Polisie werp lig op advokaat se inhegtenisneming in hof

Adv. Malesela Teffo word in hegtenis geneem. (Foto: Skermgreep via eNCA)

Die bestuur van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) sê daar is ʼn logiese verduideliking waarom adv. Malesela Teffo Donderdag, nog geklee in sy toga, in die Pretoriase hooggeregshof in hegtenis geneem is.

Die provinsiale polisiekommissaris in Gauteng, lt.genl. Elias Mawela, het die omstandighede rondom Teffo se inhegtenisneming ondersoek nadat die Algemene Balieraad (ABR) en lede van die publiek hul kommer oor die wyse van die inhegtenisneming uitgespreek het.

Teffo is kort nadat hy vier van die beskuldigdes in die opspraakwekkende Senzo Meyiwa-moordverhoor verdedig het, deur beamptes in hegtenis geneem.

Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, sê hy het Mawela se verslag ontvang en hoop dat dit ʼn paar bekommernisse in die saak sal uitklaar.

“Adv. Teffo is deur die SAPD in hegtenis geneem op aanklag van aanranding en onwettige betreding. Dit nadat hy na bewering ʼn vrouelid van die SAPD aangerand en die polisie se provinsiale gebou binnegegaan het, ten spyte daarvan dat ʼn hofinterdik hom verbied het om die gebou te betree,” sê Masemola.

“Nadat hy verskeie kere versuim het om in die Hillbrow-landdroshof te verskyn, insluitend op 27 Januarie, is ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik en teruggehou. Die saak is tot 10 Februarie uitgestel, maar Teffo het weer nie in die hof verskyn nie. Sy borgtog is eindelik aan die staat verbeur en daar is opdrag gegee dat hy in hegtenis geneem word.”

Volgens Masemola is die polisie in besit van bewyse dat Teffo bewus was daarvan dat ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is, aangesien hy die ondersoekbeampte in verband daarmee gebel het.

Teffo het ook verskeie huisadresse verskaf om sy borgtog te verseker, maar toe hierdie adresse besoek is toe die lasbrief uitgereik is, was hy nêrens te vinde nie.

“Nadat die polisie daarvan bewus geword het dat Teffo in die Noord-Gautengse hooggeregshof sou wees, het die ondersoekbeampte in die saak die direkteur van openbare vervolging (DOV) geraadpleeg.

“Na aanleiding van die advies van die DOV sou die ondersoekbeampte die inhegtenisneming uitvoer sodra die hofverrigtinge waarby Teffo betrokke was, verdaag het.”

Hoewel die bedoeling was om die inhegtenisneming buite die hofsaal uit te voer, meen Masemola dat die wyse waarop die gebeure afgespeel het dit vir die span bemoeilik het.

Volgens die ondersoekbeampte het hy Teffo genader toe hy uit die hof op pad was. Nadat die beampte hom egter omtrent sy regte ingelig het, het Teffo weer die hofsaal binnegegaan.

“Die beampte het hom toe die hof in gevolg in ʼn poging om te verseker dat Teffo gehoor gee aan die lasbrief,” sê Masemola.

“Teffo het egter nie met die ondersoekbeampte saamgewerk nie, daarom was die hulp wat die ander polisielede van die taktiese reaksiespan – wat reeds in dieselfde hof teenwoordig was vir begeleidingsdoeleindes – geregverdig.

“Die polisie het ʼn verantwoordelikheid om ʼn verdagte in hegtenis te neem om sy of haar bywoning van ʼn hofsaak te verseker. Die ondersoekbeampte het sy eie inisiatief, in oorleg met sy bevelvoerder, gebruik om die lasbrief vir inhegtenisneming in hierdie geval uit te voer.”

Die ABR het vroeër gesê Teffo se inhegtenisneming het die indruk geskep dat dit gedoen is om hom óf te verneder óf om hom te intimideer en te teister.

Teffo het Vrydag in die Hillbrow-landdroshof verskyn ná die dramatiese inhegtenisneming.

Hy is op borgtog van R10 000 vrygelaat en die saak is tot 27 Mei uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

Hy is mos bewys van die procedures, dink mos hy is onaantasbaar!!

Misky ·

Kan Zuma ook asb inhegtenis geneem word om te verseker hy verskyn vir sy volgende hofsaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.