Probleme uitgestryk nét betyds vir verkiesing, sê OVK

Die afgelope twee dae van spesiale stemme het gehelp om enige groeipyne uit te stryk sodat die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) slaggereed kan wees vir Woensdag se algemene verkiesing, het Sy Mamabolo, hoofverkiesingsbeampte, gesê.

Die leierskap van die OVK het Dinsdagmiddag die media vir oulaas toegespreek by die nasionale verkiesingsentrum in Pretoria voordat stemlokale môre om 07:00 landswyd sal oopmaak vir die sesde nasionale demokratiese verkiesing.

Volgens Mamabolo was daar etlike voorvalle wat die kommissie tydens die afgelope twee dae se spesiale stemmery moes hanteer om te verseker dat môre se verkiesing vlot verloop.

In een só ʼn voorval het ʼn groep gewapende mans ʼn groep verkiesingsbeamptes Dinsdag gedurende ʼn tuisbesoek in Giyani in Limpopo met messe gedreig. Sowat 93 stembriewe is deur die verdagtes verwoes. Niemand is beseer nie en twee verdagtes is reeds in hegtenis geneem in verband met dié voorval.

In Benoni in Ekurhuleni is ʼn verkiesingsbeampte by ʼn stemstasie afgedank nadat ʼn video aan die lig gekom het wat wys hoe die beampte spesiale stembriewe uit ʼn stemsak in ʼn stemboks gooi. Die hantering van enige verkiesingsmateriaal deur party-agente word streng verbied.

Drie ongebruikte stembokse het ook langs ’n pad in Tzaneen in Limpopo beland. Mamabolo het gesê dié stembokse het tydens die vervoer afgeval en hy het verseker dat die areabestuurder wat verantwoordelik was vir dié stembokse geskors is op grond van nalatigheid. Die stembokse is sedertdien terugbesorg aan die OVK.

ʼn Voertuig van die OVK is ook gister by ʼn stempunt naby Ganyesa in die Noordwes aan die brand gesteek is. In nóg ʼn voorval, dié keer in Ikageng by Potchefstroom, is leë bokse wat gebruik word om stembriewe in te gooi by ʼn tent wat as stemlokaal dien aan die brand gesteek.

In ʼn ander geval was sommige stembriewe weer nie gestempel nie. Dié voorval is egter vanoggend deur die bestuur van die OVK bespreek om tot ʼn moontlike oplossing vir dié probleem te kom. Die OVK sal moet besluit of dié briewe getel gaan word of nie. Die belangrikheid van dié stempels is vandag aan belanghebbendes gestuur om te verseker dat alle stembriewe môre gestempel sal wees.

Ten spyte van dié probleme is ʼn beduidende afname in betogings die afgelope week opgemerk, meen die OVK. In die gevalle waar betogings wel opgevlam het, was die polisie vinnig om te reageer om orde te herstel, het Mamabolo gesê.

ʼn Minimum van twee polisiebeamptes sal môre by elk van die 22 924 stemstasies landswyd ontplooi word. Polisie sal ook op hul hoede wees om enige ontwrigtings by dié stemstasies te voorkom.

Mamabolo het gesê die finale getal spesiale stemme is nog nie getel nie aangesien dié stemmery Dinsdagmiddag vertraag is. Hy het die media egter verseker dat alle spesiale stemme teen vanaand getel sal wees.

Hy het wel gesê die OVK het reeds die spesiale stemme van 113 van die 121 buitelandse missies wat op 27 April gestem het ontvang. Die res van die stemme sal na verwagting eersdaags in Pretoria aankom. Dié stemme sal Donderdag getel word.

“Die OVK doen ʼn beroep op elke Suid-Afrikaner om ons 25ste herdenking van demokrasie te vier deur seker te maak dat môre in die gees van 1994 geskied. Laat die verkiesing vreedsaam en sonder ontwrigting verloop,” het Mambolo afgesluit.

“Dit is nou die kiesers se beurt om hul sê te sê. Mag God ons demokrasie, ons land en die verkiesing seën. Ek sê, alle kiesers na die stembus.”

Stemlokale sal Woensdag van 07:00 tot 21:00 oop wees. Alle kiesers wat teen 21:00 nog in die ry is, sal die geleentheid gebied word om te stem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Andreas ·

Groeipyne? En dit is nou die hoeveelste verkiesing? Ek meen, hulle het darem lekker anderpad met die BLF gekyk, OK dit was ook seker ‘n eerste ‘groeipyn’, maar hulle het darem daardie kiesbeampte wat aan die stembriewe geraak het afgedank, hy was so gretig om te help, hy het skoon op sy knieë gegaan.

Andreas ·

Dit als nou NET betyds vir more se verkiesing. NOU kan Cyril ontspan. Wawawa wag, nie so haastig nie, more heel eerste moet hy voorbeeld stel om die hoofopskrifte te vang. En nog so daardie onsekeres te beinvloed, dit is nou die wat twyfel, “moet ek spring, of moet nie spring nie.”

Jacques die Goodwoodianer ·

Ek is oortuig die inhegtenisneming van die vabonte stuur ñ sterk sein deur aan ander kwaadstokers. Haha… Grap net… Niemand steur hul meer aan wet en orde nie.

Felix ·

Blykbaar toe nou nie. Ek lees talle mense het vandag gekla dat hulle na die tyd agter gekom het hul stembriewe was nooit agterop gestempel nie, so dis nou gemors. Ek wonder in watter gebiede dit voorgekom het.

Griet ·

Andreas,dink dit sal jou siel, meer goed doen,om eerder vir prinsie van sussex, n gompou veer te gaan soek…as om jou kop te breek oor politiek+verkiesing…?

Andreas ·

Hehehe. Sien jou by die stembus, moet nou eers ernstige saak gaan afhandel. Groetnis.

Arno ·

Verkiesing is n klug. Dit sal nooit regverdig of eerlik wees nie. Haal eerder die oogklappe af en sien die vrot vir wat dit is. Die land is weg vir altyd want ons kan nie saamstaan nie.

Adrian ·

OVK lieg. Ebotse, Rynfield Benoni stembus uit stembriewe uit…teen 09h00.!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.