Polisie vra publiek se hulp ná moord op Leap-beamptes

Die polisie in Kaapstad het Woensdag ʼn dringende beroep op die publiek gedoen om te help om verdagtes ná die moord op twee Leap-beamptes op te spoor en vas te trek. Leap is die Kaapstad-metro se plan vir die bevordering van wetstoepassing.

Lt.kol. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, sê die verdagtes word met twee voorvalle verbind – die driedubbele moord in Sobwabile-rylaan in Kaapstad wat in Mei vanjaar die lewe van ʼn 25-jarige Leap-beampte geëis het, en die moord op ʼn Leap-beampte wat tydens die gewelddadige taxi-betoging in Augustus doodgeskiet is. Lasbriewe vir die inhegtenisneming van die verdagtes is deur die hof uitgereik.

“In die eerste geval het die polisie in Nyanga omstreeks 14:15 op ʼn moordtoneel in Sonwabile-rylaan gereageer toe hulle op die liggame van drie mans in ʼn voertuig afgekom het.

“Een van die passasiers was Siphelo Magwa, ʼn Leap-beampte wat in Mitchells Plain diens gedoen het. Hy was tydens die voorval nie aan diens nie.”

Pojie sê in die tweede voorval is ʼn Leap-beampte tydens die gewelddadige taxi-betoging op 4 Augustus in Nyanga aangeval en doodgeskiet.

“Zanikaya Kwinana (33) was omstreeks 20:00 saam met sy kollegas besig om die strate van Nyanga te midde van die gewelddadige taxi-betoging te patrolleer toe hy aangeval is. Hy het ʼn noodlottige skietwond aan sy kop opgedoen.”

Speurders verbonde aan die provinsiale ernstige en geweldsmisdaad-ondersoekeenheid in samewerking met die Stad Kaapstad se ondersoekeenheid is hard aan die werk om die verdagtes op te spoor en vas te trek.

“Ons doen ʼn beroep op enigiemand met inligting oor waar die verdagtes hulself kan bevind om die ondersoekbeampte, kol. Mtheto Mxabaniso, by 082 339 7329 of kapt. Lukhanyo Magathla by 082 411 3245 te bel.

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.