Plett Rage ook gekanselleer

Plett Rage. (Foto: Plett Rage Offical/Instagram)

Die Plett Rage-matriekfees wat Vrydag sou begin, is ondanks streng Covid-19-maatreëls gekanselleer.

Na verwagting sou sowat 900 mense vanjaar dié fees in Plettenbergbaai bywoon.

Organiseerders sê die kommerwekkende aantal positiewe gevalle wat deur voornemende feesgangers vanaf hul tuisdorpe aangemeld is, het hulle “tot die kern geskud” en genoop om dié besluit te neem.

Maroela Media het vroeër berig dat alle matrikulante gedeeltelik of volledig ingeënt moes wees alvorens hulle die fees bywoon en ook negatiewe PCR-toetse moes indien. Hulle sou deur die loop van die fees ook verskeie Covid-19-toetse moes ondergaan.

“Byna alle skole wat die Plett Rage gaan bywoon, het positiewe gevalle. Gebaseer op die trajek van hierdie virus, is dit slegs ’n klein persentasie van gevalle wat beslis sou voorkom. Die getalle sal vinnig toeneem,” het die organiseerders Donderdag in ʼn verklaring op Facebook gesê.

“Alhoewel ons as organiseerders die strengste Covid-19- voorkomende maatreëls ingestel het, was daar geen manier om die verwoesting wat die huidige oplewing van Covid-19-gevalle nasionaal sou veroorsaak, te voorkom nie.”

Die organiseerders sê hulle is self verpletter en hoewel hulle ook die teleurstelling onder feesgangers verstaan, glo hulle onomwonde dat die regte besluit geneem is.

“Ons terrein is gebou en alle personeel is gereed om jou met ope arms te verwelkom. Ons deure is gereed om oop te maak, maar sal ongelukkig gesluit bly.

“Die situasie is ondenkbaar, maar daar is geen twyfel by ons dat dit die regte besluit is nie.”

Kaartjiehouers sal in die komende dae verdere inligting per e-pos ontvang.

Die kansellasie van die Plett Rage volg kort nadat die Ballito Rage-byeenkoms Woensdag ná net een dag gekanselleer is nadat 32 feesgangers en vier personeellede positief vir Covid-19 getoets het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Pim ·

Wat is so vreeslik lagwekkend? Beslis nie Covid nie, dis verwoestend!

VannieBaai ·

Dit was in die eerste plek baie onverantwoordelik van ouers om toe te laat dat hul kinders dié goed bywoon. Nou is daar weer hordes mense intussen aangesteek en op die end gaan daar weer “lockdown” wees omdat die syfers besig is om astronomies te klim. Drankwinkels en restourante gaan weer toemaak, duisende mense gaan weer hulle werk verloor en die ekonomie gaan net nog verder terugsak. Ek is bly die “Rage” is gekanselleer.

Oom Kaspaas ·

Die wat positief getoets het was nog nie daar nie, dis hulle toetse wat hulle vooraf by die huis moes doen

Philip ·

Hulle gaan in elke geval nogsteeds gaan, hulle verblyf is gereel, hulke gaan maar net hulle eie reëlings tref soos in die verlede en daar gaan geen toesig of nugter vervoer wees nie

Pim ·

Korrek want al die ouers het reeds hulle vliegkaartjies gekoop en die verblyf betaal. Hulle kan nie hulle geld terugkry nie. So hulle gaan nogsteeds almal gaan en nou net partytjie hou sonder enige mate van beheer.

Ouers gaan ook verkies om hulle nou knorrige tieners liewer vir ‘n paar dae uit hulle hare uit te kry!

Johnny ·

Dis nou ten spyte van die feit dat die inspuiting ‘n voorvereiste was vir bywoning, net soos in Ballito.
Sê die organiseerders hiermee dat die inspuiting nie werk nie?

Andries ·

Glad nie hartseer oor die afstel vann die “Rage” nie om ander redes as Covid. MOet tog net nie so kortsigtig wees om te dink dat sulke geleenthede die skuld moet kry vir ‘lockdown” en gepaartgaande werksverliese nie. Dwase politici en ‘n vreesbevange samelewing is verantwoordelik vir die werksverliese en ekonomiese chaos.

Pierre ·

Geld maak skema, skep n hype, verkoop kaartjies, blameer Covid, Kanseleer, sit terug en geniet jou geld siende jy weier om krediet te gee, ek is heel oortuig dit bots met CPA.

Sê maar net ·

Dis baie goeie nuus!!!
Matrieks, vier dit maar liewer by die huis saam met jul vriende. Kans vir ‘n groot golf van infeksies sal dan baie kleiner wees! En ek dink buitendien daai samekomste is gevaarlik en ‘n broeiplek vir drankmisbruik, wetteloosheid en dwelmmisbruik. Geen ouer met gesonde verstand sal sy kind soontoe stuur nie. My opinie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.