R100 000-beloning ná DA-man se moord

Raadslid Nhlalayenza Ndlovu. (Foto: Facebook)

Die uMngeni-munisipaliteit in KwaZulu-Natal het Woensdag ʼn R100 000-belonging uitgeloof vir inligting wat tot die skuldbevinding van die moordenaars van raadslid Nhlalayenza Ndlovu sal lei.

Ndlovu, die DA se hoofsweep in die munisipaliteit, is Dinsdagaand koelbloedig in sy huis doodgeskiet, terwyl sy vrou, kinders en hul oppasser teenwoordig was. Nie minder nie as tien skote is na bewering afgevuur voordat Ndlovu se moordenaars op die vlug geslaan het.

Chris Pappas, die burgemeester, sê Ndlovu is nóg ʼn slagoffer van die wetteloosheid en geweld wat in die land en binne die politieke stelsel heers.

“Ndlovu kan nie nóg ʼn statistiek word in die voortslepende slagting van raadslede in KwaZulu-Natal nie,” sê Pappas.

Die burgemeester het ʼn skrywe aan verskeie owerhede gestuur, insluitend die minister van polisie, oor die saak, maar nog geen terugvoer ontvang nie.

Hy sê die munisipaliteit sal saam met die polisie werk om te verseker dat die saak deeglik ondersoek word.

In hierdie stadium is die motiewe agter die aanval nie duidelik nie, maar volgens Pappas is daar inligting wat daarop dui dat dit dalk ʼn huurmoord was wat plaaslik georganiseer is.

“Die raadslid het ook verlede week ʼn persoon uitgewys wat hy geglo het ʼn bedreiging vir sy veiligheid was. Ek het reeds hierdie inligting aan die polisie verskaf,” sê hy.

Pappas het sy medelye met Ndlovu se geliefdes betuig, wat eers later die besonderhede oor sy begrafnis bekend sal maak.

Die munisipaliteit sal ʼn afsonderlike gedenkdiens in oorleg met Ndlovu se familie hou.

Pappas het Ndlovu as “ʼn vredemaker” beskryf “wie se kalm houding en volwasse benadering tot gemeenskapsverwante sake van sy mees onvergeetlike kenmerke as ʼn leier was”.

“Sy opoffering vir die gemeenskap sal ons aanvuur om aan te hou veg vir ʼn beter munisipaliteit en provinsie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

KB ·

Hulle hoef nie ver te soek nie.
Óf hulle egter deur “sekere politici en hooggeplaastes” verhinder gaan word in hul taak, is die grootste struikelblok.

Seder op die horison ·

Belonging uitgeloof – nou krap ek kop
Beloning dalk uitgeloof :-)

Yvonne ·

Here wees ons genadig…..as ek U woord lees dan weet ek U is bewus van alles…vergelding vir ons dade kom….daarvan kan ons seker wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.