Polisie slaan toe op wapenhandel in Alexandra

Argieffoto (Foto: Hansie Linde)

Die polisie het twee verdagtes aangekeer wat glo vuurwapens en ammunisie in Alexandra, Gauteng, verkoop het – nadat vyf mense die afgelope naweek hier doodgeskiet en vyf gewond is.

Volgens lt.kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, het die polisie ʼn wenk ontvang van mense wat in Alexandra en Cosmo City handel dryf met onwettige vuurwapens. ’n Intelligensiegedrewe operasie is uitgevoer waartydens die polisie op geïdentifiseerde huise toegeslaan het.

“Die eerste soektog is in ʼn huis in Cosmo City gedoen waar die polisie op ʼn vuurwapen en ʼn magasyn beslag gelê het. ’n 44-jarige verdagte is in hegtenis geneem,” sê Masondo.

Die polisie is na ’n tweede huis in Alexandra gelei waar die polisie ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, waaronder ’n 9 mm-pistool, ʼn 9 mm-Uzzi, ʼn .38 Special-rewolwer en meer as 20 patrone gekonfiskeer het.

’n Tweede verdagte (33) is Dinsdag in Rietgat, Pretoria, in hegtenis geneem nadat hy in die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen gevind is. Die verdagte was na bewering betrokke by kapings en rooftogte in die gebied.

Die verdagtes staan tereg op aanklag van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie. Daar is ook vasgestel dat die verdagtes al voorheen vasgetrek is vir die besit van ongelisensieerde vuurwapens.

“Die polisie werk saam met die gemeenskap om die wapens terug te kry wat gebruik is in die pleeg van ernstige en geweldsmisdade in Alexandra en ander dele van Gauteng.”

Lt.genl. Elias Mawela, provinsiale polisiekommissaris in Gauteng, het die lede van die gemeenskap geloof wat aan die polisie inligting verskaf het wat tot die verdagtes se inhegtenisneming gelei het.

Maroela Media het vroeër berig 12 mense, tussen 18 en 25 jaar oud, is vasgetrek ná ’n reeks aanvalle wat verlede week in Alexandra plaasgevind het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Nico Strydom ·

Dagsê Waarnemer

Jammer vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Vriendelike groete
Maroela Media

Heinrich ·

“’n Intelligensiegedrewe operasie is uitgevoer”; gedog dis net vir die verskillende faksies in die ANC om op mekaar te spioeneer. Goed om te weet daar word darem nog aan misdaad ‘n krummeltjie aandag gegee.

SjN ·

Dit is seker van die wapens wat ingehandig was om vernietig te word in Pretoria, daar was mos n berig dat die Sapd se die proses is te duur, vindingryk verkoop hul dit nou en vul hul inkomste aan en Mnr Hoedeman en sy kaders doen niks en is trots op sy mense.

Papsak ·

Sluit hulle toe ons mag nie sulke vuurwapens besit nie hoekom mag hulle wil onskuldige mense dood skiet

Di ·

My vraag is net – as verdagtes al voorheen vasgetrek is vir die besit van ongelisensieerde vuurwapens, WAT SOEK HULLE OP STRAAT? Kriminele lag vir die gereg, daarom sal misdaad nooit onder beheer gebring word nie. Word gevang, betaal boete en gaan aan met PRESIES dit waarvoor hulle gevang was. LAGWEKKEND. Onskuldige mense wat hulle self verdedig of wat WAAG om op te staan teen “our people”, word in tronke gestop en kriminele loop buite rond

Swerwer ·

Hoed was seer sekerlik nie betrokke by hierdie operasie nie! Dit moes beslis deur beamptes uitgevoer gewees het wat nog trots op hul werk is en wil werk sonder ondergrondse bybedoelings.

Pietertjie ·

Die polisie kan gerus in hulle eie geledere begin soek na wapen- en ammunisie probleme.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.