Pos Rand Water se hoof, eis DA

Sipho Masai (Foto: Rand Water)

Die DA het ʼn petisie van stapel gestuur om die verwydering van Sipho Mosai, Rand Water se uitvoerende hoof, te eis.

“Konsekwente mislukkings aan die kant van Rand Water om beide voldoende voor te berei vir verhoogde aanvraag en om aandag te gee aan die tekortkominge in die organisasie, maak dit duidelik dat Rand Water nóg ʼn roerlose skip is,” sê Solly Msimanga, die DA se premierskandidaat vir Gauteng.

Grootskaalse waterprobleme kom die afgelope weke in Gauteng voor met die betrokke partye wat die skuld telkens op ander probeer plaas.

“Alle munisipaliteite in Gauteng sit opgesaal met ʼn watertekortkrisis wat nie hul skuld is nie. Weens die gebrek aan instandhouding en bestuur van sy waterstelsel het Rand Water reusewatertekorte in Gauteng veroorsaak wat sommige inwoners al vir meer as ʼn maand sonder water gelaat het.”

Rand Water het volgens Msimanga ʼn humanitêre krisis in Gauteng veroorsaak en moet daarvoor verantwoordelik gehou word.

“Daarom doen die DA ʼn beroep op hoof van Rand Water om die eerbare ding te doen en te bedank. Indien dit nie gebeur nie, behoort die minister van water en sanitasie hom af te dank.”

Mismanga beskuldig Rand Water daarvan dat hy versuim om met munisipaliteite en die inwoners van Gauteng te kommunikeer oor die watertekort wat hy veroorsaak het en eerder gerieflik vinger wys na munisipaliteite wanneer hy wel die skuld kry.

“Dit kan nie langer geduld word nie en dit is tyd dat Rand Water verantwoordelik gehou word vir sy mislukking en menseregtevergrype.

“Die DA gaan nou ʼn petisie van stapel stuur waarin gevra word vir die afdanking van Rand Water se hoof, aangesien hy duidelik nie geskik is om so ʼn belangrike entiteit te lei wat miljoene lewens raak nie. Ons kan nie meer stilsit en toekyk hoe miljoene inwoners van Gauteng se reg van toegang tot water vertrap word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet ·

Ons sit al sonder water vir 7 dae nou in Midrand. Die water tanks wat by plekke geplaas is word gou leeg want daar is rye mense. Alles het begin met loadshedding, nou sit ons sonder water, wat is volgende? Alles gaan van sleg tot nog slegter by die dag in die land. Dis nie hoe ons wil lewe nie, wit mense, swart mense, bruin mense, ons almal is ongelukkig oor die situasie wat ons onself in vind.

Wakkerslaper ·

En ons dink krag tekort is erg? Lekker man! Onthou, stem JA….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.