President skors Dipuo Peters

Dipuo Peters, voormalige minister van vervoer. (Foto: GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het die adjunkminister van kleinsakeontwikkeling, Dipuo Peters, skriftelik in kennis gestel van sy besluit om haar te skors.

Die skorsing sal vir ’n maand geldig wees en Peters sal haar pligte na verwagting op 28 Maart hervat. Sy is glo ook sonder betaling geskors.

Vincent Magwenya, Ramaphosa se woordvoerder, sê die besluit volg op ’n sanksie teen Peters wat deur die parlement se gesamentlike komitee oor etiek en ledebelange aanvaar is.

Die komitee het bevind dat Peters die etiese gedragskode oortree het in haar vorige portefeulje as minister van vervoer.

Peters is in November verlede jaar saam met die EFF se adjunkleier, Floyd Shivambu, strawwe opgelê nadat bevind is dat hulle die parlement se kode vir etiese gedrag en die verklaring van ledebelange oortree het.

Peters is vir ’n kwartaal van alle parlementêre sittings verbied aangesien sy nie lede van die publiek se belange bo haar eie gestel het nie.

Die een klagte het aangevoer dat Peters nalatig was in haar vorige portefeulje deur te versuim om ’n uitvoerende hoof vir die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) aan te stel. Daar is ook aangevoer dat sy die raad, onder voorsitterskap van Popo Molefe, afgedank het, skynbaar omdat lede R14 miljard in onreëlmatige uitgawes ontdek en ondersoeke na korrupsie by Prasa ingestel het.

Daarbenewens het Peters versuim om die bewering te ondersoek wat verband hou met die Prasa-geld van R79 miljoen wat Swifambo Rail aan ander mense betaal het vir beweerde verspreiding aan die ANC. Nog ’n bewering was dat sy Prasa-busse tydens 2014 en 2015 vir ANC-geleenthede gebruik het sonder om betaling van die ANC te verseker.

Ná beraadslaging het die komitee bevind dat Peters wel die kode oortree het toe sy versuim het om ’n uitvoerende hoof aan te stel nadat die Prasa-direksie ’n werwingsproses laat doen het, wat gelei het tot ’n finansiële verlies van R1 767 000.

Die komitee het ook bevind dat Peters die kode oortree het toe sy die Prasa-direksie afgedank het op dieselfde dag wat Molefe aan die portefeuljekomitee oor vervoer geskryf het. Sy het ook bepalings van die kode oortree toe sy versoek het om Prasa-busse vir die ANC te gebruik, waarvoor nie betaal is nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Casper ·

Sy het die raad afgedank omdat lede korrupsie blootgelê het.Alle aanklagte teen haar is ‘n bewys van growwe nalatigheid en Ramaphosa dank haar nie af nie.Dit wys mos hy is nie ernstig oor korrupsie nie.

Fran ·

Net SKORS? Liewe mense WAT moet hulle nog doen om afgedank te word?????

Wondermaarnet ·

Daar is baie ander wat geskors moet word sonder vergoeding.

LIEZL ·

so, as jy uit ‘n skool geskors word, mag jy nooit weer terug nie. Maar word jy uit die parlement geskors, dan stel hulle jou na ‘n maand aan. Sy kan nou lekker vakansie hou met haar klompe geld wat sy verdien.

Sê maar net ·

Geskors…haha! Met volle salaris en voordele. Geskors is net ‘n woord op papier vir hierdie mense. Betaalde vakansie.

Sandra ·

Al manier hoe jy van hulle ontslae raak is wanneer hulle ingespit word

AREND1 ·

Sy hou net vakansie vir n maand dan gaan sy weer aan en sy gee nie om vir een maand se salaris nie,want hulle vat baie van ons belasting betalers se geld.So sy het genoeg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.