R30 miljoen se dwelms by grens gekry

Die Lebombo-grenspos tussen Suid-Afrika en Mosambiek (Foto: Departement van openbare werke)

ʼn Besending dwelms ter waarde van byna R30 miljoen is die afgelope naweek in Suid-Afrika uitgesnuffel nadat dit glo deur die Mosambiekse grenspos die land probeer binnekom het.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê ʼn vragmotor vol kokaïen is Saterdag om 10:00 by die Lebombo-grenspos onderskep voordat dit Suid-Afrika binnegekom het. Die betrokke vragmotor het glo ʼn Gautengse registrasienommer.

“Die vragmotorbestuurder het na bewering sy besending as haarstukke verklaar,” sê hy.

“Nadat die vrag goedgekeur en deurgelaat is, is die vragmotor egter met die hand gekies vir verdere inspeksie deur doeanebeamptes.”

Volgens die betrokke beamptes het die bestuurder weg van die vragmotor beweeg onder die voorwendsel dat hy die eienaar van die vragmotor in die hande probeer kry.

Doeanebeamptes het Saterdag op die dwelms afgekom. (Foto: Verskaf)

Hy het daarin geslaag om voor neus en oë te verdwyn voordat die beamptes op 200 kg dwelms, vermoedelik kokaïen, wat in die vragmotor versteek was, afgekom het.

“Daar is op die vragmotor en die besending beslag gelê vir verdere ondersoek,” sê Mohlala.

“Nog niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie, maar die polisie is in die proses om die vragmotorbestuurder en die eienaar van die voertuig op te spoor.”

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris van Mpumalanga, het nietemin beamptes se pogings geloof om die onwettige dwelms van die strate af te haal.

“Sedert die betrokke grenspos verlede week besoek is om die stand van gereedheid voor die feestyd te evalueer, het alle belangegroepe hulle daartoe verbind om te verseker dat misdaad by die grenspos bekamp word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Di ·

Goed gedoen! Om effektief te wees behoort elke liewe trok deursoek word. Kriminele het MAK geword omdat hulle weet daar is nie rerig streng beheer op die grensposte nie. Dan praat ons nie eers van al die korrupte beamptes wat daar werk nie.

Sobymykoolkop ·

Soos jy sou lees het hy voor ” neus en oë verdwyn. 100 lag gesiggies daarby.

Lillian ·

Dis mos lekker in SA, hier maak kriminele mos soos hul wil.

As die polisielede ook net bietjie verder gedink het, kon hulle daai ou onder oë gehou het, hyt nie verniet so weggestaan van die trok nie, hy’t goed geweet wat daarin versteek is.

Niklaas ·

En daar het die trok bestuurder rustig weggestap en verdwyn. Nou sal die hoof van die sindikaat nooit opgespoor word nie.

Jacobus ·

Die bestuurder is seker aangese deur doanebeanptes om te verdwyn. Waar gaan hulle hom nou kry?

JM ·

Waarom is die vragmotorbestuurder nie onmiddellik in hegtenis geneem nie? Stadig om te dink en te reageer! Red ‘n volk …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.