Poskantoor-werkers se medies dalk gou heringestel

MEDiPOS-lede se voordele kan dalk gou weer ingestel word. (Foto: Maroela Media)

Lede van die Poskantoor se mediese fonds, MEDiPOS, se voordele kan binnekort heringestel word nadat beslag gelê is op ʼn bankrekening en R60 miljoen van die Poskantoor om uitstaande mediesefondsbydraes te betaal.

MEDiPOS het Vrydag in ʼn boodskap aan lede gesê dat hy ingevolge ʼn hofbevel beslag gelê het op ʼn bankrekening met sowat R60 miljoen van die Poskantoor vir die verhaling van die agterstallige geld.

Die mediese fonds het in hierdie stadium nog nie die geld ontvang nie. Sodra die balju bevestig dat die geld ontvang is, sal die opskorting van voordele dadelik opgehef word, lui MEDiPOS se boodskap.

Duisende huidige en afgetrede Poskantoor-werkers is die afgelope paar weke in ʼn krisis gedompel nadat MEDiPOS hul voordele weens die onbetaalde geld opgeskort het. Talle van die mediesefondslede het boonop aanmanings gekry dat hulle nou self verantwoordelik is vir die uitstaande bydraes van die Poskantoor; dit selfs al is hul voordele opgeskort.

Solidariteit is twee keer namens sy vakbondlede suksesvol hof toe om die Poskantoor te dwing om die agterstallige geld aan MEDiPOS oor te betaal.

Dianne Kohler Barnard, die DA se woordvoerder oor kommunikasie, bestempel die verloop van gebeure as “bedrog op ʼn enorme skaal”.

“Die Suid-Afrikaanse Poskantoor het mediesefondsbydraes van sy werkers se salarisse afgetrek en bloot met die geld weggehol en ʼn onbetaalde rekening van ʼn verstommende R700 miljoen agtergelaat,” sê Kohler Barnard.

Sy sê elke parlementêre opsie is ingespan in ʼn poging om die Poskantoorwerkers te help. Dit het ingesluit ʼn ledeverklaring, parlementêre vrae aan die minister, mediaverklarings en ná ʼn vergadering met die Valke, ook ʼn landwye ondersoek.

Desperate MEDiPOS-lede het ingesluit ʼn kankerlyer wat nie chemoterapie kon ontvang nie, ʼn 94-jarige demensielyer wat ʼn rekening van R190 000 gekry het en ʼn 87-jarige voormalige Poskantoor-werker met 41 jare ononderbroke diens wat sê sy mediesefondsbydrae beloop 45% van sy pensioen. Daarsonder sal hy brandarm wees.

“Dit was absoluut hartverskeurend,” sê Kohler Barnard oor die talle mense wat om hulp gepleit het.

Sy sê die DA is bewus daarvan dat ander bydraes, soos BTW, betalings aan die werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) en die lopende betaalstelsel (PAYE) ook nie oorbetaal is nie.

“Ons gaan voort met die stryd om om geregtigheid vir die Poskantoor se werkers te verseker.

“Tot iemand in hegtenis geneem is vir hierdie vergryp, sal ons die situasie dophou en die strafregtelike ondersoek na die Poskantoor dryf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eugene ·

Nog n baie ou en gerespekteerde staatsinstelling wat deur die onbeholpe regering van die dag opgefoeter is. Ek glo elke land ter wereld het n posdiens. Net ons wat nie n werkende een het, seker weer kader verryking

Piet Snot ·

Sulke goed maak mos dat ek my wip as iemand na my verwys as ʼn dinosourus wat na die apartheidsera terugverlang, wanneer ek sê die huidige regime maak droog.

Deon ·

En dan wil hulle koerierdienste ongedaan maak? Wat ‘n absolute klomp morone.

Casper ·

Ongelukkig is dit so dat daar gedurende die apartheidsjare;
1 Nie beurtkrag was nie,want instandhouding is gedoen.
2 Daar nooit probleme was met mediese fondse nie.
3 Werkloosheidsversekering en belasting wat afgetrek is,is oorbetaal
4 Die staatskoffers nie geplunderde is nie.
Ek praat apartheid nie goed nie maar na 1994 het die land op alle gebiede ineengestort.

Casper ·

Daar was nooit verkrygingsprobleme en swak gehalte steenkool en lae reserwe voorraad die skuld soos eskom tans doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.