Polisielid geskiet toe ‘kabeldiewe’ losbrand

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Die polisie in Bloemfontein het ’n soektog na verdagtes van stapel gestuur nadat ʼn polisiebeampte geskiet en gewond is terwyl hy inligting oor kabeldiefstal opgevolg het.

Die 39-jarige sersant is Donderdag in die boarm geskiet toe hy en ander polisiebeamptes op ʼn wenk reageer het van kabeldiefstal by ʼn woonstelblok in Phahameng in die omgewing bekend as Silver City.

Volgens lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, het lede van die Bloemfonteinse blitspatrollie en die Mangaung-gemeenskapsdienssentrum reageer op inligting dat ’n aantal mense besig was om kabels by die onbewoonde woonstelblok te verwyder.

Met die polisie se aankoms op die toneel het ʼn groep van minstens sewe mans op die beamptes losgebrand en die sersant is geskiet en gewond. Die verdagtes het in verskillende rigtings gespaander en die beseerde polisiebeampte is inderhaas na die plaaslike hospitaal geneem waar hy behandeling ontvang het.

’n Saak van poging tot moord is by die Mangaung-polisiestasie aanhangig gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.