Polisiebeampte vas oor man wat in aanhouding sterf

(Foto: SA Polisie)

Die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) het Vrydag ʼn 28-jarige speurder van Barkley-Oos-polisiestasie in die Oos-Kaap in hegtenis geneem terwyl nog ʼn verdagte nog voortvlugtig is. Die twee staan tereg op aanklagte wat verband hou met ʼn sterfte in polisieaanhouding.

Ndileka Cola, woordvoerder van Opod, het gesê ʼn 25-jarige man is glo by Barkley-Oos aangehou in verband met ʼn moord wat hy na bewering in 2020 in Kaapstad gepleeg het. Hy is op 8 Junie in die Oos-Kaap aangekeer.

Die speurder, wat tans agter tralies is, het Woensdag [9 Junie] saam met drie ander polisiebeamptes – ʼn lid van die veediefstaleenheid, ʼn beampte in uniform wat glo reeds met verlof was en ʼn lid van die berede eenheid – die oorlede verdagte om 09:30 uitgeboek vir ondersoek.

“Hulle het die man na die speurders se nabygeleë kantoor geneem om hom te ondervra. Twee verdagtes, die speurder en die beampte in uniform wat die man die oggend uitgeboek het, het hom omstreeks 17:00 teruggebring na die polisiestasie. Die bevelvoerder het dadelik opgemerk dat die oorlede verdagte nie kan loop nie en hy was baie swak. Die twee verdagte beamptes moes hom help om tot by sy sel te loop. Die bevelvoerder het sy toestand aangeteken,” het Cola gesê.

Tydens die skofwisseling is die man dood aangetref in sy polisiesel.

Een van die verdagtes is Vrydag om 16:30 deur Opod in hegtenis geneem. Hy staan tereg op aanklag van moord. Hy sal Maandag in die Elliot-landdroshof verskyn. Die tweede verdagte is nog voortvlugtig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

ES ·

Gelukkig is OPOD redelik effektief met hul ondersoek en vervolging van korrupte polisiemanne.

Windhond ·

En die bevelvoerder het nie die man onmiddelik geneem vir mediese hulp nie, iets ruik nie lekker nie?

Persheks Adri ·

Dis nou die mense wat ons moet vertrou en beskerm! Nou al die hoeveelste klag teen uniforms. Cele jou mense man wat sê jy van dit? Ek sou my kop in skaamte laat sak het wragtag

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.