Polisie ontbied oor betogings by Ikeys

Die Universiteit van Kaapstad. (Foto: Facebook)

Die Universiteit van Kaapstad (UK) het Woensdag gesê hy neem met kommer kennis van ʼn groep studente wat lesings by die kampus ontwrig het.

“Hierdie ontwrigtings is onwettig kragtens die interim-interdik wat op 17 Februarie 2023 in die Wes-Kaapse hooggeregshof bekom is,” het die woordvoerder van die universiteit in ʼn verklaring gesê.

Dié interdik verbied verdere gewelddadige betogings, beskerm infrastruktuur en studente wat graag wil leer om dit te doen sonder enige ontwrigting en bepaal dat studente vrylik op die kampus mag rondbeweeg sonder intimidasie.

“Die betrokke lede van die uitvoerende raad het gevolglik die polisie in kennis gestel en beamptes sal ingryp en reageer op die ontwrigting.”

UK sê hy benadruk sy standpunt oor die reg tot wettige betoging, maar sal teen enige onwettige aksies optree.

“Die uitvoerende raad bly verbind tot gesprekke oor enige kwessie, en benadruk dat ʼn rits maatreëls reeds in plek gestel is om meer as 4 000 studente, wat agterstallig is met hul betaling, toe te laat om vir die 2023- akademiese jaar te registreer.”

Slegs ʼn paar klasse is ontwrig, aldus die verklaring. “Die res van die klasse duur voort. Waar dit prakties moontlik is, sal klasse vir die res van die dag ook voortduur terwyl die uitvoerende raad maatreëls instel om op die onwettige en ontwrigtende betogings te reageer.”

Yusuf Mohamed, DA-raadslid in Kaapstad, het gesê die party veroordeel ten sterkste die onwettige betogings by die UK.

“Ons ondersteun die waarnemende visekansellier se versoek dat die SAPD dadelik moet reageer.”

Mohamed sê vandag se betogings oortree die interdik deur aggressiewe ontwrigting en aanranding van studente. “Ons hoop dat die SAPD beheer sal oorneem en die instansie sal beskerm sodat leer onverpoosd kan voortduur.”

Maroela Media het vroeër berig die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) en die parlementêre portefeuljekomitee vir hoër onderrig, wetenskap en innovasie het hul kommer uitgespreek oor die toenemende geweld wat met betogings by veral universiteite, maar ook ander sektore gepaardgaan. Die MRK sê hy ondersteun vreedsame betogings waartydens studente en werkers hul griewe uitdruk, maar veroordeel voorvalle van geweld wat gebruik word om boodskappe mee oor te dra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Groen Ghoen ·

Orals, orals net geweld: Plaasmoorde, betogings “oor dienslewering,” universiteite, grondbesettings, motorkapings, vragmotors wat uitgebrand word, dieremishandeling, bendegeweld, selfs kerke wat beroof word. Is daar enigiemand met ‘n bietjie HOOP vir hierdie droewe land en sy vernielde mense?

Catherina ·

Geen hoop meer. Moedeloos oor hierdie eens pragtige land

Dup ·

In 2024 sal al hierdie bokspringende “studente” weer vir die geel/groen/swart party stem…en daarna weer begin bokspronge maak terwyl hulle sing en bande in die paaie brand.Niks sal ooit verander nie !

Republikein in die Wes Kaap ·

Net nog ‘n Ingilse African university.

annie ·

Die SAMRK… Watter rol speel dié kommissie om vrede in die samelewing eerder teën te werk?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.