Suretha het ‘sielkundige en fisieke letsels’

Die trane het Maandag in die hof oor Suretha Brits se wange geloop (Foto: Anja van der Merwe)

Suretha Brits, die vrou van die vermoorde Leon Brits, het ter strafversagting aangevoer dat sy swaar grootgeword het en dat sy haar hele lewe lank emosionele en fisieke trauma ervaar het.

Volgens die pleitooreenkoms, wat Maandag deur adv. Barry Roux in die hof voorgelees is, is Suretha se pa oorlede toe sy net nege jaar oud was. Die gesin het nie net emosionele trauma ervaar nie, maar ook finansieel begin swaarkry.

Suretha het Maandag die hof betree met ʼn netjiese uitrusting, gekrulde hare en ʼn glimlag op haar gesig.

Net voor die verrigtinge begin het, het Roux en Sandy du Plessis, haar regsverteenwoordigers, met haar beraadslaag en moed ingepraat vir die saak. Die trane het toe reeds oor haar wange gestroom.

Sy het telkens ʼn blou sakdoek uit haar sak gehaal en die trane afgevee. Gedurende die hofverrigtinge het sy ook deurgaans emosioneel voorgekom, so erg dat regter Mpho Mamosebo sag met haar gepraat en gesê het sy moet nie huil nie.

Nie een van Suretha of Leon se familielede was in die hof teenwoordig nie.

Luidens haar verklaring het Suretha Leon vyf jaar ná haar pa se dood – op die ouderdom van 14 jaar – ontmoet. Hy was toe 25 jaar oud.

“Leon het haar die nodige aandag gegee waarna sy gehunker het. Hy het haar ook met geskenke bederf. Hy het haar na plekke geneem waar sy nog nooit was nie. Hy het soos ʼn pa-figuur vir haar geword,” lui die ooreenkoms.

Maroela Media het vroeër berig sy het op ʼn jong ouderdom in ʼn seksuele verhouding met Leon betrokke geraak, en ʼn aborsie op 15 jaar gehad. Dié het ook letsels gelaat en luidens die pleitooreenkoms het Suretha post-traumatiese stres opgedoen weens die trauma van die aborsie. Sy het ook fisieke beserings gehad en moes verskeie operasies ondergaan.

Die gedugte adv Barry Roux verteenwoordig die weduwee Suretha Brits in die moordsaak wat vandag in die hooggeregshof in Upington begin. Regs is Suretha se prokureur, Sandy du Plessis, en links is private speurder Bushie Engelbrecht (Foto: Anja van der Merwe)

Roux het ter versagting van Suretha se vonnis aangevoer dat sy ʼn eerste oortreder is, asook die broodwinner van haar drie minderjarige kinders, onderskeidelik 12 en 10 jaar oud – wat nou sonder ʼn pa of ma sit.

Haar kinders het ná Suretha se inhegtenisneming op 29 Maart by haar suster gaan woon. Dié is getroud en het self twee kinders. Die regsproses is reeds aan die gang om Suretha se kinders amptelik onder die sorg van haar suster te plaas.

“Die kinders is goed versorg en het ʼn goeie verhouding met Suretha se suster en haar man. Die eksekuteur wat Leon se boedel afhandel, dra by tot die kinders se onderhoud.”

Daar is nog geen inligting oor Leon se boedel en wat van die geld gaan word nie.

Roux het ook aangevoer dat sy nie ʼn gevaar vir die samelewing inhou nie en reeds verantwoordelikheid vir haar dade aanvaar het deur die pleitooreenkoms aan te gaan. Volgens Roux het Suretha op dié manier ook reeds berou getoon.

Suretha is rehabiliteerbaar

Roux sê die feit dat Suretha bereid is om teen haar medebeskuldigdes, Enrich Williams (34) en Amantle Bareki (24), te getuig is ʼn aanduiding dat daar ʼn werklike vooruitsig op rehabilitasie is en verminder daardeur die moontlikheid dat sy ʼn herhaalde oortreder sal word.

“Die omstandighede wat tot die moord van Leon gelei het, maak egter nie die misdaad minder ernstig nie – veral in die lig daarvan dat dit vooraf beplan is. Die moord is ʼn sogenaamde ‘kontrakmoord’ – wat as ʼn baie ernstige misdaad beskou word. Nie een van die versagtende omstandighede wat genoem is, regverdig die misdaad nie,” het Roux gesê.

Sy is uiteindelik lewenslank tronk toe gestuur vir die moord op haar man in Oktober verlede jaar.

Suretha se twee medebeskuldigdes. Van links: Enrich Williams (34) en Amantle Bareki (24) (Foto: Anja van der Merwe)

Bareki en Williams se verhoor is tot Maandag uitgestel, waar Suretha en Jacques Janse van Vuuren as staatsgetuies sal getuig.

Die private speurder Bushie Engelbrecht – wat Suretha twee maande ná Leon se moord aangestel het om haar onskuld te bewys – sê die pleitooreenkoms was ʼn wyse besluit. Engelbrecht het sedert sy aanstelling ʼn hegte band met Suretha gesmee en sê sy is soos sy dogter.

“Ek glo dat Suretha ná alles as ʼn ander mens hieruit sal stap,” vertel Engelbrecht aan Maroela Media. “Sy is nie ʼn gebore misdadiger nie. Sy het net ʼn hartseer verlede.”

Engelbrecht het ook die ondersoekspan geloof vir hul harde werk en sê hulle het die saak uiters professioneel hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

59 Kommentare

Jr ·

Duisende mense het hartseer lewens, maar vermoor nie mense nie. Maar deesdae is elke krimineel ‘n arme victim. Koop dit nie

Snowball ·

Geoefende trane (waarskynlik meer uit selfbejammering). Vra mens jouself af of sy ooit berou gehad het of skuld sou erken het uit eie wil as sy nie vasgetrek was nie, dink ek nie so nie. Sy sou wegkom met moord. Dit was haar doel. Berekende, koelbloedige, beplande moord met finansiële gewin as motief.

anniekiewiet ·

Jy mag dalk reg wees. Maar het jy saam met haar in hul slaapkamer gesien wat regtig gebeur het?

anniekiewiet ·

Nee, daarom veroordeel ek haar nie. En het ek gesê jy mag dalk reg wees, maar…

Snowball ·

Wat is veroordeel Anniekiewiet? Moet die mensdom moord ook goedpraat onder die dekmantel ‘moenie oordeel nie’? God oordeel mense. Mense pas bloot wette toe sodat ons in ‘n beskaafde samelewing kan bly, waar elkeen nie na begeerte of behoefte kan maak wat hulle wil nie. Wat as dit jou seun was wat vermoor was? Sou jy gehoop het mense veroordeel haar nie. Regverdig ‘n slegte kinderlewe die neem van ‘n ander lewe? Aan wie se kant behoort die wet te staan? Aan die moordenaar se kant wat jare reeds aan hierdie uitkoms werk en nou huil omdat hulle vas is?

MT ·

@Snowball

Sy het die moord erken, en gaan na alle waarskynlik ‘n baie lang vonnis uitdien.

Ek sal egter skat dat haar vonnis minder gaan wees as die 40 jaar wat Moses in die woestyn moes uitdien na sy moord op ‘n onskuldige Egiptenaar. En dank God dat Hy toe kans gesien het om met ‘n BEKEERDE eks-moordenaar saam te werk om sy geliefde volk uit die Egiptiese dwang te bevry.

Bid eerder vir Suretha se berouvolle bekering.

anniekiewiet ·

Nee, die veroordeling hier waarvan ek my weerhou, is teen haar as mens, of sy mishandel is of nie. Of sy stories verdraai of nie. Ek praat nie die moord en beplanning daarvan goed nie. Dit was en sal altyd verkeerd bly. Maar ek is net so skuldig aan moord as sy. Want al verwens ek net iemand, of vloek selfs in my gedagtes, is dit voor God so erg soos moord, en ek het dit seker al paar keer in my lewe gedoen. So ek is net so sleg in sonde. Daarom is ek so oneindig dankbaar dat Christus ook my sonde weggeneem het. En joune ook.

AW ·

Wat kan n Mens hier op sê!!

As mens hierdie berig in agneem , weet ons daar is Duisende Vroue wat die selfde deurmaak / ervaar.

Ongeag of die vrou moord pleeg of Nié.

Plaaskind ·

Steeds nie nodig om te moor nie. En Leon kan hom nie verdedig teen hierdie aantuigings nie danksy haar hartelose optrede.

Perdeby ·

Die vraag is praat sy die waarheid? Die man is nie daar om homself te verdedig nie. Sy gaan nog in ‘n tronksel sit vir 25 jaar met GEEN GELD of familie en kinders nie. Sy het gedink aan geld toe sy hom laat vermoor het, nie die nagevolge nie.

Papsak ·

Ek dink niks van so vrou wat n ander mens en dit nog haar eie man se lewe laat vat het nie sy moet sitvir haar dade

Frederik C ·

Sy is nou bereid om teen die ander twee te getuig. Is hulle nie juis betrokke deur haar toedoen nie ??

ES ·

Feite… maar ek dink sy doen dit sodat sy in aanmerking kan kom vir parool oor ‘n paar jaar.

Alma ·

Ja-nee, ek wonder net wat sal sy dan nou teen die twee getuig, aangesien sy die een is wat voordeel uit die moord getrek het.

anniekiewiet ·

Sy sou dalk voordeel kon trek, maar kry nou niks. Vir dieselfde prys as wat baie dink sy als vir geldelike voordeel gedoen/beplan het, het hulle dit koelbloedig uitgevoer. Hoekom het hulle nie geweier nie?

JohanR ·

Sy was die baasbrein en het die orders gegee, en die toutjies getrek?????? Wat is daar nie verstaane as iemand vir jou se “ek wil he jy/julle moet my man doodmaak?”

anniekiewiet ·

Ek sal dit nie vir R miljoene kon doen nie, as God my bly vashou.

Irene ·

Ek voel baie jammer vir haar maar moord moes nooit eers n gedagte gewees het nie, wat het sy gedink……dat dit nie sou uitkom nie. Ek voel BAIE jammer vir haar kinders wat nou by familie gaan groot word. Sy moes liewers haar kinders gevat en gegaan het en met n goeie prokureur sou hy(Leon) vir hulle kinders sorg en sy sou nie sonder geld gewees het nie. Dis n gemors…..dis net so flippen hartseer.

Di ·

Wat sy gedoen het is wreed maar as mens na haar lewensverhaal luister vertel dit ook ‘n harseer storie. Mens kan maklik oordeel as jy nie self deur hierdie dinge gegaan het nie. Voel baie jammer vir die kinders wat nou sonder beide ouers deur die lewe moet gaan.

Kobus ·

Ek sien ‘n pragtige vrou van buite, maar ‘n stukkende mens binne. Ek oordeel nie , ek glo dat sy dalk breekpunt bereik het en hierdie onbesonne daad is / kan die gevolg daarvan wees. Die Japanese se mos ‘n kruik wat stukkend is kan met goud insetsels herstel word en dan het mens ‘n pragtige nuwe kruik. Hoop sy kry ‘n tweede kans. Wat ookal dier uitkoms, sterkte aan almal betrokke

anniekiewiet ·

Juis soveel te meer, hoeveel keer het sy dalk gewens dinge kon regkom vir haar, sonder om só ver te gaan.

Plaaskind ·

@anniekiewiet – jou redenasie maak ook nie sin nie, DAAR IS ANDER MANIERE!!!!

anniekiewiet ·

Ja, ander het dit probeer en is toe saam met kinders doodgemaak. Nog steeds praat ek nie haar moord beplanning goed nie, maar ek veroordeel haar ook nie. Ek weet nie wat die waarheid is nie. Netnou word ek met dieselfde slegsê veroordeel as ek my storie vertel.

Perdeby ·

En dit regverdig nie dat sy ‘n huurmoord vir haar man beplan en deur gevoer het nie. Geld is al wat sy aangedink het. Sy gaan in elk geval nie ‘n sent van sy geld sien of kans hê om dit te spandeer nie. Al die geld sal in ‘n trust vir die kindes wees tot hulle 21 is, want hulle is minderjarig. Die pleegouers sal tot dan elke maand ‘n toelaag ontvang, en ek glo die trust sal al hulle skoolgelde ook elke maand betaal sovel as hulle skool toerusting. Die arme 2 kinders is nou sonder ouers as gevolg van haar, sy moes daaraan gedink het .

Aanhouer ·

Ek en ontelbaar baie ander het ook trauma as kind en in ň huwelik beleef en swaargekry en nog nooit moord as ň opsie oorweeg nie. Daar is altyd ň ander uitweg.
Die trane is net vir haarself. Sy voel bitter jammer vir haarself.

MT ·

Ek was nie bewus daarvan dat jy haar so goed ken nie. Ek reken dat jy dalk ‘n goeie staatsgetuie sou kon wees.

Swerwer ·

Soos ek al verneem het is die Tronk nie ‘n plek vir mense wat Sielkundige letsels het en hulp nodig het nie. Ek hoop en bid dat hul /die regering haar die nodige sielkundige hulp sal bied met haar pad na herstel.

SjN ·

Hoe stel sy iemand aan om haar onskuld te bewys as sy dan skuldig is.

Maritza ·

Sy moet boet vir haar dade maar hy wat ‘n kind van 15 soveel skade aan doen???

Sues ·

Onthou hy is nie meer hier om homself te verdedig nie, dis net haar woord wat nou aanvaar word.

piet ·

Hoe ironies. Hulle voer ter strafversagting aan dat sy teen die mede-beskuldiges getuig in die mean time is dit einste sy wat die mede-beskuldiges met haar eie bose planne betrek. Pffft.

Snowball ·

En dat sy nou, alleen die broodwinner is???? Sy is dan agv die einste moord die rede daarvoor, of mis ek iets? As jy jou man vermoor kan jy dít as versagting pleit, want dan is die wêreld en die regstelsel meer skeefgetrek as wat ek gedink het.

marius ·

Korrek . As daar nie verdoemende getuienis teen haar was nie , het sy dood normaal aan gegaan met haar lewe en sy geld .

ES ·

Ek wonder hoe jy ooit weer ‘n verhouding met jou kinders kan he as jy ooit uit kom op parool? Want jou kinders gaan groot word met die wete dat jy die moord op hul pa beplan het…

Kobus ·

Es, dit bly hartseer. Wie weet, dalk het die kinders ook onder die pa deurgeloop. En ja,hy kan homself nie verdedig nie. Jammer mense veroordeelhaar. Niemand anders as sy weet wat daar aangegaan het nie. Ek voel regtig vir haar. Ons het moontlik almal groen koring op die land, mens kan net hoop en bid dat so iets mens gespaar sal bly

anniekiewiet ·

Beslis, Kobus. Ek het in n kommentaar iets genoem oor mishandeling. Emosionele mishandling kan jou knak as niemand jou wil glo nie. En sjoe, hier is darem slim mense op dié groep.

Feather ·

95% van ons het wa vragte vol emosionele bagasie, as elkeen van ons een mens vermoor het, dan was die wêreld sonder bewoners…

Fran ·

…’gedugte’ Barry Roux wat 100-0 verloor het teen Gerrie Nel! Al wat gedug is, is sy fooi!

Dink ·

Ons regstelsel word ‘n stelsel waar mense soos sy en hulle kriminele dade “enable” word.

Shame jy het ‘n harde lewe gehad, daar is mense in die land wat deur baie en veel erger dinge in hulle lewe moes gaan en nie moord as ‘n uitweg beplan het nie. En hoe word jy wat hierdie moord beplan het laat voltrek het ‘n staats-getuie??? Hoe slaap ons regs-geleerdes? Trek sy die wol oor almal se oë?

Vir jou kinders voel ek die jammerste, watter letsels en emosionel skade het jy hulle nou toegedien wat hulle nou moet saamdra vir die res van hulle lewe? Mag God jou genadig wees.

anniekiewiet ·

Skielik wonder ek hoeveel ander mense kom wel weg met beter beplanning. Wie sal weet?

nikkel ·

Wat sy gedoen het is onverskoonbaar.
Wat egter kommerwekkend is dat sy op 15 jarige ouderdom ‘n aborsie moes ondergaan?
Ek dink sy is sielkundig geknak gewees.
Elke mens reageer verskillend op trauma.
Die saadjie was gesaai gewees vir haar hartelose daad.
Ongelukkig gaan die kinders ly onder haar onbesonne daad se nagevolge.
Die band tussen ma en kind is besonders sterk. Hulle gaan self letsels opdoen.
Hopelik gaan hulle ten spyte daarvan goed aan die anderkant uitkom.

anniekiewiet ·

Of sy nou eerlik is of nie, weet ek glad nie. Maar mense wat so slim en oulik is oor hoe ander mishandelde mense en hulle wat deur groot trauma leef, nie tot moord oorgaan nie, gaan lees op oor hoeveel seer in hierdie wêreld is en hoeveel gebreekte mense onder hul lewensmaats ly.
Dan gaan sê jy vir God dankie dat jy nie in so ‘n bootjie sit nie en gaan en reik uit na ander wie jy dalk kan ondersteun.

Plaaskind ·

@ anniekiewiet, weet jy of die storie wat sy die keer spin werklik waar is? Sy het hoeveel leuens al vertel rakende haar betrokkenheid by sy moord. Hou op om ‘n man wat nie meer vir homself kan praat nie te beswadder. Niks maar niks regverdig haar aksie nie.

Kobus ·

Al gehoor hoeveel vroue en kinders word vermoor indien die egskeiding plaasvind?

anniekiewiet ·

Hier is lesers wat werklik nie verstaan nie. Ek hoop hulle beleef dit nooit eendag nader aan eie vel nie.

Chantel ·

Ander mense se huise is duister. Daar is soveel wat agter die skerms kon gebeur het, maar om haar opbring as jong kind as verskoning te wil gebruik is nonsens, wat nog van PTS. Dit was steeds haar keuse om die te doen en daarvoor moet sy ongelukkig haar staf uitdien.

Karinda ·

Natuurlik was die aborsie traumaties, maar sy was nie verkrag nie.

Dink net die trauma wat SY persoonlik haar 3 kinders aangedoen het. Nee wat, hierdie was slegs vir finansiele gewin en om saam met haar skelmpie lekker te lewe na haar man se wrede dood. Sit maar!

Francois ·

Ek hoop die spul wat hier nou sit en oordeel fel, bly in huise met veiligheids glas. Julle oordeel bloot op wat julle in ‘n sensasionele nuusberig of 10 lees. Het enigiemand saam in hulle huis gebly? Indien nie, bly dan eerder stil. Ek praat nie goed wat sy gedoen het nie, maar wraggies is julle lewens so vroom, skoon en edel, dat julle kan bekostig om klippe te gooi? Ken julle vir karma?

Pyl ·

Almal is hard op die vrou, en ek stem saam, maar waarom die simpatie op sosiale media met Oscar Pistorius? Ten minste is die vrou eerlik, nie ‘n lafaard soos Oscar wat steeds volhou hy het gedink dis ‘n groot gevaarlike boef in sy toilet nie.

Rob ·

Die madam het daagliks na die moord op haar man mooi boodskappies en skrywes geplaas oor hoe wonderlike man hy was en hoe sy hom mis en hoe wonderlik hy haar en hulle kinders behandel het. Sy het toe niks gesê van haar stringe buite-egtelike verhoudings waarmee hy moes saamleef en die kere wat sy ‘n ander minnaar gevra het om haar man “uit te haal” nie. Hierdie vrou is die tipiese “Black Widow”.

De Korte Du Plessis ·

Suretha Brits is tot 25 jaar tronkstraf gevonnis. Sy is nie “lewenslank” tronk toe gestuur nie. Dit is ń feitefout om dit so te stel. Alhoewel die vonnis tydperk vir beide 25 jaar is, is daar geen parool vir ‘n beskuldigde wat “lewenslank” gevonnis word nie. Julle maak hierdie stelling verkeerdelik in meer as een artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.