Plan gemaak met Voëlklip

Die pale wat by die draai by Voëlklipkrans aangebring is. (Foto: Verskaf)

Alle memorabilia, gedenkplate en kranse wat slagoffers van die berugte Voëlklip gedenk, sal eersdaags by dié uitkykpunt verwyder word. Dit volg nadat die prentjiemooi uitkykpunt volgens inwoners nou meer soos ’n “begraafplaas” begin lyk het.

Altesaam 50 pale is ook by die draai by Voëlklipkrans naby Heroldsbaai aangebring in ’n poging om te verhoed dat nog tragedies hier afspeel.

Chantel Edwards-Klose, woordvoerder van die George-munisipaliteit, het vandeesweek aan Maroela Media gesê pale van 1,8 meter lank is een meter in die grond geplant om te verhoed dat motors by die krans afstort.

’n Informele parkeerarea by die krans is nou ook nie meer toeganglik nie nadat dit met klippe toegepak is.

Maroela Media het vroeër berig die betrokke pad is sedert 1958 ʼn geproklameerde provinsiale pad met die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke as padowerheid. Die verklaarde padreserwe word aan albei kante begrens deur private eiendom. Die pad bied toegang tot gebiede met toerisme- en ontspanningswaarde.

Veiligheidsmaatreëls is vroeër deur die grondeienaar en departement goedgekeur en befonds deur ’n private skenker, die versekeraar Dotsure.

Dit te midde van toenemende druk om ʼn plan te maak met die pad wat na die uitkykpunt lei. Altesaam vyf gevalle van waar ’n motor by die krans afstort, is sedert Oktober 2019 hier aangemeld.

Van die kruise wat reeds by Voëlklip aangebring is. (Foto: John-George Gittins)

Na konsultasie met die grondeienaar en die Wes-Kaapse provinsiale departement van vervoer en openbare werke is besluit om al die items, waaronder gedenkplate, foto’s, standbeeld en kruise, wat op en langs die Voëlklippad geplaas is, te verwyder.

Die publiek en persone wat deur hierdie besluit geraak word, word vriendelik versoek om dié items teen 1 Junie te verwyder.

Kenneth Field, voorsitter van die Heroldsbaai-belastingbetalersvereniging, sê die gemeenskap van Heroldsbaai is bly dat maatreëls geïmplementeer gaan word, eerder as om die pad te sluit, aangesien Voëlklip ’n groot toeriste-aantreklikheid in die omgewing is.

Voëlklip (Foto: John-George Gittins)

Die verwydering van memorabilia word ook gesteun.

“Ek voel sterk daaroor en so ook die res van Heroldsbaai. Ons doen ons bes om Voëlklip so veilig as moontlik te hou… Dit is ʼn baie mooi plek wat ’n begrafnisplaas geword het.”

Field wys daarop dat voorvalle by Voëlklip toegeneem het sedert Heidi Scheepers en haar twee jong kinders in hul grys Volkswagen Caravelle by die krans afgestort het. Verskeie voorvalle het daarna gevolg, waaronder die jongste wat die lewe van twee bejaarde vroue van Gauteng geëis het.

Field doen ’n beroep op motoriste om versigtig in die omgewing te ry. Die belastingbetalersvereniging en die departement hou egter vol dat dit ’n baie veilige pad is.

Jandré Bakker, woordvoerder van die departement, het by navraag gesê nie een van die voorvalle kon toegeskryf word aan die toestand van die pad nie, maar eerder aan “motoriste se gedrag”.

“Hoewel ons hoop dat dit nou die einde van voorvalle op die pad gaan wees, pleit ons by motoriste en padgebruikers om waarskuwingstekens te gehoorsaam en altyd verantwoordelik te wees op die paaie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Nie Verbaas ·

En die paaltjies moet nou n voertuig keer? Asseblief, wie is so naief?

Anne-Marie ·

Ek stem saam…daai lae hout pale ry mens met ʼn kar baie maklik uit. As iemand WIL daar af ry, gaan daai paaltjies niks keer nie.

Retha ·

AS hul daar blokkeer word, bied Outeniquapas, Montagupas en nog baie ander plekke die geleentheid aan vir mense wat nie meer kans sien vir die lewe nie

Skyspy007 ·

Dit is fataal belaglik om memorabilia te verwyder. Hierdie mense wat hulleself daar laat sterf het, het sekerlik ook ‘n pa en ‘n ma….en geliefdes gehad wat hier herdenk kon word. Die publiek is verregaande om dit te laat verwyder. Hoeveel kruise, fotos, borde en someer word langs paaie opgerig ter wille van slagoffers van ongelukke wat ook moontlik kon wees as “selfdood” soos die geleerde bewoording dit wil laat klink eerder as selfmoord. Daar sal verseker ‘n volgende “voëlklip” iewers anders onstaan totdat dit ook weer toegemaak, of beveilig word. MENSE…word groot asseblief. Ek moes toesien 44 jaar terug hoe mense doodgeskiet word reg langs my…en ons arme ou soldate moet dit nog beleef en oorleef.

Boerkind ·

Jip – 100% in die kol! Sterkte met die memories van 44 jr gelede… dit is nie maklik nie!

Korrelkop ·

Gaan kry vir jou ‘n Nis by die Begraafplaas en sit daar ‘n gedenkskrif op.

Retha ·

Begraafplase nou so onveilig, selfs al geval gehoor dat by gedenkmure verwoesting gesaai is.

Jerry ·

Laat mens dink aan Westdene busramp, too little to late, daar moet mos eers mense sterf voordat daar opgetree word.

Deon ·

Ek is bly dit is gedoen, ek hoop van harte dat daar nie weer n insident daar is nie. Dit lyk asof die owerhede nie omgee oor veiligheid nie aangesien privaat instansies vir die projek betaal het….. Dan wil ek ook by se, hierdie dat ons privaat vir sulke tipe goed moet betaal is besig om die regering te “enable” soos die engelsman sal se,waarom moet hulle betaal as die publiek een of ander tyd self die sakie gaan uitsorteer? ….. Skande DA, julle is mos aan bewind daar…. Hoe ookal, ek is bly dit is nou gedoen.

Casper ·

Ja dan wil ek net byvoeg dat daardie pad beslis nie lyk soos kayalami se oppervlak nie en daar beslis nie gejaag kan word nie.Per ongeluk kan jy nie daar afry nie.Jy het of selfmoord gepleeg of jy was roekeloos.

Retha ·

Ons sal maar sien, as dit nie daar is nie, waar is die volgende plek wat ook weer toegemaak moet word

dave ·

Wat help die paaltjies mense ry dit nog steeds weg bou n muur dis al wat gan help

Veronika ·

Dit lyk soos houtpale, dit gaan mos nou nie help nie. Daar moet sterk staal pale opgesit word of nog beter ‘n sterk staal “barrier”. Eish mense dink nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.