Polisieman, nog ses vas ná kitsbanke oopgeblaas is  

Foto: SAPD

Nog sewe persone, een van hulle ʼn polisiebeampte, is in hegtenis geneem in verband met die voorval waarin twee kitsbanke Woensdag in die vroeë oggendure buite Tzaneen in Limpopo oopgeblaas is.

Altesaam tien mense is nou reeds aangekeer in verband met die voorval wat by die Mahlakung-winkelsentrum in die Maake-polisiëringsgebied plaasgevind het. Drie van hulle is kort ná die voorval in hegtenis geneem.

Volgens kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder, is ʼn wenk ontvang oor ʼn verdagte Toyota Hilux op die R36 in die Burgersfort-omgewing. Die polisie het die bakkie agternagesit en ná ʼn jaagtog is die sewe verdagtes in hegtenis geneem. Die polisiesersant het die bakkie bestuur.

Daar is op twee vuurwapens, ammunisie, kontant en die bakkie beslag gelê. Al tien verdagtes sal binnekort in die Lenyenye-landdroshof verskyn.

Die groep van tien het na bewering vroegoggend die perseel betree en een van die verdagtes het ʼn vuurwapen op ʼn sekuriteitsbeampte gerig. Hulle het sy gesig met ʼn lap bedek. Die verdagtes het hom daarna na die kitsbanke geneem waar hulle twee kitsbanke en kluise oopgeblaas het.

Die groep het ook ʼn kluis in ʼn selfoonwinkel oopgeblaas. Die verdagtes het ʼn onbekende bedrag kontant gebuit voordat hulle van die toneel gevlug het.

Die polisie is in kennis gestel en die provinsiale opsporingspan het by verskeie spanne, insluitend die Polokwane-lugvleuel, Limpopo-hoofwegpatrolle en die provinsiale ondersoekeenheid aangesluit. Die Wilkie-honde-eenheid, die Hoedspruit-plaaswag en Letaba Security het ook bystand verleen om die verdagtes op te spoor.

Die eerste drie verdagtes, ʼn man en twee vroue, is by ʼn huis in Worcester Village, ʼn paar kilometer van die misdaadtoneel, in hegtenis geneem. Tydens die inhegtenisneming het polisiebeamptes beslag gelê op springstof wat vermoedelik tydens die rooftog gebruik is, asook twee wegkomvoertuie (ʼn Mercedes-Benz en ʼn Toyota), klapmusse en handskoene.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Hercules ·

baie geluk aan die hardwerkende manne & vroue om verdagtes so gou te arresteer – het iemand dalk op Bheki Cele se groot tone getrap??

Frank ·

Kan jou verseker hy het niks hierby te doen gehad nie…….

Kokerboom ·

Te veel polisiemanne is betrokke by misdaad. Aanstellings moet regtig hersien word. Die publiek weet nie meer wie van hulle om te vertrou. Dis totaal onaanvaarbaar

Misky ·

Sal graag wil hoor wat sê die Hoede-man van sy mense….. Hy swyg ook meestal as dit werklik nodig is

Anoniem ·

Ramaphosa se “Our People” en Cele se “My People”.

Persheks Adri ·

Nog polisie manne goeie genade ek sou my dood skaam as ek hulle was! Weereens bewys dat ons hulle NIE kan vertrou NIE! Die bietjie eerlike manne wat nog daar is skaam hulle ook seker dood… Wat sê hoed?

Eltan ·

En die probleem is mens wil nie almal onder dieselfde kan skeer nie…maar daar is so baie polisie beamptes betrokke by misdaad dat mens alle vertroue in hulle almal verloor…jammer..maar hoe weet ek dat jy mr polisieman..een van die min eerlikes is?..ek het geen ander keuses as om aan te neem jy is n skelm..tot ek verkeerd bewys is..selfde geld vir verkeers beamptes..

Nie Verbaas ·

Bheki se lede alweer besig met misdaad. Geluk aan die wat nog hulle werk doen.

Mary Charlotte ·

Vir meeste wat aansluit, is dit net ‘n werk en nie ‘n roeping nie. Goeie voordele, ens. Word hulle nog onderwerp aan deeglike psigometriese toetse?

Hendrik ·

Deesdae is die SAPD die plek om te wees as jy wil deel in georganiseerde misdaad. Wie sou ooit kon dink dat dit sou gebeur?!

ES ·

Ek wil net graag weet hoekom die polisielede betrokke raak? Is dit omdat hul salarisse min is, of is dit omdat hulle makliker toegang het tot vuurwapens?

Waar is die dae wat ons polisielede trots was daarop om hul gemeenskap te dien?

JohanR ·

Een van hulle ‘n polisiebeampte. Ou Bheki Cele gaan praat met die man. Vra hom wat gebeur het van sy eed van dien en beskerm?

Genis ·

Eish Beki Cele your people man… “our people” is altyd eerste op die toneel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.