Polisie staak soektog na vermiste matrikulant op skoolterrein

Emiel Smit (18) word sedert Woensdag vermis. (Foto: Verskaf)

Die Wes-Kaapse polisie ondersoek nou die moontlikheid dat die matrikulant van Hoër Landbouskool Boland in die Agter-Paarl wat Woensdag verdwyn het, uit vrye wil die skoolterrein verlaat het. Die polisie is ook oortuig dat hy nie meer op die skool se terrein is nie en staak nou hul soektog.

Só het Nelius van Santen, voorsitter van die skool se beheerliggaam, Vrydag aan Maroela Media gesê.

Maroela Media het Donderdag berig Emiel Smit (18) is Woensdag net ná 12:00 vir die laaste keer in die omgewing van die skool in die Agter-Paarl gesien. Polisie en lede van die gemeenskap soek sedertdien onverpoos na hom.

“Na aanleiding van ʼn deeglike ondersoek maak die SAPD die volgende afleidings: Die ondersoek het genoegsame bewyse opgelewer dat Emiel nie op die skoolterrein is nie; die ondersoek op die skoolterrein en plaas word gestaak; die moontlikheid dat Emiel die terrein uit vrye wil verlaat het, word ondersoek. Verdere leidrade word opgevolg oor waar Emiel hom tans kan bevind,” het Van Santen gesê.

Van Santen het sy dank teenoor die Suid-Afrikaanse Polisiediens, verskeie plaaswagorganisasies, veiligheidsmaatskappye, asook individue in die gemeenskap betuig wat sedert Woensdagmiddag onverpoos gehelp het om die skoolterrein en plaas te fynkam op soek na Emiel.

“Ons kinders, personeel en plaaswerkers se veiligheid bly vir ons van die uiterste belang, en sal ons alles in ons vermoë bly doen om dit so te hou.”

Hy versoek mense steeds om te help om Emiel op te spoor. Enige inligting word verwelkom en kan deurgegee word aan Stop Misdaad by 08600 10111 of deur die skool te skakel by 021 869 8143.

Maroela Media het die polisie genader om kommentaar, maar dié wou geen verdere inligting verskaf nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kobus ·

Ek verstaan nie……….hy het uit vrye wil die terein verlaat en nou is hy aan sy eie lot oorgelaat? Hy kan dalk buite die skoolgronde iets oorgekom het?

charlotte ·

Ek verstaan ook nie. Hoe weet hulle hy het terrein op VRYE wil verlaat??. Hoop regtig die seun is veilig

anko ·

Ouers het blykbaar versoek dat soektog deur WCMPU gestaak word. SAPD het blykbaar sy selfoon in die kamer gevind. Hoop hy word gevind.

Korrelkop ·

Ag kom nou, ‘n 18 jarige laaitie loop weg en NIEMAND weet waar hy is nie… pffff

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.