Privaatvervolgingseenheid sal Kruger-gesin bystaan

Willem Kruger (Foto: Facebook)

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het onderneem om Willem Kruger (29) se gesin by te staan ná sy afsterwe in November verlede jaar.

Barry Bateman, woordvoerder van die eenheid, sê hulle het Vrydag reeds met die Kruger-gesin vergader. “Die gesin het ons formeel opdrag gegee om bystand te lewer in die ondersoek na Willem Kruger se afsterwe.”

Bateman sê hulle sal ondersteuning bied deur die eenheid se deure oop te maak vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Nasionale Vervolgingsgesag indien hulle enige kundigheid in die privaatvervolgingseenheid se kantoor benodig. “Ons het verskeie voormalige Skerpioene en Gerrie Nel (hoof van die eenheid) is ook ʼn voormalige Skerpioen. Ons begryp wat die ingewikkelde vereistes van só ʼn ondersoek behels en wil onsself dus beskikbaar stel in hierdie verband.”

Bateman sê die eenheid loof die SAPD en die ondersoekbeampte wat tot dusver uitstekende werk gedoen het. “Die gesin is ook baie tevrede met die manier waarop die ondersoek hanteer word. Dit is baie bemoedigend,” het hy bygevoeg.

“As hierdie saak nie vorder tot strafregtelike vervolging nie, sal ons graag minstens wil toesien dat daar ʼn formele geregtelike ondersoek gedoen word oor die omstandighede wat tot Willem se afsterwe gelei het. Hopelik sal dit die familie help om berusting te vind.”

Maroela Media het vroeër berig brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, het gesê volgens die voorlopige uitslag was dit ʼn moontlike verdrinking. “Ons wag egter vir die finale gedetailleerde verslag en dit kan ʼn wyle duur. Die polisie gaan intussen voort met sy geregtelike doodsondersoek.”

Bateman wou nie in hierdie stadium spekuleer oor enige bewerings en gerugte wat in die media en op sosiale media geplaas word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

George ·

Daar is absoluut. Nou is die mannetjies wat braaf was daai aand, bitter bang.

Danie ·

Enige mens wie n geliefde verloor onder raaiselagtige omstandighede sal graag wil weet wat presies gebeur het.

bolletjie blom ·

Ek dink nie dit is ‘n geval van almal wil so graag hê daar moet iets wees nie. Daar is so baie teenstrydighede en daardie familie het die reg om te weet wat regtig met hulle seun gebeur het.

Christine ·

Die waarheid gaan uitkom, wat dit ookal is. Sterkte aan die hartseer familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.