Politikus dalk privaat vervolg ná ‘aanranding’

Sers. Lizzy Mojapelo, ’n beampte van die polisie se beskerming-en-veiligheidsdienste, was boonop swanger toe die beweerde aanranding plaasgevind het. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Vuyo Mhlakaza-Manamela, adjunkspeaker van die Gauteng provinsiale wetgewer, word nou deur private vervolging in die gesig gestaar nadat sy ʼn polisiebeampte glo twee jaar gelede ernstig aangerand het.

Die slagoffer, sers. Lizzy Mojapelo, ’n beampte van die polisie se beskerming-en-veiligheidsdienste, was boonop swanger toe die beweerde aanranding plaasgevind het.

Volgens Mojapelo het die voorval in Februarie 2020 by die huis van Mhlakaza-Manamela en haar man, Bhuti Manamela, adjunkminister van hoër onderwys, plaasgevind.

Mojapelo het AfriForum se privaatvervolgingseenheid intussen om hulp genader om toe te sien dat Mhlakaza-Manamela verantwoording vir die beweerde aanranding in die hof doen. Die saak is verlede jaar teruggetrek, nadat senior aanklaers glo aan Mojapelo gesê het die saak is problematies omdat die verdagte ʼn persoon met ʼn baie hoë profiel is.

Die privaatvervolgingseenheid het reeds ʼn aansoek vir ʼn nolle prosequi-sertifikaat by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ingedien.

Mojapelo, wat Dinsdag by  ʼn mediakonferensie van die privaatvervolgingseenheid teenwoordig was, beweer die verdagte het haar in ʼn “dronk woedebui” erg aangerand.

Mojapelo het glo op die betrokke dag by die egpaar se huis wag gehou. Die paartjie was uit en het glo omstreeks 02:00 die oggend teruggekeer. Die polisiebeampte beweer dat Mhlakaza-Manamela met twee bottels drank by die hek ingestrompel het.

“ʼn Stryery het glo tussen Mojapelo en Mhlakaza-Manamela ontstaan wat tot die gevolglike aanranding gelei het. Mojapelo is na bewering met vuiste bygedam en oor stoele gestamp,” het Barry Bateman, kommunikasiehoof van die privaatvervolgingseenheid, aan Maroela Media gesê.

Sers. Lizzy Mojapelo het AfriForum se privaatvervolgingseenheid intussen om hulp genader. Op dié foto is adv. Gerrie Nel, Barry Bateman en sers. Lizzy Mojapelo. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Die voorval het glo in die teenwoordigheid van Bhuti Manamela gebeur, hoewel die eenheid nie oor sy aandeel in die beweerde voorval uitgewy het nie.

Mojapelo sê verder dat haar polisiehoofde haar nie wou help om ʼn saak oop te maak nie, maar eerder alles in hul vermoë gedoen het om daardie pogings te ontwrig.

“’n Mediese ondersoek het bevestig dat Mojapelo veelvuldige beserings opgedoen het, en ook bevestig sy was toe 11 weke swanger,” het adv. Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid, Dinsdag gesê.

Mojapelo het onder meer vaginale bloeding opgedoen en moes vrugbaarheidsbehandeling ontvang om te verseker dat haar swangerskap nie beëindig word nie.

Volgens Nel het Mojapelo die besonderhede van die beweerde aanranding met elke stap van die proses gedokumenteer — van die voorvalleboek op die misdaadtoneel tot die saamstel van aantekeninge van haar interaksies met aanklaers en ondersoekers.

“Ten spyte van die prima facie-getuienis teen Mhlakaza-Manamela het die Nasionale Vervolgingsgesag geweier om die saak verder te voer.

“Ons het hierdie eenheid gestig om die beginsel van gelykheid voor die reg te herstel, insluitend politici wat weens hul verbintenisse van vervolging beskerm word. Ons loof sers. Mojapelo vir haar sterk oortuiging en sal verseker dat politici, soos enigiemand anders wat na bewering misdade gepleeg het, tot verantwoording geroep word,” het Nel gesê.

Nel het Dinsdag gesê dat Mojapelo se saak ook raakpunte met ander aanrandingsake het wat deur die privaatvervolgingseenheid hanteer word waarby politici betrek word.

Hoewel Nel en Mojapelo bekommerd is dat sy dalk nou geviktimiseer kan word, is hulle eindelike doelwit dat geregtigheid geskied.

“Sy is baie dapper en kan op ons ondersteuning staatmaak.”

Nel sê in plaas daarvan om laer te trek om polisiebeamptes te ondersteun, poog die strafregstelsel eerder om politici te beskerm teen verantwoordbaarheid vir hul gewelddadige optrede.

“AfriForum se privaatvervolgingseenheid neem ferm standpunt in teen selektiewe vervolging en sal verseker dat almal gelyk is voor die reg.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Dries ·

En die hoës strompel teen 2h00 rond. Wonder hoe was die werkverigtinge die volgende dag om 8h30

Ansie ·

En hier begin staatskaping alweer – of liewer, dis nie verby nie. Ek hoop Gerrie en sy span vervolg die hoë suksesvol en dat die regsbank nie ook weer gekaap word nie.

Jakkie ·

Dit het Februarie 2020 gebeur, inperking het eers in Maart ingetree, alhoewel dit seker nie vir almal gegeld het nie

Astrain ·

Nogals in hoogs Covid ook. Kriminele wat die land moet bestuur…in die grond in!

Manie ·

As die hof enige geloofwaardigheid wil behou, moet hulle juis toon dat hoë profiel mense nie verhewe bo die wet is nie. Indien hulle haar nie toepaslik straf nie, sal dit bewys dat die hof ‘n totale klug is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.