President steun nie Tottenham-borgskap

Die Britse sokkerspan Tottenham Hotspur. (Foto: Twitter/ Tottenham Hotspur)

Die omstrede voorstel om die Britse sokkerspan Tottenham Hotspur met R1 miljard te borg, geniet nie pres. Cyril Ramaphosa se steun nie.

“Ons dink nie dit is geregverdig om soveel geld op hierdie manier te bestee nie,” het die president by monde van sy woordvoerder, Vincent Mangwena, gesê.

SA Toerisme (SAT) slaan sedert Woensdag vure hieroor dood, nadat die Daily Maverick vir die eerste keer oor dié plan berig het. Die borgskap sou na bewering toesien dat SAT se logo aan die kant van die sokkerspan se sportsakke aangebring word. SAT het Donderdag aangevoer dié belegging sal kwansuis buitelandse toeriste na Suid-Afrika lok, waar hulle “veel meer as die bedrag van die borgskap” in Suid-Afrika sal bestee.

Suid-Afrikaners is egter nie oortuig nie. “Wie wil kom vakansie hou in ʼn land wat nie krag of water het nie?” het een Twitter-gebruiker gevra.

Intussen is ʼn dringende vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee vir Dinsdag belê sodat die Tottenham Hotspur-borgskap bespreek kan word. Manny de Freitas, die DA se woordvoerder oor toerisme, sê die vergadering gaan die komitee die geleentheid gee om SAT oor die beoogde ooreenkoms uit te vra.

Hy sê die bewerings, dat SAT se finansiële hoof bande het met die agentskap wat glo heelwat geld uit die ooreenkoms gaan verdien, maak die vergadering veral “dringend en kritiek”.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.