Polisieman skiet glo tienerseun

Die tienerseun se beserings. (Foto: Verskaf)

ʼn Polisiebeampte verskyn Dinsdag in die Pretoria-Noord-landdroshof op aanklag van poging tot moord nadat hy Vrydag op ʼn tienerseun buite ʼn kafee geskiet het.

Lorraine Botha het aan Maroela Media gesê haar 17-jarige seun was omstreeks 18:15 van ʼn vriend se huis af op pad huis toe, toe hy ʼn groep vriende buite die kafee op die hoek van Burgerstraat en Britsweg in Pretoria-Noord raakgeloop het.

“Hy het by die vriende gaan sit en omtrent so ʼn halfuur gesels toe ʼn man in ʼn wit Polo verbyry. Toe skree die man iets vir die kinders, maar in ʼn ander taal. My seun het nie verstaan wat hy geskree het nie,” vertel Botha.

Sy verduidelik dat die man toe by polisiewoonstelle oorkant die straat ingery het waarna hy vyf minute later weer sy verskyning gemaak en in ʼn woordewisseling met die tieners betrokke geraak het.

“My seun het eenkant gesit. Een van die kinders het toe aan [die polisiebeampte] se motor geslaan. [My seun] het opgestaan om sy vriend van die motor weg te kry, toe die polisieman ’n vuurwapen op hom rig.”

Botha vertel dat die polisieman die vuurwapen na haar seun se kop gerig het waarna hy gesê het hy gaan hom skiet. Haar seun het omgedraai en is toe deur die polisiebeampte in sy skouer geskiet.

“Toe die skoot klap, toe hardloop almal,” verduidelik Botha.

Die polisiebeampte het eers die tieners agternagesit, maar toe bes gegee en in sy motor geklim en weggejaag.

Botha se seun het toe sy ma gebel wat naby die kafee woon om hulp te ontbied. “Ek het so groot geskrik. Ek het net gesê ek is op pad. Ek het hom gaan haal en hospitaal toe geneem,” vertel sy. Die tienerseun is Sondag uit die hospitaal ontslaan.

“Daardie kinders sit elke dag daar. [Die polisiebeampte] se lewe was nie in gevaar nie. Die hele storie is so sinneloos. Hy was net lus om moeilikheid te maak.”

Moses Dlamini, woordvoerder van Opod, het aan Maroela Media gesê die man is later die aand by ʼn polisiestasie in Hammanskraal in hegtenis geneem toe hy ʼn saak van gepoogde kaping aanhangig wou maak.

Volgens Dlamini verskyn die verdagte vandag in die hof. Die verdagte is sedert sy inhegtenisneming in polisie-aanhouding. Dit is nie duidelik of hy aansoek om borgtog sal doen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

49 Kommentare

Pierre Roets ·

En bheki cele wil ons vuurwapens weg vat sodat net polisie en weermag vuurwapens mag hè,hy gaan sukkel

Anel ·

En ek is seker as dit andersom was het die land weer af gebrand!!! Sulke dubbele standaarde!!! En dan daan daar niks van kom nie. Eis die mediese kostes van die skieter!!!

Albatros ·

Miskien moet ons eerder vuurwapens by polisie weg vat? As hulle nie die publiek daarmee skiet nie, verloor (verkoop) hulle die goed.

Sam BNrookes ·

Mbeki Cele se woorde tydens die begrafnis van drie polisiemanne:
“All I am saying is that natural law compels you to protect yourselves and those close to you when you are under attack.”
Hiermee het hy sy argument verloor om wettige wapeneienaars van hul wapens te beroof.

Tannie Stienie ·

Volgend die inskrywing op Facebook is daar elke aand ‘n gedrom van tieners by die kafee, want daar is verniet wi-fi. Die inwoners het begin kla oor die lawaai, en klink dit vir my dat dinge om daai kafee ooknie meer so vars was nie (ongewense karakters).
Ek praat die insident gladnie goed nie – maar weet ‘n mens ook hoe tieners kan aangaan in ‘n groep, en sal die ma (wat ek respekteer) natuurlik ook net die een kant van die storie gehoor. Diie seun was nou maar ongelukkig op die verkeerde tyd / verkeerde plek daar.
Die beampte (en dit kon enige ander persoon gewees het, wat regtig keelvol was vir die lawaai) moesnie sy humeur verloor het, en homself in toom gehou het.
Dit was verkeerd van hom om die vuurwapen uittehaal, te rig na die kind se kop, aftevuur, en dan boonop wegjaag, en ‘n valse verklaring wou gaan afgee.

Neewat ·

jy mag nie eers ‘n skelm in jou huis skiet nie, hoe de hel skiet jy ‘n onskuldige seun op straat? Maak nie saak wat hy gese het nie .. hulle mag nie eers vir Hector Peterson geskiet het wat met ‘n klippe die polisie aangeval het nie .. twak man .. dit kon anders hanteer word . waar in jou lewe skiet jy op ‘n seun wat jou niks gemaak het nie??

Naas Vermaak ·

Beste kommentaar hierso, gebalanseerd, informatief en kalm…maar hieronder fladder die spreeus net elkeen in sy eie rigting….en so gaan dit elke dag op MM….sad.

Frans ·

Die minister moet eerder hierna kyk

Hoeveel van die SAPDS se lede is VOLWASSE genoeg om ‘n vuurwapen te mag hanteer.

Hoekom word SAPD lede wat van diens is toegelaat om vuurwapens (dienspistole) na ure by hulle te dra.

Die SANW lede moet hulle wapens inhandig

Hoeveel mense word beseer of gedood deur SAPD vuurwapens waarvan die lede nie op diens is nie.

Nou wil die minister eerder die WETTIGE eienaars ontwapen

marous ·

Vra dit lankal . Hoeveel polisie lede se huise het kluise ? Bitter min !

Louis ·

Ek wil nou baie graag sien wat gebeur met die polisie beampte, gaan seker vrygelaat word met net ‘n ligte tik op die vingers!

Jaap ·

Maroela Media asb hou ons op hoogte.
Almal moet nou ook saam drom En lawaai buite hof.
Geen borg,maks tronkstraf!!!!!!!

Johan ·

Enige persoon, privaat of polisie mag nie n vuurwapen rig sonder n geldige rede nie….dis n oordtreding wat kan lei tot tronkstraf.

Ironies wil die rigeering alle wapens intrek en net die polisie en weermag mag wapens dra…LOL

Hkm doen iemand tog nie a studie om te bepaal hvl mense die afgelope 10 -jaar geskiet/gemoor was deur wettige privaat wapen eienaars / polisie lede / weermag lede nie? end dan praat ek nie van gesteelde wapens nie, slegs wettig uitgereikte wapens!

Ek glo, (persentasie gewys) is die sogenaamde polisie en weermag ver voor in die oortreding van die wapen wet en moet die polisie en weermag eerder ontwapen word.

Foxi ·

Trigger happy polisiemanne! Doen wat hulle wil en maak wat hulle wil. Hulle is mos die wet! Untouchable! Maar daardie dag gaan kom vir die verkeerde persoon, wat nounet genoeg gehad het van die soort uitbuitery, mishandeling en boewery! Ek hoor mos wat mense sê. Hulle is dik en gatvol vir dit!

Cherokee ·

Jammer vir die polisie amptenare wat deel is van hierdie forum en dikwels aanstoot neem wanneer die polisie gekritiseer word.

Jaco ·

Ek hoop maar daar is getuies wat hulle saak kan steun anders is dit sy woord teen hulle sin. Wonder maar net wat het die kinders gese of gedoen het om hom aan te spoor? Nie dat dit noodwendig iets erstig hoef te wees nie.

Bloubloed ·

maak nie saak wat ‘n kind vir hom gese het nie .. hy het eerstens nie in hulle taal gepraat nie en hoekom het hy nie die kind geskiet wat op die bonnet geslaan het nie? Hoekom die seun wat probeer help het? NEEWAT geen verskoning nie . gooi hom in die tronk .. POGING TOT MOORD >.

sweis ·

Jaco die seun is in die rug geskiet hy kon nie n bedreiging gewees het nie ,die krimineel in blou se arrogansie en onbevoegdheid het hom ingehaal.

Joey ·

@Bekommerd, jy is 100% reg, net soos daai LT. van die weermag. Beskermende wild

Boelie ·

dIS NOU TIPIES DEESDAE SE POLISIEMANNE .. maar ons moet ons wapens afgee?

Brutus ·

Nog steeds poging tot moord en hy onbevoeg om wapen te besit.

Ben ·

n Polisie man by die Durbanville se Polisie Stasie het ons Besigheid oneindige skade aangedoen. Hy kon nie lees of skryf nie want hy was nie in staat om ‘n verslag af te neem in Engels of Afrikaans nie. Hy het eenvoudig geweier om te help. Dit was die tweede keer aangesien die eerste verslag kamstig weg geraak het. Na ‘n paar maande het ‘n ander polisie offisier van ‘n spesiale afdeling in Kaapstad die verslag met bewyse geskryf. Die dag toe hy die verslag by Durbanville wou registreer op hulle rekenaar stelsel toe kon die polisie dame dit nie nie doen want soos sy gesê het – “Ek weet nie hoe nie”. Ek wou ‘n massiewe saak teen hulle gemaak het maar wat help ‘n bankrot SAP ons? Dink dit is tyd vir ‘n verandering in ons regering sodat bevoegde mense in diens geneem kan word en van die “Staats kaapings” “buddies” ontslae geraak kan word. Terug Robben Eiland toe waar hulle hoort.

Sam Brookes ·

Die storie klink soos die polisieman wat nie “sypaadjie” kon spel nie en ‘n motorfietsslagoffer, wie se kop op die sypaadjie gelê het, in die pad geskop het om in sy ongeluksverslag te skryf: “Een kop in teerstraat.”

Naomi Berger ·

Sal graag wil sien hoe hierdie uitloop. Dis mos nou n omgedraaide situasie.

NET EK ·

Ja nee dis reg sluit die polisie man toe – hul dink mos hul kan maak soos hul wil!! wat het geword van daai “warning shots in die lug”????

Pieter du plessis ·

Ek lees en sien niks van die goeie polisie persone wat nie korrup is nie ,wat nie onbevoeg is nie en wat hulle werk na die beste van hulle vermoë om kommentaar te lewer en my aanvat as ek sê die polisie is ons vyand en moet nie vertrou word nie.

Lizl ·

Goed, hy het die kind van agter af geskiet. Fout nommer 1. Weggejaag, fout nommer 2. `n Vals klagte probeer afle 40km verder, fout nommer 3. Kom ons kyk na die kinders… Hoekom het hy voor die tyd op hulle geskree? Daar moes al voorheen iets gebeur het. Die ander seuns wat na sy bande “geslaan” het, met wat ? Mens skop mos eerder n wiel as wat jy hom met die vuis slaan. Daar was dus `n voorwerp betrokke. Hoekom vertel die kind nie presies wat gebeur het nie ? Ek stem wel saam , poging tot moord saak moet geopen word. En hopelik kry hy langer as 14 jaar. Ek sou reken 25 jaar is gepas aangesien mense 14 jaar kry as jy iemand in `n kis sit. Hier was `n kind geskiet, met of sonder provokasie, dit maak nie saak. Hy het geskiet op `n kind met die intensie om dood te skiet.

Askies ·

Waar lees jy daar was aan die BANDE van die motor geslaan??

Magdalena ·

My vraag is….. Hoekom?…..
Het enige iemand wat weet van die “ongeruimdhede” (volgens Facebook) Nie lankal reeds optrede/skoonmaak versoek by die kafee Nie…..
Was dit regtig nodig om te skiet…..
Wat van “backup” ontbied om situasie te help ontlont…
Meer as 1 persoon Kon gewond of selfs dood gewees het.
Sterkte aan die mamma en die seun……

____ ·

Ek bly daar naby en ek kan met eerlikheid se dat die kinders daar net chaos veroorsaak en daar is altyd twee kante aan n storie. “it takes 2 to tango”

sweis ·

Niemand betwyfel dit nie maar n minderjarige in die rug skiet deur n polisie man wat veronderstel is om wet en orde te handhaaf en dan soos n krimineel optree,laat mens dink.

Pieter du plessis ·

Ek is baie bly dat fidelity guards die plase gaan begin beskerm dan kan die bendes in blou aangaan waarmee hulle hulself besig hou en ons kan.net dink wat dit is .

Karlien ·

Ja daardie hoek en kafee is berug vir baie dinge oa heroin gebruik en verspreiding.
Hoop MM volg die hele storie en nie soos altyd net die stukkie om hulle lesers op te sweep en te polariseer nie.

PJC ·

Die publiek moet hulle kinders leer dat die polisie en metro polisie liefs vermy moet word en dat ń mens onder geen omstandighede met hulle moet probeer swaarde kruis nie. Hierdie klomp hou deesdae ń groot gevaar vir die publiek in. Hierdie kind kon dood gewees het ongeag wat die omstandighede.

Simptoom ·

Dis maar net een van die duisende simptome van ‘n siek land wat nooit sal herstel nie. Daarom emigreer beskaafde en nugterdenkende mense elke maand op strepe want hulle het die skrif teen die muur korrek gelees.

Reinhard ·

Elke liewe dag word ons mense verdruk en hulle lewe verwoes! Moenie verbaas wees as die dag kom dat iemand gaan iets doen wat die land gaan dompel in oorlog!

RD ·

Dis polisie brutaliteit. En die hartseer van die saak is dat ons polisiemanne nie meer die gehalte opleiding van jare gelede ontvang nie. Hierdie is egter ‘n kwessie van ‘n individu wat ‘n los kanon is. Bereid om te skiet, te vlug en te lieg.

Die ouers moet maar die Minister van Polisie dagvaar en ‘n paar miljoen eis. Nie net die mediese onkostes nie.

Heksie ·

Daai polisieman se getuienis gaan swaarder weeg as die kinders sin, en hy gaan geglo word, en niks oorkom nie! Sy wapen sal teruggegee word sodat hy kan voortgaan om los en vas te skiet soos hy lekker kry!

Miss Julia ·

niemand se presies wat daar gebeur het nie, die seun is net voorbeeldig en die polisie man die vark in die verhaal ja die polisie man moes nie geskiet het nie maar was daar iemand buiten die seun se vriende wat gesien het wat daar gebeur het daar is altyd twee kante van n storie en slegs een kant word hier vertel

Tammy ·

Hierdie polisieskieter is nie die blou uniform werd wat hy dra nie. Hy moet onmiddelik gefire word en verantwoordelik gehou word vir alle mediese kostes. Kan hy nie dink nie????? Wat het hierdie tiener gedoen om dit te regverdig om geskiet te word? Gee die polisieman vir die publiek, maar sonder n wapen………..ons sal hom straf!!!
As hy nie uit die SAPD gefire word nie gaan hy beslis onskuldige mense doodmaak, dis duidelik uit sy bitsige onnosele optrede.

Tammy ·

Ouers van die seun dagvaar die polisieskieter vir vir poging tot moord en hy moet ook alle regskostes betaal vir sy gemene daad!

POC ·

en trauma wat die kind gaan he vir die volgend 30 jaar. Vat die polisieman vir ALLES wat hy het.

Leeu ·

As hy minder as 14 jaar kry, is dit blatante rassisme. Ek wonder of MM ooit die “beampte” se foto gaan plaas, al het hy reeds gepleit. Of is dit n voorreg wat MM voorhou vir blanke misdadigers?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.