Proteas in Pakistan vir eerste toer in 14 jaar

Polisiekommandos staan wag terwyl die Proteas se bus die hotelperseel binnery. (Foto: Rizwan Tabassum/AFP)

Die Suid-Afrikaanse krieketspan het Saterdag in Karatsji aangekom vir twee toetse en drie T20-wedstryde – die Suid-Afrikaners se eerste toer na Pakistan in 14 jaar.

Die span, gelei deur Quinton de Kock, is blitsvinnig onder streng veiligheidsmaatreëls by die lughawe weg.

Die span van 21 lede het twee Covid-19-toetse ondergaan voor hulle in Johannesburg vertrek het – almal het negatief getoets – en hulle sal ná hul aankoms weer getoets word.

Amptenare sê die span sal in individuele isolasie bly tot die uitslae van die eerste ronde toetse beskikbaar is, voor hulle op ʼn perseel aangrensend aan die hotel sal begin oefen.

‘n Polisiebeampte buite die Proteas se hotel in Karatsji. (Foto: Rizwan Tabassum/AFP)

Pakistan en Suid-Afrika speel die eerste toets op 26 Januarie in Karatsji. Die tweede toets word van 4 Februarie in Rawalpindi gespeel, terwyl Lahore gasheer sal wees vir al drie T20-wedstryde wat op 11, 13 en 14 Februarie gespeel word.

Hoofafrigter Mark Boucher het sy tevredenheid met die veiligheidsreëlings te kenne gegee.

“Ons het ons [sekerheids-]ouens vooraf gestuur om ʼn opsomming van die situasie te doen en hulle het gesê dit is veilig,” het Boucher voor die span se vertrek Vrydag gesê.

“Van my kant af is daar geen kwessies nie. Ons moet daar uitkom en begin krieket speel,” het Boucher, ook deel van Suid-Afrika se laaste toer na Pakistan in 2007, gesê.

Internasionale krieket in Pakistan is opgeskort na ʼn terreuraanval op die Sri Lankaanse spanbus in Lahore in Maart 2009.

Pakistan het geleidelik weer spanne begin terug verwelkom in die vyf jaar voor toetskrieket weer laat in 2019 aan die gang gekom het en Sri Lanka die land vir twee toetse besoek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Die Wolf ·

Net opmerklik die nuwe swart drag. Begin dalk al klaar rou. Wonder of hulle ook in swart gaan speel?

Anton ·

Ek veroordeel SA Krieket se toer na Pakistan. Hulle is in die top 5 lande wat Christene vervolg

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.