R303-pad na Citrusdal weer oop ná oorstromings

Die R303-toegangspad na Citrusdal is Sondag weer vir verkeer oopgestel ná grootskaalse vloedskade. (Foto: Verskaf)

Die R303-toegangspad na Citrusdal is Sondag weer vir verkeer oopgestel nadat dit onlangs erg deur oorstromings weens grootskaalse reën in die provinsie beskadig is.

Dele van dié pad, wat Citrusdal met die N7-hoofweg verbind, was heeltemal verwoes toe die Olifantsrivier oorstroom het.

Inwoners van dié Wes-Kaapse dorp, van wie sommiges al 28 jaar daar woon, het vroeër die week aan Maroela Media gesê dat “Citrusdal nog nooit so baie water gesien het nie”. Inwoners was dae lank van die res van die wêreld afgesny met al die toegangspaaie na en van die dorp wat oorstroom was.

Die massiewe skade aan infrastruktuur het dringende herstelwerk genoop.

Inwoners kon teen verlede Sondag (18 Junie) die alternatiewe Ceres- en Clanwilliam-pad gebruik, wat egter net ʼn eenbaanpad is. ʼn Private laagwaterbrug by Mouton Citrus se pakhuis is ook vir motoriste oopgestel. Die R303-hoofpad was egter steeds gesluit en is ook van die paaie wat die ergste in die gebied beskadig is.

Die R303-toegangspad na Citrusdal is Sondag weer vir verkeer oopgestel ná grootskaalse vloedskade. (Foto: Verskaf)

Tertuis Simmers, die DA se provinsiale leier in die Wes-Kaap, het Sondag gesê hy is “verheug” oor die vordering van die dringende herstelwerk aan die R303.

“Die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur het nou saam met die Weskus-distriksmunisipaliteit gewerk om die pad te herstel. Werk om die pad te herstel en weer oop te stel het tien dae geduur sedert dit weggespoel het. Verkeer sal nog vir ʼn rukkie op ʼn grondpad ry terwyl herbouings voortduur.”

Die R303-toegangspad na Citrusdal is Sondag weer vir verkeer oopgestel ná grootskaalse vloedskade. (Foto: Verskaf)

Boffie Strydom, burgemeester van die Weskus-distriksmunisipaliteit, het die samewerking tussen die provinsiale regering, plaaslike regering, Cederberg-munisipaliteit en private sektor geloof, en sê die vinnige herstelwerk dien as bewys van wat vermag kan word wanneer daar goeie samewerking plaasvind.

Simmers sê die heropening van die pad sal die gemeenskap weer met die res van die provinsie verbind, en dit moontlik maak vir ekonomiese aktiwiteite om weer vlot voort te gaan.

“Hoop word verder in die Citrusdal-omgewing geskep namate groter toegang tot noodsaaklike dienste weer beskikbaar word. Diegene wat vir mediese prosedures na Kaapstad moet reis, kan nou soos beplan voortgaan.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Robert ·

Maar in Natal is baie paie nog steeds onbegaanbaar na hulle vloede… wys jou net wat effektiewe bestuur van ‘n provinsie kan doen waar daar ‘n wil is om diens te lewer. Well done KPA geelspan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.