Vyf sterf, vyf gewond in bloedige nag in Alexandra

Joshua Mbatha, musiekbestuurder by die radiostasie Alex FM, is in een van die aanvalle doodgeskiet. (Foto: Alex FM)

Die polisie is op soek na die aanvallers wat die afgelope week vyf mense doodgeskiet en vyf ander op verskillende plekke in Alexandra in Gauteng gewond het.

Dit is in hierdie stadium onduidelik of dieselfde groep aanvallers vir al die aanvalle verantwoordelik was. Minstens vier mense is vermoedelik betrokke.

In een van die jongste voorvalle is Joshua Mbatha (32), musiekbestuurder en aanbieder by die radiostasie Alex FM, Donderdagaand doodgeskiet.

Mbatha, ook bekend as DJ Jorontinah, was saam met kollegas Sammy Ramodike en Matome Mookanedi, op pad huis toe, toe drie gewapende mans hulle in Sewende Laan voorgekeer het.

Isaac Mangena, voorsitter van Alex FM, sê die aanvallers het die drie se selfone en skoene gebuit voordat hulle Mbatha in die bors geskiet het.

Hy het omstreeks 21:00 by die Masakhane-kliniek aan sy beserings gesterf. Sy pa en ander familielede het hulle ná die skietery daarheen gehaas.

Lt.kol. Mavela Masondo, Gautengse polisiewoordvoerder, sê die ander twee slagoffers is ook vir mediese behandeling geneem.

Die moord op Mbatha volg op verskeie soortgelyke voorvalle gister.

Volgens die polisie het die bende aanvallers in die eerste voorval op die hoek van Vierde Laan en Selbournestraat op die insittendes van ʼn Toyota Etios losgebrand. Een persoon is beseer.

Die tweede voorval was in die omgewing van 11de Laan en Boulevardstraat. Die twee slagoffers het in ʼn motor gesit waar hulle hul selfone gelaai het omdat beurtkrag in die gebied toegepas is.

“Die verdagtes het die slagoffers van hul selfone beroof voordat hulle geskiet is. Albei slagoffers is na mediese sentrums vir behandeling geneem,” sê Masondo.

Die verdagtes het daarna nog iemand in Boulevardstraat doodgeskiet.

Die aanval op Mbatha en sy kollegas het daarop gevolg.

Hierna was daar nog ʼn aanval, dié keer in die omgewing van Sesde Laan. Volgens Masondo is twee mense in ʼn Toyota Avanza geskiet. Hulle het op die toneel gesterf.

Die polisie ondersoek vyf moordsake, vyf sake van poging tot moord en ʼn saak van gewapende roof.

Lt.genl. Elias Mawela, Gautengse polisiehoof, het die aanvalle ten sterkste veroordeel en ʼn span, bestaande uit lede van verskillende eenhede, aangewys om die bende aan te keer.

Een man is reeds in hegtenis geneem nadat hy met ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie betrap is. Daar moet egter nog vasgestel word of hy met die vlaag aanvalle verbind kan word. Volgens Mawela sal die vuurwapen forensiese toetse ondergaan om vas te stel of dit in die uitvoering van ʼn misdaad gebruik is.

Die polisie is ook bekommerd oor die toename in vuurwapens in Alexandra en sê pogings duur voort om onwettige vuurwapens uit omloop te haal.

David Makhura, Gautengse premier, het ook met woede op die vlaag aanvalle gereageer. Volgens hom is sewe mense in die aanvalle beseer en nie vyf nie, soos die polisie sê.

“Ons is diep bekommerd en bedroef deur die toenemende getal sinlose moorde op onskuldige inwoners. Misdadigers kan nie ons mense op hierdie manier gyselaar hou nie. Geweld en geweldsmisdaad het geen plek in ons gemeenskap nie,” het die premier Vrydag gesê.

Hy het ʼn beroep op wetstoepassers gedoen om alles in die stryd te werp om die aanvallers aan te keer en inwoners gevra om na vore te kom met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

marius ·

Misdadigers is in beheer van hierdie hool . Wetstoepassing is totaal disfunksioneel en dien geensins as afskrikking nie .

Jacobus ·

Toemaar Cele sal weer in trane uitbars dan is alles vergete.

Hennie ·

Kan iemand net vir die naasbestaandes laat weet dat Cele in die “struggle” was en dat hy in koue water was, op Robber Island en dat hy nie ‘n tuinier wil wees nie. Dankie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.