Planne om TMPD reg te ruk

Argieffoto van die Tshwane-metropolisie. (Foto: Facebook)

Die Tshwane-metropolisielid wat in Johannesburg in hegtenis geneem is in verband met ʼn gewapende roof, was tydens die vermeende voorval nie aan diens nie.

Grandi Theunissen, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, sê die persoon is ʼn konstabel in die Tshwane-metropolisie.

“Hy het reeds in die hof verskyn en ʼn formele aansoek om borgtog sal op 4 Julie plaasvind. Die polisie se ondersoek duur voort en drie verdagtes bly voortvlugtig.”

Maroela Media het vroeër berig sewe verdagtes, onder wie vier polisiebeamptes en die Tshwane-metropolisiebeampte, is vandeesweek deur die Valke in hegtenis geneem op aanklagte van korrupsie, gewapende roof en ontvoering. Hulle was na bewering betrokke by ’n rooftog op 14 Junie. Tien verdagtes het die huis van ʼn sakevrou in Malvern in Johannesburg betree, van wie twee van die verdagtes in polisie-uniform geklee was.

Die verdagtes het die huis geplunder en die sakevrou gedwing om aanlyn op haar bank aan te meld en R200 000 uit haar sakerekening oor te betaal. Die bank het egter geweier dat sy dié bedrag onmiddellik losmaak. Die verdagtes het met haar na ʼn bank gery waar sy gedwing is om geld uit haar spaarrekening te onttrek. Hulle het haar ook gevra om nog geld by haar familielede te kry. Die vrou het ongeveer R83 000 weens die rooftog verloor.

“Dit is ʼn baie hartseer bevestiging van my vermoede dat die TMPD geïnfiltreer is deur kriminele elemente,” sê Theunissen. “Elke organisasie en departement moet waarskynlik soms vrot appels hanteer, maar daar is bloot te veel voorbeelde in die TMPD om dit as die uitsondering te hanteer. Ons moet die realiteit besef en dienooreenkomstig optree.”

Theunissen werk nou saam met die burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe en gedeelde dienste, Kingsley Wakelin, om dringende stappe te doen om kapasiteitbeperkings in die dissiplinêre en gevolgebestuurketting te takel.

“Dit sal lei tot ʼn vinnige vermindering in die bestaande agterstand van sake met ʼn direkte verband tussen wangedrag en die gevolge daarvan. Ons wil graag die sake binne 90 dae intern oplos.”

Theunissen sê beleide en prosedures sal ook in die TMPD hersien word om seker te maak dit word verbeter en bygewerk waar nodig.

“Dit sluit in om geskiedkundige besluite te hersien wat moontlik tot ongelukkigheid of frustrasie onder TMPD-personeel gelei het. Die doelwit is om uiteindelik die TMPD te omskep in ʼn betroubare, professionele en etiese metropolisiediens wat ʼn veilige en aangename werksomgewing aan sy werknemers verskaf met waardevolle dienste aan al ons inwoners.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Johan Tredoux ·

HA HA. Onthou ek nou toe ek vir die een ou gesê wat my aftrek. “Of course I stopped dead at the sign. I saw you speedcops standing around.” En die ou kap terug. “I’m NOT a speedcop!! I’M AN OFFICER!!!”

Michael ·

Waar was Theunissen die afgelope 30 jaar? Hoe is hy nou hartseer? Elke staatsdepartement, nasionaal en provinsiaal, bestaan hoofsaaklik uit kriminele elemente. Geen wonder hierdie departemente maak wat hul wil nie-die opposisie is vas aan die slaap

Delia ·

Die afgelope 30 jaar?? Mens wil daai vraag vra. Immers begin hulle nou. Beter laat as nooit.

Nico ·

Word daar nie gekyk na kriminele rekords wanneer ‘n persoon aansoek doen nie.

Kokerboom ·

Die ANC het die afgelope 30 jaar ‘n dodelike verlammende gif in ons samelewing gespuit wat tyd gaan neem om te elimineer. Solank die wil en vasberadenheid en ‘n zero verdraagsaamheidbeleid teen korrupsie daar is GAAN ons wen!!!

Delia ·

Dankie dat julle iewers begin skoonmaak. Die verlede is die verlede. Begin op n skoon bladsy

christo ·

Elke lid se kriminele rekord moet jaarliks nagegaan word. ‘n Leunverklikkertoets en
‘ n lewenstyloudit gedoen word – jaarliks. Verder moet hulle lyfkameras kry waarvan die data daagliks gestoor word.
Indien Burgemeester Cilliers Brink nie nóú sy voet neersit nie, sal hierdie gemors net erger word. Niemand wil saans op Pretoria se strate ry nie, veral as jou geslag en velkleur geteiken word nie.
Ek het op ‘ n keer’n saak by SAPD op Bronkhorstpruit rapporteer. Ek vra die konstabel hoekom is hulle so besig ? Sy antwoord is dat daar soveel mense is wat dokumente moet waarmerk, om dit in te dien by die Tshwane stadsraad, alhoewel Bronkhorstspruit wel TMPD ‘n kantoor daar het wat dieselfde kan lewer. Die mense se antwoord is: ” Aikona, daai mense is mos nie regte polisie nie”

Danie ·

Dis goed en wel.Of is dit ook nie n bietjie te laat nie.Die kalf in die put is reeds vrek.

LANA is ELANè ·

Sterkte met die een, daar gaan maar gesukkel word om die publiek se vertroue in hierdie “Rhama-Pokker” bende te herstel. Die wantroue kom al vir jare terwyl die wat dit moes aanspreek net in ñ ander rigting gekyk het of net so korrup is maar net op ñ ander vlak.
Ek is doodbang vir enige geregsdienaar, maak nie saak in watter provinsie nie, ek loop eerder Kaapse draai om hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.