Private vervolger se beweerde verkragter in hof

Die slagoffer se vriende het haar by die hof ondersteun. Van links is Desiré Jordaan, Lynette van Zyl, Sandy Richie, Gavin Donnoly (agter), Celeste Gouws, Dafré Troskie en Katja Offerman. (Foto: Verskaf)

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het Dinsdag namens ’n verkragtingslagoffer in die streekhof in Somerset-Oos verskyn nadat die direkteur van openbare vervolgings (DOV) in die Oos-Kaap geweier het om vervolging teen die verdagte in te stel.

Celeste Gouws, ʼn private vervolger, is in September 2017 na bewering in haar huis verkrag. Die verdagte wat in hegtenis geneem is, staan tereg op ʼn klag van verkragting en een van huisbraak met die doel om te verkrag.

Andrew Leask, hoofondersoeker van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê in ’n verklaring die saak is na privaatvervolgingseenheid verwys nadat ’n prokureur op die dorp en ’n vriendin van die slagoffer geen antwoord op navrae ontvang het oor waarom geen strafregtelike stappe teen die beskuldigde ingestel word nie.

Andrew Leask buite die hof. (Foto: Verskaf)

“Ten spyte van ’n prima facie-saak en die feit dat die slagoffer onmiddellik ’n saak teen hom gemaak het, is die verdagte nooit eens vir die beweerde misdaad gearresteer nie. Die enigste afleiding wat ons kan maak ten opsigte van die DOV se weiering om te vervolg, is dat die beskuldigde weens sekere konneksies voorkeurbehandeling kry,” sê Leask.

Die verhoor sou vandag begin het.

Die saak is egter tot Maart uitgestel nadat die beskuldigde aangedui het dat hy eers die  regsdienste van adv. Dali Mpofu of adv. Tembeka Ngcukaitobi wil bekom.

Die verhoor is nou vir 23 tot 26 Maart op die hofrol geplaas.

Adv. Gerrie Nel buite die hof. (Foto: Verskaf)

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het die aansoek om uitstel teengestaan. Hy het aangevoer dat geen beskuldigde ’n onbelemmerde reg het tot ’n spesifieke regsverteenwoordiger nie en dat dit tyd is dat howe die regte van slagoffers en die samelewing in sake van geslagsgebaseerde geweld ophef om ten minste gelyk te wees met dié van die beskuldigde. Nel het verder aangevoer dat die kwesbare lede van die samelewing op howe moet kan staatmaak om hul regte te beskerm.

Leask sê dit is skreiend dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nie sy onderneming om sake van geslagsgebaseerde geweld op ’n ernstige grondslag te hanteer met meer erns bejeën nie, en dat die slagoffer moes ly onder die sekondêre trauma van die wete dat die NVG weier om die verdagte te vervolg.

Leask het aan Maroela Media gesê Gouws het toestemming verleen om geïdentifiseer te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Maggies ·

Mooi so Adv. Gerrie Nel… vat hulle aan.. Genoeg ís nou GENOEG

Estelle ·

Ek dink dis elkeen van ons se plig om aan Afriforum te behoort. Al dra jy net R10 by. Dis net hulle wat nog vir ons volk baklei.

Yvonne ·

Om geregtigheid te verkry vir ons mense is deesdae amper n onbegonne taak….dankie Afriforum

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.