ʼn Wilde jaagtog deur Pretoria se strate het Donderdagmiddag tragies geëindig toe die voertuig waarmee twee polisiebeamptes gery het in ʼn botsing betrokke was.
Lt. Kay Makhubela, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die beamptes het ʼn gesteelde motor agternagesit toe die beamptes se voertuig in Watermeyerstraat naby Pretoriastraat in Silverton in ʼn botsing betrokke was.
Na wat verneem word, het hul voertuig die pad verlaat en teen ʼn muur langs die pad gebots.
Makhubela het gesê die gesteelde motor is later verlate in Mamelodi aangetref. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Paramedici van Netcare 911 is na die ongelukstoneel ontbied.
“Een van die mans was reeds dood toe paramedici daar opgedaag het,” het Santi Steinmann, woordvoerder van Netcare 911, gesê. “Die ander man is in ʼn ernstige toestand na ʼn nabygeleë hospitaal vir verdere behandeling geneem.”
Die beamptes se onderskeie ouderdomme en range was nie dadelik bekend nie. Makhubela het gesê die beampte wat gesterf het se naam sal bekendgemaak word sodra sy naasbestaandes in kennis gestel is.
Dis jammer.
RIP!
Dit is hartseer. Sterkte vir sy kollegas en familie. Maar daar moet iets gedoen word aan Mamelodi. Dis ‘n plek wat vrot is van rowers, moordenaars, kapers en alles wat daarmee saamgaan. Hierdie nes moet iets mee gedoen word.