POF-eisers mag weer ‘eenvoudiger vorm’ gebruik – hof

Foto ter illustrasie. (Foto: Facebook / Paramedics, SAPS and Firefighters)

ʼn Uitspraak in die Pretoriase hooggeregshof is goeie nuus vir slagoffers van padongelukke wie se eise deur die Padongelukkefonds (POF) op grond van sy nuwe RAF1-vorm afgekeur is.

ʼn Volbank regters het eenparig beslis dat ’n raadskennisgewing en verwante RAF1-vorm wat in Mei 2022 gepubliseer is, onwettig was en dit tersyde gestel.

Dié kennisgewing en eisvorm het ʼn rits nuwe vereistes vir die indien van eise aan die POF daargestel, wat dit vir baie eisers moeilik gemaak het om vergoeding te eis weens die talle administratiewe hekkies waaroor hulle moes spring.

Die hof het die minister van vervoer gelas om binne ses maande ’n nuwe weergawe te ontwerp, en het gesê eisers wat nie aan hierdie verpligte vereistes voldoen het nie, weer hul eise kan indien deur gebruik te maak van die eenvoudiger RAF1-vorm wat in 2008 in werking gestel is.

Tienduisende onsuksesvolle eisers het dus dalk nou ʼn tweede kans om vergoeding van die POF te ontvang. Luidens die uitspraak het onsuksesvolle eisers tot 30 September vanjaar geleentheid om weer aansoeke in te dien.

Die POF is die afgelope jare in verskeie regstryde gewikkel, en het nou vir die tweede keer ʼn bloedneus oor sy RAF1-vorm in die hof gekry.

BusinessLive berig dat dié statutêre liggaam hom tot die appèlhof gewend het vir verlof tot appèl in ʼn uitspraak teen ʼn ander weergawe van sy RAF1-vorm wat in Mei en Junie 2021 van krag was.

Die nuusblad Moneyweb het destyds berig dat die hooggeregshof in hierdie saak bevind het dat die POF se raadskennisgewing ongrondwetlik, onwettig en ongeldig was. Verskeie bestuursdirektiewe is ook tersyde gestel. Die hof het verder gelas dat eisers wie se eise in Mei en Junie 2021 afgekeur is, ses maande ná die uitspraak kans gehad het om weer hul eise in te dien.

Voor die wysigings in 2021 en toe ook 2022 was daar nie van ongelukslagoffers verwag om uitgebreide dokumentasie en verslae saam met hul eise in te dien nie, en kon hulle verdere papierwerk verskaf soos sake vorder. In 2021 het die POF sy vereistes aangepas om polisie-ongelukverslae, finansiële state en mediese regsverslae in te sluit, waarsonder eise as onvolledig en ongeldig beskou is.

In die jongste uitspraak het die hooggeregshof opgemerk dat baie mense in Suid-Afrika arm is, met verswakte geletterdheid en beperkte toegang tot regsverteenwoordiging. Uitgebreide administratiewe vereistes kan dié eisers dus ernstig benadeel.

“Die indiening van ’n eis is ’n noodsaaklike stap om vergoeding ingevolge die POF-wet na te streef. Die RAF1-vorm moet nie ’n instrument word wat eise belemmer en sodoende teen arm mense diskrimineer nie,” het die regters in hul uitspraak gesê.

Soos in die vorige aangeleentheid het die hof beslis dat die POF sy bevoegdhede oorskry het met die publikasie van die raadskennisgewing wat die weg baan vir die nuwe RAF1-vorm wat in Mei 2022 in werking getree het. Dit is dus onwettig verklaar en tersyde gestel.

Die hof het verder bevind daar is geen bewyse dat die destydse vervoerminister, Fikile Mbalula, openbare deelnameprosesse oor die dokumentasievereistes van die RAF1-vorm (van 2022) van stapel gestuur het of deeglik oor die inhoud daarvan nagedink het voor dit in die Staatskoerant gepubliseer is nie. Dit is ook op grond hiervan onregmatig verklaar en tersyde gestel.

Mbalula se besluit het nie “aan die mees basiese vereistes van rasionaliteit en wettigheid voldoen nie,” het die hof bevind.

Die hof het ook gelas dat die POF en die minister die regskoste van sewe van die tien applikante moet betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danie ·

En soos altyd word die kostes betaal uit die belastingbetaler se sak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.