonlik geduur.”

Thulas Nxesi, minister van arbeid en indiensneming, het intussen sy meegevoel met die oorledenes se families betuig en bevestig dat die departement ʼn ondersoek ingevolge die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid van stapel gestuur het.

“Volgens die departement se inspekteurs word daar van elke werkgewer verwag om ʼn risikobepaling van die werksplek te doen, en wanneer enige van die geïdentifiseerde risiko’s verander, moet die werkgewer versagtende maatreëls instel,” sê Nxesi.

“In ʼn geval soos hierdie, waar die temperature 41 °C en hoër bereik, moes sodanige maatreëls ingestel gewees het.”

Twee inspekteurs is reeds ontbied om die betrokke plase te besoek om verdere inligting in te win. Dit is in hierdie stadium nog nie bevestig of hitteuitputting wel die oorsaak van die plaaswerkers se dood is nie.

“Tot tyd en wyl die ondersoek afgehandel word, beveel inspekteurs aan dat plaaswerkers tussen 04:00 en 11:00 werk en dan weer hul werk om 17:00 hervat en tot 19:00 werk, aangesien die son eers om 20:00 in Kakamas sak.”

Nxesi het onderneem om al die feite van die saak bekend te maak sodra die nodige ondersoek afgehandel is.

Van Rensburg het ook bevestig dat die betrokke produsente hulle volle samewerking aan die departement gee.

Die hulplenigingsorganisasie Gift of the Givers (GOTG) het intussen hand bygesit en gebottelde water en watertenks aan die gemeenskap van Kakamas verskaf.

Die gebied, soos die meeste dele van Suid-Afrika, gaan die afgelope paar weke gebuk onder skroeiende hitte met hittegolf na hittegolf wat provinsies tref. Die weerdiens het onlangs gemaan dat die hoë temperature tot hitteuitputting kan lei.

Agri Noord-Kaap het opnuut ʼn beroep op die publiek gedoen om genoegsame water te drink om deur die loop van die dag gehidreer te bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Eugene ·

Jammer dis tragies as dit hitter uitputting is. Sal wag tot ondersoek klaar is Dan weer praat.

Johanna ·

Ek laat my tuinwerker niewerk later as 12uur nie. Stuur hom huis toe. Tussewerk gee ek hom Baie vloeistof.

Kensy ·

Traggies. My tuin werker begin baie vroeer in die sommer sodat hy so vroeg moontlik kan klaar maak. Pas werks tuie aan indien die werk in die son moet geskiet.

Nici ·

Verskriklik! Kan die boere oorweeg om fleksie ure daar te stel waar werkers kan kies om bv 4 vm te begin en teen 12:00 klaar gewerk te wees? Mense kan meer baie meer vermag as hul nie doodgewerk word nie en beskermende klere, water, rus en hoedens gegee word.

Wielspore ·

Namibia is bekend vir sulke temperature en hitte uitputting in die gebied is nie vreemd. Ek self was in 1982 en 1983 vir 2 jaar op Ondangwa en gedurende daardie tyd het ‘n persoon wat gaan stap het na die tyd aan hitte uitputting gesterf.

Marcello ·

As daar nou ‘n mens is wat die Nobel Prys moet kry, dan is dit die hoof en werkers van die “Gift of the Givers (GOTG)” van die organisasie “

Racheltjie Debeer ·

Dis nie net plaaswerkers en tuinwerkers wat blootgestel word aan hoë temperature nie. Fabrieks werkers behoort ook beskerm te word. Het die Departement al besoek afgelê by fabrieke waar werkers 9 urr skofte werk in ‘n fabriek met geen lugversorging nie? Ek besef mens kan nie lugverkoeling, soos in kantore, in ‘n fabriek sit nie, maar daar moet tog iets wees wat gedoen kan word.

Piet parys ·

Het 25 jaar in asbes werkswinkels gewerk as ambagsman en erg warm gewees maar die job moet loop . So ja n mens kan mos voel as jy te veel sweet en moet water drink .

wildtuin ·

Destyds met die grensoorlog wanneer ons patrollie gestap het, het ons in die hitte van die dag ‘n tydelike basis gestig en gerus tot later die middag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.