Polisiestasies, Metrorail gesluit weens Covid-19-gevalle

Foto: Pixabay

Verskeie polisiestasies in Mpumalanga en Limpopo is gesluit nadat lede van die polisie positief getoets het vir Covid-19. Metrorail het boonop van sy dienste gestaak omdat van sy werknemers ook die koronavirus opgedoen het.

Die provinsiale polisiewoordvoerder in Mpumalanga het lede van die publiek Sondag ingelig dat vyf polisiestasies in dié provinsie gesluit is omdat polisielede daar positief getoets het vir Covid-19. Die polisiestasies is in Tweefontein, Volksrust, Sundra, Amersfoort en Vosman in Witbank. In Limpopo is die Mahwelereng-polisiestasie in Mokopane (Potgietersrus) gesluit weens ʼn Covid-19 geval wat aangeteken is.

Dié stasies sal nou almal in satellietstasies in die omgewing bedryf word. Die polisie het inwoners in kennis gestel dat dié polisiestasies ontsmet en so vinnig moontlik weer oopgestel sal word.

(Argieffoto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Intussen het Metrorail twee stasies in Tshwane gesluit nadat drie werknemers Covid-19 opgedoen het. Tony Games, woordvoerder van Metrorail, het gesê treine sal nie Maandag in Tshwane loop nie, omdat die Scheiding- en Wolmerton-stasie weens Covid-19 gesluit is. Die beheersentrum is ook gesluit met die doel om dit behoorlik skoon te maak.

“Werkers sal kan terugkeer [werk toe] wanneer die stasies en beheersentrum behoorlik skoongemaak is en treine sal waarskynlik weer teen Maandagmiddag begin loop,” sê Games.

Metrorail het om verskoning gevra vir enige ongerief wat dié sluiting vir reisigers veroorsaak.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.