Polisie, boere trek trokdiewe vas

Dié vragmotor is van ‘n plaas in Vredefort gesteel. (Foto: SAPD)

Samewerking tussen die polisie en boeregemeenskap in Vredefort in die Vrystaat het daartoe gelei dat twee mans vasgekeer is kort nadat hulle ʼn vragmotor van ʼn plaas in die omgewing gesteel het.

Die polisie het Vrydag gereageer op inligting dat drie gewapende mans ʼn vragmotor van die plaas Tweelingkop in Vredefort wou steel. Luidens inligting sou die verdagtes deur ʼn wit Toyota Corolla met ʼn Lesotho-nommerplaat vergesel word.

“Teen omtrent 20:00 het die polisie inligting ontvang dat die verdagtes by ʼn skuur op die plaas ingebreek en die 10 ton-Faw-vragmotor gesteel het. Die beweging van die vragmotor is dopgehou terwyl verdagtes daarmee van die plaas af weggery en by ʼn vulstasie in Vredefort stilgehou het,” het brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie in die Vrystaat, Sondag in ʼn verklaring gesê.

Lede van die polisie het die vragmotor voorgekeer en een verdagte, wat binne die voertuig was, in hegtenis geneem. “Met behulp van die boerderygemeenskap is die Toyota Corolla, wat die vragmotor vergesel het, tussen Vredefort en Kroonstad opgemerk. Die verdagtes het vir lede van die gemeenskap en polisie weggejaag, maar is uiteindelik vasgekeer en in hegtenis geneem,” het Makhele gesê.

Geen vuurwapens is egter by die mans gevind nie. Daar is wel beslag gelê op toestelle wat gebruik word om by voertuie in te breek. Dit is nie seker of daar wel ʼn derde verdagte is en, indien wel, wat van hom geword het nie.

“Twee verdagtes, tussen 34 en 44 jaar oud, sal aangekla word van sakeroof en die besit van ʼn gesteelde voertuig. Die mans sal Dinsdag in die landdroshof in Vredefort verskyn.”

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pine ·

Hopelik het die fks eers diesel ingegooi voor die boer sy trok kon terugkry.

Jack ·

Kan net in n landelike gebied werk. Mooi. Die wapens sal langs die pad weggegooi wees. Gaan soek gerus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.