Proteas kan geskiedenis maak

Heinrich Klaasen en Quinton de Kock se kolfwerk sorg vir ’n welkome momentum-inspuiting. (Foto: Indranil Mukherjee/AFP)

Die Proteas speel oor net ʼn paar uur in die halfeindstryd van die Wêreldbeker-toernooi teen Australië in Kolkata.

Normaalweg sorg die Suid-Afrikaners se deelname aan Wêreldbeker-uitklopwedstryde vir meer drama en hartseer as jou deursnit- Portugese telenovela, maar kenners meen dat dié Protea-span dalk vir ʼn verrassing of twee kan sorg.

ʼn Plek in die eindstryd van die internasionale krieketskouspel is immers op die spel.

“Dit is 100% binne die span se vermoë om die Wêreldbeker te wen,” het Stephan Myburgh, voormalige Nederlandse krieketster, aan Maroela Media gesê.

“Hulle het die afgelope jaar of twee gewys dat hulle met enige span kan afreken wanneer hulle op hul beste is.”

Dr. Jacques Faul, uitvoerende hoof van die Titans, stem heelhartig met hom saam.

Volgens die bekwame krieketadministrateur – wat destyds ook Krieket Suid-Afrika se bootjie na ʼn veiliger hawe moes begelei – is kolfwerk deesdae een van die grootste sleutels tot die Proteas se sukses.

Aiden Markram het vroeër ’n barshou teen Sri Lanka gespeel. (Foto: Sajjad Hussain/AFP)

“Daar is beslis meer dinamiet in ons kolforde. As ʼn mens praat van spelers wat die bal hard kan slaan, het ons nog nooit spelers van die kaliber van Quinton de Kock, Aiden Markram, Heinrich Klaasen en David Miller in dieselfde span gehad nie,” het Faul gesê.

“As ek dit met die 1999-Wêreldbeker kan vergelyk, het ons eintlik net vir Herschelle Gibbs gehad wat vinnig kon kolf en dan natuurlik vir Lance Klusener.”

Die veelsydige Klusener het destyds met sy sesslaanvermoë in Engeland gereeld die kastaiings uit die vuur gekrap vir die Suid-Afrikaners.

“Nou het die Proteas as’t ware vier Lance Kluseners in die span,” is Faul se raakvatopsomming.

Die groot “C”-woord

Natuurlik hang die choke-etiket nog swaar om die Proteas se nekke en baie ondersteuners meen dat hulle eers van dié krieketbrandmerk ontslae sal raak wanneer hulle met die uiteindelike Wêreldbeker-louere wegstap.

Tog stem nóg Myburgh nóg Faul daarmee saam.

“In ʼn Wêreldbeker speel jy teen die bestes en ja, Suid-Afrika het al vantevore in uitspeelwedstryde die onderspit gedelf, maar ek dink nie die choke-etiket is regverdig nie. Ek glo in elk geval dit is net ʼn term wat die krieketpubliek gebruik en dit is nie noodwendig iets waaraan die spelers soseer dink nie,” het Myburgh gesê.

(Foto: Twitter/KSA)

Volgens Faul is daar in elke liewe Wêreldbeker-wedstryd ʼn wenner en ʼn verloorder.

“Word Engeland – die verdedigende kampioenspan – se swak vertonings nou aan choke toegeskryf? Waarskynlik nie. Sport gaan maar gepaard met druk en daar is spanne wat wen en spanne wat verloor.”

Om sy stelling te staaf het hy na die eendagreeks tussen Suid-Afrika en Australië in aanloop tot die Wêreldbeker-toernooi verwys.

Die Aussies het ná twee agtereenvolgende oorwinnings hul voorsprong weggesmyt om uiteindelik die reeks met 3-2 te verloor.

“Het hulle gechoke? Hulle het dan net een sege benodig om die reeks te beklink. Ek dink dit is ʼn term wat sy oorsprong uit die woede en hartseer van ondersteuners geniet. Indië is ʼn ongelooflike span wat voor sy tuisskare speel en Australië is ʼn baie goeie span; soms verloor jy maar net ʼn krieketwedstryd.”

Om ʼn Wêreldbeker te wen is nie maklik nie

Rohit Sharma en sy Indiese spanmaats wag reeds Sondag in Ahmedabad op die span wat vandag se halfeindstryd wen.

“Ons is goed genoeg om die Wêreldbeker te wen, maar daar moet natuurlik ʼn paar dinge in ons guns tel. Indië het volgens my nog nie ʼn swak wedstryd in die toernooi gehad nie en ons sal beslis op ons heel beste teen hulle moet wees.”

“Ek glo ons het ʼn beter kans om nou vir Australië te klop. ʼn Mens kan hulle egter met die Springbok-rugbyspan van wêreldkrieket vergelyk – hulle vind net ʼn manier om die wa deur die drif te trek,” het Faul gesê.

Volgens Myburgh is daar ʼn belangrike faktor wat in die Proteas se guns tel.

“In baie van die vorige Wêreldbeker-toernooie het hulle onder die gunstelingspanne getel om die silwerware omhoog te hou. Vanjaar se span word dalk eerder as die buiteperd beskou en dit gee vir die spelers meer vryheid om hul natuurlike spel te speel.”

  • Die halfeindstryd begin om 10:30. Volgens weervoorspellers is daar reën in die lug en indien geen spel moontlik is nie, kan die Proteas ʼn direkte roete na die eindstryd volg omdat hulle bó Australië in die groepfase geëindig het.

Die Proteas het sewe van sy nege groepwedstryde in Indië gewen. (Foto: Punit Paranjpe/AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Waarom ·

Ek vermoed die knieg buigers gaan weer die knieg buig teen Aus vandag.

Frank ·

George, Bavuma is uit vir 0. Begin dit stadigaan vir jou duidelik raak hoekom ons ander ondersteuners hom nie in die wedstryd wou gehad het nie? Onthou ook asb sy WB gemiddeld is 20 (voor die duck)

Riette ·

72 / 4 na 23 beurte lyk glad nie vir my na ‘n oorwinning nie. De Kok en Bavuma uit vir 3 en 0.

Casper ·

Net die volgende kommentaar.het die Proteas al ooit in ‘n finaal gespeel,nee want hulle maak altyd staat op prestasies van ‘n paar spelers.
2 Hulle vorder tot by die semi-finaal en dan val hulle vas.
Choakers sal hulle altyd wees.
Gelukkig treë de Kock uit want hy misluk altyd as die span hom die nodigste het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.