Pofadder se wonde nog rou

In die stofstrate van Voortrekkerstraat is die Pofadder Hotel geleë. Die Hotel is in 1938 deur Hennie von Wielligh as ‘n kommersiële hotel gebou (Foto: Anja van der Merwe)

In die stofstrate van die klein Noord-Kaapse dorp praat inwoners nie oudergewoonte oor die weer of slegte reënval nie. Hulle praat oor die moord in Von Wielligh-straat wat die dorp op 7 Oktober geruk het.

Inwoners van Pofadder probeer steeds sin maak die moord op Leon Brits (41), voormalige eienaar van die hotel op die dorp.

Leon se vrou, Suretha Brits, se skulderkenning vandeesweek vir sy moord was egter ʼn dubbele slag vir die dorp.

Suretha het Maandag ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan en is tot 25 jaar tronkstraf gevonnis. Sy het ter strafversagting aangevoer dat Leon manipulerend en jaloers was en dat hy haar vir 15 jaar mishandel het.

Inwoners bespiegel nou oor wat werklik agter die Brits-egpaar se geslote deure aangegaan het.

Die gras in die agterplaas van die egpaar se huis, waarop Leon met sy moordenaars gestoei het, is droog en verdor. Die swembad waarin sy liggaam gevind is, is vol troebel water. Die huis word nou uitverhuur aan kontrakteurs.

Die stuk gras waarop Leon sy laaste asem uitgeblaas het, is steeds dor en verdroog (Foto: Anja van der Merwe)

Die swembad waarin Leon se liggaam op 7 Oktober aangetref is (Foto: Anja van der Merwe)

Intussen rou geliefdes steeds oor Leon se dood. Volgens hulle was hy nie net ʼn sakeman van formaat nie, maar ook ʼn man met ʼn hart van goud.

“Leon se lewe was soos ʼn spieël en sy dood ʼn raaisel. Sy dood was vir almal ʼn terugslag. Hy was ʼn wonderlike man wat sy stempel in die gemeenskap afgedruk het,” vertel ʼn naby familievriend van die Brits-egpaar.

“Hy het mense gehelp waar hy kan. Hy het omgegee vir sy medemens. Hy was ʼn wonderlike man.”

In twee geskeur

Leon en Suretha Brits (Foto: Verskaf)

Die Brits-egpaar se name is die afgelope jaar op inwoners se lippe en elkeen het ook sy of haar twee sent om oor die saak te lewer.

ʼn Inwoner het anoniem aan Maroela Media vertel dat daar ʼn groot verdeeldheid in die gemeenskap is.

Volgens die inwoner het van die lede van die gemeenskap ná Leon se dood gespekuleer dat Suretha agter die moord sit, terwyl ander volgehou het dat sy onskuldig is.

Die nabye familievriend van die egpaar sê sy het ná Leon se dood dadelik vermoed daar is ʼn spreekwoordelike slang in die gras.

“By Leon se begrafnis het ek Suretha sit en dophou en dit het vir my gevoel sy sit ʼn show op. Net soos met haar briewe aan Leon wat sy ná sy dood op sosiale media geplaas het,” vertel die familievriend.

Van die inwoners meen ook die bewerings wat Suretha oor Leon in die pleitooreenkoms gemaak het, is vals en voel Suretha se vonnis is gans te lig.

“Dit is onregverdig, want hy is nie eens hier om homself te verdedig nie,” vertel nog ʼn inwoner.

Van die inwoners het egter meer simpatie met Suretha.

“Leon was ʼn goeie man, maar ons sal nooit weet wat werklik in hul huis gebeur het nie,” vertel ʼn inwoner.

“Ek kry haar jammer. As ek van haar emosionele letsels geweet het, sou ek na haar uitgereik en probeer help het. Dan sou Leon dalk steeds hier gewees het vandag,” vertel ʼn ander inwoner.

Buite-egtelike verhoudings

Pofadder – ‘n klein Noord-Kaapse dorpie – sowat 50 km geleë vanaf die Namibiese grens. Indien dié strate en geboue stories kon vertel, sou baie geheime verklap word (Foto: Anja van der Merwe)

Soos in enige klein dorpie ken almal mekaar en versprei skindernuus soos ʼn veldbrand. Só het Suretha se sogenaamde buite-egtelike verhoudings ook behoorlik die tonge los gehad. Die staat het ook tydens Suretha se borgtogaansoek verwys na haar verskeie buite-egtelike verhoudings.

“Suretha was loskop en het gehou van partytjie,” vertel die familievriend.

Volgens dié vriend het meeste mense op die dorp, insluitend Leon, van Suretha se buite-egtelike verhoudings geweet.

“Hy was net té lief vir Suretha om haar te los. Hy sou enigiets vir haar doen. Hy het nooit gepraat van skei nie. As Suretha hom gevra het om te skei, sou hy haar gegee het wat sy wou hê.”

Suretha het in die pleitooreenkoms gesê Leon wou nie skei nie en het gedreig dat hy haar én homself sou doodmaak indien hulle sou skei.

Suretha Brits konsulteer met haar regsverteenwoordiger, adv. Barry Roux. Sy was emosioneel tydens die hofverrigtinge (Foto: Anja van der Merwe)

Volgens ʼn ander inwoner het die Brits-egpaar in die openbaar heel verlief voorgekom en dikwels hand aan hand gestap. Die familievriend sê dié liefdesvlam het egter met tyd verdoof.

“Leon sou Suretha se hand vashou of haar speels op die boud klap en dan sou sy hom afjak. Sy het nie meer lus gelyk vir die huwelik nie,” het die vriend vertel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Irene ·

Daar is altyd 3 kante…..my kant……jou kant en die regte kant, punt is moord was nie n oplossing nie.

JohanR ·

Moet baie moelik wees om by die eggenoot wat jy hulp vermoor het se begranis op te daag, en te maak asof jy rou, trane en al. In Engels sou men se “you have to be a damn good actress!”

Mariaan ·

Ek kry die kinders die jammerste..ons as ouers moet hul ten alle koste beskerm! Nie vernietig nie…hoe moet hul nou met so n tragedie saamleef…

Yvonne ·

Dit bly erg..maak nie saak wat die redes is nie….en as sy nie in staat van beskuldiging gestaan het nie…..sou sy met haar gewete kon saam leef en net aangaan met die lewe????

AH ·

Ek reken sy sou te lekker aangaan met haar lewe. Die manier waarop sy die moord beplan en laat uitvoer het dui daarop dat haar gewete nie regtig bestaan nie. Sy het nie eens die pyn wat dit haar kinders veroorsaak ontsien nie.

Karina ·

Eers ‘n mooi Pofadder storie wat ons met hoop en dankbaarheid gelees het. Toe val ons plat met nog ‘n geweld storie, in Pofadder. Mooi na lelik. Ai, Pofadder se mense moet nou net sterk staan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.